Die ondersteuning en ontwikkeling van talent lê Aardklop en Atterbury Trust beide na aan die hart.

Tydens Kunste Onbeperk se pasafgelope Teksmark, het een jong skrywer die gehoor en teaterkenners laat regop sit. Die teaterstuk “mank” is ‘n dapper poging om gesprek rondom studenteprotes en die #Feesmustfall-beweging oop te maak.

Dit is ‘n oorlog, ja. Ek gee nie om wat jou posisie is nie, dis ‘n oorlog in jou land. Dis ‘n oorlog waarin kinders se tonge uitgesny word. Hande gebind word. Later gearresteer word. Dis ‘n oorlog van taal, van woorde, van iets noem. (Kanya Viljoen)

Dit is dus vir Aardklop en Atterbury Trust ‘n voorreg om aan Kanya Viljoen die geleentheid te bied om haar teks volledig te ontwikkel, deur middel van ‘n teksbeurs.

“Teater se een doel is: Kom ons praat, kom ons vra vrae, maar veral – kom ons luister. Alle sinvolle teater begin by een enkele ding: ‘n teks. ‘n Skrywer met ‘n spesifieke stem wat die moed het om te gaan sit, en homself bloot te stel, is die onvervangbare eerste, die fondament. Daarná kom die regisseur, die akteurs, die ontwerpers, maar sonder die teks wat die werklike inhoud en debat aan die gang sit, is daar niks, daar is blote versiering. Maar hoe moet skrywers oorleef, wat sal maak dat hulle aanhou delf en dink?” (Alexa Strachan, Aardklop)

“Ons is passievol oor Afrikaans, kuns en kultuur en oor die noodsaak van opvoeding, Daarom het die Atterbury Trust oor die afgelope 20 jaar al meer as 600 studiebeurse aan behoeftige Afrikaanse studente toegestaan. Daar lê krag in die skep van geleenthede. Kanya was een van ons beursstudente wat die geleentheid met albei hande aangegryp het. Sy het verlede jaar haar Dramagraad aan die Universiteit van Kaapstad Cum Laude verwerf. Ons belê graag verder in haar toekoms en glo dat haar nuwe stem ‘n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat in ons land gaan lewer.” (Zahn Hulme, Atterbury Trust)

Aardklop vind vanjaar van 2-7 Oktober in Potchefstroom plaas.
Produksiekaartjies is beskikbaar by Ticketpro.
Vir meer inligting besoek ons webblad www.aardklop.co.za of volg ons op Facebook.