Atterbury beursstudent Ansa van der Watt is in haar vierde jaar by die Universiteit van Kaapstad, waar sy opera bestudeer.

Vertel ons iets van jou agtergrond.
Ek’s van die Paarl, waar ek in Paarl Girls’ High gematrikuleer het, en ek het ‘n ouer broer. Ek woon nou in Woolsack koshuis, wat drie minute se stap is van die kampus af; dis baie gerieflik. Ek kry einde vanjaar my graad, BMus in Performance – Opera.

Hoe het jy by Atterbury se beurs uitgekom?
As ek reg onthou het my ma van die beurs gehoor op die radio. Sy het verder daaroor uitgevind en my aangespoor om aansoek te doen. Dankie tog vir ouers!

Opera studeer is nie vir sissies nie… vertel ons wat maak jou studies in besonder uitdagend?
Om heeltyd voor mede-studente te moet opstaan en sing en jou stem saam met hulle te leer ken is vir my uitdagend. ‘n Mens se stem is so ‘n persoonlike deel van jou en dit vat moed om voor ander te eksperimenteer en foute te maak. Dan ook die lang ure wat ons moet repeteer, en ook die laat aande as ons optree. Dis uitdagend en ons word moeg, maar dis ook die lekkerste deel van my studies. Mens vorm so ‘n spesiale band deur soveel tyd saam deur te bring en niemand anders te sien nie – ek sal dit vir niks ruil nie. EN ons kan vir ses ure elke dag opera luister!

Hoe hanteer jy die druk van openbare optrede – enige geheime?
Ons het klasse waar ons leer wat om te doen voor ‘n optrede om meer in beheer te wees van ons senuwees en liggaam. Enigiets van Pilates tot net eenvoudige asemhalingtegnieke werk; almal het maar hulle eie roetine voor ‘n optrede. Dis belangrik dat jy leer hoe om jou “stage fright” om te sit in adrenalien. Ek hou daarvan om in stilte êrens te sit, te bid en nie te veel te dink nie. As ek ‘n verkeerde noot of woord sing, maak ek maar net of dit so moes wees. “Fake it till you make it.”

En wat geniet jy die meeste?
Natuurlik is die beste deel dat ek elke dag klas toe gaan en kan sing. Ek’s ook hierdie jaar die opera-administrateur, so ek reël alles en maak seker studente weet wat aangaan. Ek is mal daaroor! Dis lekker om te sien wat alles moet gebeur voordat almal bymekaar kom om te begin oefen vir ‘n opera, en om deel te wees van daardie span.

Wat is jou gunsteling opera, watter rol sal jy die graagste wil sing, en waar?
Dis maklik: Madama Butterfly van Puccini, in La Scala in Milaan. Cio-Cio San is my droomrol.

As jy enige mentor kon kies, wie sou dit wees?
Ek’t so baie om klaar van te kies. Ek word elke dag omring deur soveel talentvolle musikante, daar is regtig nie net een nie. My sangprofessor, Virginia Davids. Kamal Khan en Angelo Gobbato, huidige en vorige direkteure van opera. Hulle het almal al opgetree en ken die bedryf so goed. Daar is soveel wat ek nog by hulle kan leer! Maar Jo-Nette LeKay, ‘n vorige sangjuffrou, sal altyd ‘n spesiale mentor wees. Sy het my na my eerste opera geneem en my oortuig om te doen wat ek vandag doen.

Wou jy van kleins af ‘n operasanger word? 
Soos enige kind wou ek graag ‘n veearts word! Ek dink ek wou op ‘n stadium my ma wees, tot ek uitgevind het dis nie ‘n beroep waarvoor jy kan studeer nie. Ek’t in Graad Twee klavierlesse begin neem, en voor ek my oë kon uitvee het dit in sanglesse ontwikkel. Om ‘n operasangeres te word was altyd my geheim, ek wou dit nog altyd doen. Daar was nooit regtig ‘n tweede keuse nie.

Wat is die laaste musiek wat jy gekoop het?
Ek het ‘n Regina Spektor CD in my Amazon mandjie gehad so twee jaar terug, maar dit nooit gekoop nie. Tel dit?

Luister jy ander musiek as klassieke musiek? Wie sou jy graag sien optree? 
Ja, ek luister nie klassieke musiek om te ontspan nie, want dis werk vir my, al geniet ek dit steeds. As ek enige kunstenaar kan kies om te sien optree, sal ek ‘n duisend keer Regina Spektor kies.

Wat volg na die graad? Waar wil jy graag oor vyf jaar wees?
Ek weet nog nie. Ek wil definitief verder studeer, dalk ‘n besigheidsgraad. Oor vyf jaar sien ek myself as “amper suksesvol”, of dit in opera of besigheid gaan wees sal net die tyd leerk.

Wat geniet jy die meeste van die studentelewe?
Al die mense wat ek ontmoet. Die vriende wat ek hier gemaak het, sal vir ewig deel wees van my lewe en ek sal hulle vir niks verruil nie. Behalwe dalk ‘n Regina Spektor konsert-kaartjie, maar hulle sal verstaan!