Agter: Vasti Kirchner (Vibro Bricks & Paving), Leonie du Preez, Jani Doms, Ananja Koen (almal van Atterbury Trust), Herman Marx (Vibro Bricks & Paving), Lood Bester en Louis van der Watt
Voor: Mariaan Keulder (StartupClub), Zahn Hulme

Die COVID-19 pandemie het baie swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad.

Terugploeg is een so ’n idee wat nou tot sy volle reg gekom het. Volgens Lood Bester, mede-stigter van Terugploeg, is hierdie konsep gebore in gesprekke tussen hom en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks.

Bester sê toe hulle gedurende die inperking bewus geraak het van die enorme kosnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie, wou hulle graag help. “Reg aan die begin het ons kos aangekoop, wat ons dan self in van hierdie gemeenskappe rondom ons versprei het. Later het ons gaan aanklop by ons boere-vriende om ons idees met hulle te deel. Almal het dadelik ingestem om vir ons kos te skenk. So stuur ons byvoorbeeld deesdae een van Herman se trokke na ’n plaas toe, wat ons skenkers vol laai met tussen 3 en 8 ton groente of vrugte. Dit word daarna by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar word die kos verdeel in kleiner porsies, op bakkies gelaai en verder versprei onder ouetehuise, kinderhuise en skole wat ons geïdentifiseer het, waar daar spesifiek kosnood is.”

Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, pas die Terugploeg inisiatief gemaklik in by die ander liefdadigheidsprojekte wat vanuit die trust bestuur word. “ ’n Maand of wat nadat Lood en Herman die inisiatief van stapel gestuur het, het hulle met die Atterbury Groep se hoof uitvoerende beampte Louis van der Watt ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

“Die voordeel van die verbintenis is dat die trust meer as twee dekades se ervaring van liefdadigheids-projekadministrasie het, asook die infrastruktuur om sulke teruggee-projekte effektief te bestuur. Ons is ook trots op ons reputasie vir betroubaarheid en deursigtigheid.”

Terugploeg het so vinnig gegroei dat hulle reeds uit hul nate bars. “Ons het gou besef dat ons ’n goed toegeruste en maklik toeganklike perseel nodig het sodat ons groot hoeveelhede kos op een slag kan ontvang, kan verwerk indien nodig, en kan berg tot tyd en wyl ons dit wil uitdeel,” verduidelik Bester.

“Ons het agtergekom dat as dit kom by voedingsprogramme is die kontinuïteit van ’n bord kos elke tweede dag baie belangriker as ’n hele wavrag kos wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste of bokke skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk, en kan stoor sodat ons dit selektief kan uitdeel waar dit nodig is.”

Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, het hierdie groot struikelblok uit die pad gerol deur agt hektaar grond in die ooste van Pretoria – teen die N4, digby die Rayton afrit – aan Terugploeg beskikbaar te stel. “Ons kan hierdie perseel nou gratis gebruik om ’n hoofkantoor vir Terugploeg te vestig,” sê Bester.

Benewens die kosverwerkings-fasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Bester-hulle beplan verder om braaihout daar te laat sny en verpak vir verkoop. “Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien,” vertel hy opgewonde.

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin kursusse en praatjies aanbied kan word om beide skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Die opening van die nuwe terugploeg fasiliteit word vir Mei 2021 beplan, met konstruksie wat reeds in Januarie volgende jaar afskop.

Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met mediavennoot GrootFM 90.5 in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur verskeie kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon.

Hoe die publiek kan help

Aangesien die konstruksie van die Terugploeg-gebou binnekort begin, sal skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal verwelkom word – bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting, vleisverwerkingsmasjinerie, ens.

Kontant-skenkings is ook welkom.

Alle skenkings kwalifiseer vir ’n 18A-belastingsertifikaat uitreik deur Atterbury Trust, om dit belasting-aftrekbaar te maak.

As jy kan help, of meer wil weet oor Terugploeg, kontak vir Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212 of epos hulle by [email protected] of [email protected]

Vir kontant-skenkings:

Rekening: Atterbury Trust
Nedbank: 1497004187
Takkode: 149745

Terugploeg-statistieke

  • Organisasies gehelp: 25
  • Kos geskenk: 51 ton
  • Etes bedien: 204 000

Huidige skenkerslys

  • Boela Bruwer Boerdery
  • CPJ Erasmus Boerdery
  • Eskort
  • Meletse Breeders
  • Fontis Ontwikkelaars
  • GoGo Groep
  • GROOTfm 90.5
  • Kairos
  • Mahela Boerdery
  • Miami Canners
  • Morgan Group
  • Rossgro boerdery
  • Silverton Sign-A-Rama
  • Tiaan Kruger Boerdery
  • Van Huyssteens Prokureurs
  • Velile Tinto & Associates
  • Vibro Bricks and Paving
  • WeBuyCars
  • ZZ2

 

MEDIA KONTAKPERSOON

Zahn Hulme, [email protected], 082 325 9225