Waarom is gebalanseerde Afrikanerskap so ’n belangrike voorwaarde vir ’n gesonde Suid-Afrikanerskap? Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, ondersoek die knelvraag op Maroela Media se webwerf.

Die Afrikaner is een van die min suksesvolle gemeenskapsgroepe in Suid-Afrika. Dít ten spyte daarvan dat ons aan die ontvangkant van die regering se transformasie gestoomroller is en dat hy teen ons regeer. Daar is egter tien hekkies wat die Afrikanergemeenskap sal moet oorbrug om suksesvol te bly.

Die eerste probleem is dat Afrikaners nie gereed vir die nuwe bedeling was nie. Die klem was sedert die midjare tagtig só op die afskaffing van apartheid dat daar bitter min aan die Afrikaner “anderkant” apartheid gedink of gedoen is. Dit is vandag nog asof sommige Afrikaners steeds onvoorbereid op die nuwe werklikheid is. Hulle onttrek hulle eerder aan die openbare lewe of dink aan emigrasie as om iets daadwerkliks aan hul probleme te doen.

Tweedens het die bykans eendragtige vyandige wantroue wat daar in die jare tagtig teenoor die ANC was ’n tyd lank verander in ’n bykans eendragtige goedgelowige vertroue in die nuwe regeerders. Dit is weer gevolg deur ’n grootskaalse ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika, juis omdat mense begin voel het hulle het vir demokrasie gestem maar steeds ’n rewolusie gekry. Dít  was ’n groot dryfveer vir die emigrasie van bykans ’n miljoen mense na witter weivelde. ’n Gebalanseerde sin vir idealisme én realisme is nou nodig.

Die derde hekkie is dat die Afrikaner sal moet besef dat ’n minderheidsgroep in ’n oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag en staatsinstellings het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoeninstellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm.

Waar die belangrikheid van Afrikanerskap en -identiteit voor 1994 gereeld oorbeklemtoon is, is dit daarna verguis. Die afbreek van Afrikaner-identiteit as ’n belangrike deel van sy groepsidentiteit, het terselfdertyd Afrikaners se lojaliteit aan die land en vasteland afgebreek, en hulle het byna as gemeenskap ontbind. Afrikanervyande en polities korrektes sal moet besef dat (gebalanseerde) Afrikanerskap ’n voorwaarde vir ’n gesonde Suid-Afrikanerskap is. Gee mense die ruimte om voluit Afrikaners te wees, en hulle sal voluit Suid-Afrikaners wees.

Die vyfde probleem is dat die ANC weens politieke redes nie wil erken dat die land geskoolde wittes nodig het nie en duisende ervare mense by sleutelinstellings soos Eskom in die pad gesteek het. Dit het gebeur ondanks waarskuwings van internasionale politieke wetenskaplikes soos Francis Fukuyama, wat reeds voor 1994 die ANC gewaarsku het om nie beleidsrigtings aan te neem wat geskooldes uitdryf nie. Die wit sake-elite word ook so geïntimideer met rassewetgewing dat hulle die regering se rassebeleid meestal slaafs navolg om nie hul ondernemings in gevaar te stel nie. Gelukkig is daar nog sterk sakeleiers wat die land se belange bo politieke onderdanigheid stel.

Sesdens het die wêreldwye Afrikaner-diaspora so vinnig ontstaan te midde van soveel ander probleme dat die bestaande Afrikanerstrukture nie betyds en voldoende kon reageer nie. Daarom begryp mense nog nie die belangrikheid van Solidariteit en AfriForum se pogings om sterk bande met die diaspora te bou nie…

Stem jy saam, of verskil jy? Lees die volle rubriek hier om te sien wat Flip Buys identifiseer as die laaste vier hekkies: http://maroelamedia.co.za/blog/debat/meningsvormers/ons-mag-maar-aan-ons-eie-kant-wees/