Die eerste sooi van Terugploeg se nuwe verpakkings-, verwerkings- en verspreidingsfasiliteit is op Woensdag 24 Februarie 2021 gespit. Die ontwikkeling is strategies langs die N4-hoofweg geleë, naby die Cullinan/Rayton-afrit. Die sooispitseremonie is deur verteenwoordigers van Terugploeg se stigterorganisasies, Atterbury Trust, Vibro Bricks en WeBuyCars, sowel as ’n aantal donateurs, boere en konstruksiespanne, bygewoon.

Lood Bester, ’n medestigter van Terugploeg, sê die idee vir die Terugploeg-organisasie het tydens die grendeltyd ontstaan. “’n Groeiende kosnood is in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe opgemerk. Hierdie hulpbehoewendes het geen ondersteuning vanaf amptelike bronne ontvang nie.”

Bester en sy vriende het ingespring en hulle informele voedselinsamelingsaksies het vinnig momentum ontwikkel. Só is ’n netwerk van boere ook betrek. Boere van so ver as Letsitele en Groblersdal het betrokke geraak en tonne groente, vrugte en wildsvleis geskenk. Die voorraad is by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar is die kos verdeel in kleiner porsies en met Vibro-bakkies onder ouetehuise, kinderhuise en skole uitgedeel. Instansies is geverifieer om egte nood te bepaal en om te help waar dit die nodigste is.

Terugploeg het sodoende ontstaan as ’n netwerk weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om voedsel aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe te verskaf om honger te bestry.

’n Groter droom het ook mettertyd posgevat. Terugploeg se visie is nou om as ’n volhoubare organisasie te ontwikkel wat ook werk aan mense uit hierdie gemeenskappe kan verskaf, sodat hulle kan droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes en Terugploeg se hulp wat werk kan hiermee behulpsaam wees.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, pas Terugploeg gemaklik in by die ander liefdadigheidsprojekte wat vanuit die trust bestuur word. “’n Maand of wat nadat Lood en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks die inisiatief van stapel gestuur het, het hulle met Louis van der Watt, Atterbury Groep se hoof- uitvoerende beampte, ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

“Die voordeel van die verbintenis is dat die trust meer as twee dekades se ervaring van liefdadigheids-projekadministrasie het, asook oor die infrastruktuur beskik om sulke teruggeeprojekte effektief te bestuur. Ons is trots op ons reputasie van betroubaarheid en deursigtigheid. Dieselfde geld vir Terugploeg.”

Die Terugploeg-onderneming het so vinnig gegroei dat dit reeds uit sy nate bars. “Ons het gou besef dat ons ’n goed-toegeruste en maklik-toeganklike perseel nodig het om groot hoeveelhede kos op een slag te kan ontvang, verwerk, stoor en uitdeel,” verduidelik Bester.

“Ons het ook geleer dat die kontinuïteit van ’n bord kos elke tweede dag belangriker is as ’n hele wavrag voedsel wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste of bokke skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk en kan bêre sodat ons dit selektief kan uitdeel waar nodig.”

Faan en Dirk van der Walt, stigters van WeBuyCars, het hierdie groot struikelblok uit die pad gerol deur agt hektaar grond in die ooste van Pretoria aan Terugploeg beskikbaar te stel. “Vandag vestig ons hier ’n Terugploeg-hoofkantoor,” sê Bester.

Benewens die kosverwerkingsfasiliteit en koelstoor, word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Bester-hulle wil ook braaihout daar laat sny en verpak vir verkoop. “Al hierdie funksies het arbeid nodig: om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… Dit is ’n lang lys. Só skep ons dus ook werksgeleenthede vir die mense uit die gemeenskappe wat ons dien.”

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig waarin kursusse en praatjies aangebied kan word om skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met GrootFM 90.5 as mediavennoot in die Atterbury Teater bekend gestel. Die geleentheid is deur sowat 200 kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon. Aanbiedinge van ondersteuning stroom sedertdien in.

Hoe jy kan help
Aangesien die konstruksie van die Terugploeg-gebou binnekort begin, word skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal verwelkom. Bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting, vleisverwerkingsmasjinerie, ens. word dringend benodig.

Kontant-skenkings is altyd welkom
Atterbury Trust reik 18A-belastingsertifikate uit vir almal wat aan Terugploeg skenk, sodat die belastingvoordele van ’n skenking benut kan word.

As jy wil help of meer wil weet oor Terugploeg, kontak vir Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212. E-pos hulle by [email protected] of [email protected]

Kontantskenkings
Rekening Atterbury Trust
Nedbank 1497004187
Takkode 149745

Terugploeg-statistiek

  • Organisasies gehelp: 25
  • Kos geskenk: 73 ton
  • Etes bedien: 292 000

Huidige skenkerslys

  • Boela Bruwer Boerdery
  • CPJ Erasmus Boerdery
  • Eskort
  • Meletse Breeders
  • Fontis Ontwikkelaars
  • GoGo Groep
  • GROOTfm 90.5
  • Kairos
  • Mahela Boerdery
  • Miami Canners
  • Morgan Group
  • Rossgro Boerdery
  • Silverton Sign-A-Rama
  • Tiaan Kruger Boerdery
  • Van Huyssteens Prokureurs
  • Velile Tinto & Associates
  • Vibro Bricks and Paving
  • WeBuyCars
  • ZZ2