Hoewel Aardklop vanjaar weens die COVID-19 pandemie gesneuwel het, is besluit om wel voort te gaan met die tiener- en studenteplatform Pronk Podium. En wat ’n wonderlike versameling opvoerings het dit nie tot gevolg gehad nie! Ons gesels met feesbestuurder Alexa Strachan oor die uitdagings, die verrassings en die onverwagse voordele wat saam met die heel eerste aanlyn weergawe van die kompetisie gekom het.

Hoe het julle besluit om steeds met Pronk Podium voort te gaan ondanks Aardklop se kansellasie?
Ons is geseënd met ons projekbestuurders Stage Alive, wat al van die begin betrokke is, en NWU Kunste, wat ook nou saamwerk met die studente. Almal was net so opgewonde om, kom wat wil, ’n manier te vind vir jongmense om iets tasbaar te kan doen in hierdie beproewende, isolerende jaar waar deure net voor hulle toegeklap het. Jongmense is aanpasbaar en vindingryk, so ons het gereken hulle sal meer geneë wees om deel te neem aan ’n aanlynkompetisie. Ons was reg, en hulle was geweldig entoesiasties en ontsettend kreatief. Hulle het uit die boks uit gedink; die jeug doen in elk geval so baie aanlyn, hulle het dié projek dus só aangepak – op Zoom gerepeteer en tekste ontwikkel en so meer.

Hoeveel belangstelling was daar van jongmense?
Weens COVID en omdat ons dit moes beperk tot eenmanstukke, het ons die shows se lengte ook verkort. Dit sit nie in elkeen se broek om ’n eenman- of eenvroustuk aan te pak nie; baie professionele akteurs sien nie daarvoor kans nie, want dit is baie alleen voor die kamera of die gehoor, en verg geweldig baie van ’n akteur. So ons was regtig beïndruk dat soveel jongmense die guts hiervoor gehad het! Meer as 80 tiener- en studenteproduksies het ingeskryf; en vanjaar het die tienerproduksies veral uitgestaan. Die beoordelaars moes regtig kopkrap, en dit het selfs gebeur dat die toekenning vir die beste regisseur van ’n tienerproduksie tussen Wentelkind en Kou-vid gedeel word.

Wat het jou opgeval omtrent die kaliber van produksies wat ingeskryf is? Was daar temas wat gedomineer het?
Dit was interessant – die jong teatermakers was baie kreatief. Die meeste stukke wat deurgegaan het na die semifinale en die finale was nuwe, oorspronklike stukke, en dit het tematies omgegaan met die huidige realiteit waarin ons ons bevind. Dit was tot ’n mate die jaar van die komedie, wat nie gewoonlik die geval is nie – dis selde dat komedies deurgaan na die finale rondtes. Ek wonder of dit is omdat almal ’n mate van ontvlugting gesoek het, om eerder ligter om te gaan met ons verskriklike moeilike en hartseer realiteit…

Vertel ons meer van die algemene wen-produksie. Wat het dit bo die ander laat uitstaan? Wat kan jy ons omtrent die aktrise en die regisseur vertel?
Kou-vid het op absoluut alle vlakke uitgestaan in terme van die afronding van die totale produksie. Dit is ’n komiese stuk, ontsettend professioneel, en die regisseur, Marista van Eeden, het baie kundig gewerk met die beperkte stel wat tot hulle beskikking was. Tematies was dit interessant, want dit het so ’n bietjie die draak gesteek met die pandemie, hoewel dit nie onsensitief gedoen is nie. So baie mense sê dat hulle in hierdie pandemie gewig opgetel het omdat hulle nie kon oefen nie, of minder aktief was, of net bloot te depressief om gemotiveerd te bly, en die stuk het die draak gesteek hiermee; met ’n vrou wat letterlik net aan die eet gaan. Die aktrise, Diandra Slabbert, se vertolking was uitstekend. Ek het gelê soos ek lag; sy was so deksels snaaks. En tog is daar diepte in die stuk; dis nie net ligte vermaak nie, en dit het mens gelaat met “food for thought”, wat mens van goeie teater wil hê.

Diandra is in matriek by Hoërskool Zwartkop, en sy het toevallig verlede jaar die ligte gedoen vir die wenproduksie by Pronk Podium. Sy het gesê dat sy net so dankbaar was dat sy in haar laaste jaar op skool die kans gekry het om darem aan iets konkreet deel te neem.

Die stuk is geskryf deur Marista van Eeden, wat saam met twee ander ook die regie behartig het; sy het by Afda gestudeer en al ‘n hele paar tienerproduksies geskryf; ook baie talentvol.

Jy het genoem dat daar besliste voordele was aan hierdie gedwonge aanlyn-weergawe. Vertel meer?
Skole, skoliere en studente van regoor die land kon aan die uitdunrondtes deelneem sonder dat dit ’n klomp geld of logistieke reëlings geverg het. Hulle hoef nie deurgery het vir ‘n streeksfees soos ons gewoonlik het nie, en dit het dit vir soveel meer mense moontlik gemaak om aan die kompetisie deel te neem. Ons oorweeg beslis om in die toekoms ’n weergawe hiervan te behou om sodoende die kompetisie vir mense vanuit ’n wyer poel toeganklik te maak. En veral ook vir mense wat nie noodwendig die finansiële vermoë of die infrastruktuur – die ma en pa of wonderlike kultuuronderwyser of kultuurafdeling by die skool – het om by ‘n streekfees uit te kom nie.

 

Die wenners is:
Beste algehele produksie: Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
Beste studenteproduksie: Sharrap en eet jou kos!
Beste tienerproduksie: Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
Beste algehele aktrise: Diandra Slabbert – Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
Beste algehele tegniese versorging: Wentelkind (Hoërskool Parel Vallei)
Beste tiener aktrise: Diandra Slabbert – Kou-vid (Hoërskool Zwartkop)
Beste studente akteur: Dylan le Roux – Skilderlig
Beste regisseur van ’n tienerproduksie: Marista van Eeden en Pieter Alberts (Kou-vid) en Darryl Spijkers (Wentelkind)
Beste regisseur van ’n studenteproduksie: Franciska van der Merwe en Pierre-André Viviers (Sharrap en eet jou kos!)

Alle produksies is steeds te koop tot 1 Oktober 2020 by Ticketpro, https://www.ticketpros.co.za/portal/web/index.php/home/