Die heel eerste Noord-Suid T20 skole-kriekettoernooi het oor die Erfenisdaglangnaweek in Pretoria plaasgevind, en Hoërskool Menlopark het in die eindstryd vir Hoërskool Centurion met vyf paaltjies uitgestof om die prysgeld van R50 000 huis toe te neem. Atterbury was as een van die trotse borge langs die veld vasgenael vir die stryd. Zahn Hulme vertel meer.

Is daar naels gebyt langs die veld – hoe taai was die stryd?
Die finaal op Tuks se krieketovaal het heelwat naelbytoomblikke opgelewer. Centurion het eerste gekolf en ’n mededingende 162 op die bord gehad. Menlopark se openingskolwers het ’n baie soliede openingsvennootskap op die telbord gesit, maar toe ’n paar vinnige paaltjies val, was die skaal weer in Centurion se kant. Openingskolwers Stephan Kruger se 73 en Jaco Britz se vinnige 43, saam met die standvastige middelorde het egter gesorg dat Menlopark die wenlopies in die laaste kolfbeurt geslaan het, met drie balle oor.

Met twee Noord-spanne in die eindstryd, beteken dit dat Noord deurgaans die oorhand gehad het? Enige teorieë daaroor?
Ek moet sê, die Noorde het oorheers, en sewe van die boonste agt spanne was uit die Noorde. Daar kan seker geredeneer word dat die kolfblaaie en omstandighede die plaaslike spanne begunstig. Met die droë winters in die Noorde begin krieket vroeër as in die Suide. Baie Kaapse skole kan eers in September begin met hulle seisoenvoorbereiding, aangesien velde voor dit nog te nat is.

Was daar ’n “man of the match” – enige speler wat in besonder uitgeblink het?
Grey College se kaptein, CP Klijnhans, het twee honderdtalle behaal; en in totaal 329 lopies teen ’n gemiddeld van 109.67 lopies per beurt aangeteken tydens die toernooi. Hy is aangewys as Speler van die Toernooi.

Is al die borge en organiseerders gelukkig met hoe die toernooi afgeloop het?
Die belangstelling in die toernooi het almal se stoutste verwagtinge oortref. Borge was uiters tevrede. Daar is byvoorbeeld langs die veld gehoor dat ouers voortaan net by Webuycars hul motors gaan aanskaf! En met 200 18-jariges in die toernooi wat potensiële eerste motorkopers is, maak dit baie sin vir Webuycars om as hoofborg betrokke te wees! Kingprice het weer by die Erfenisdag en braaidag aanklank gevind en Weberbraaiers weggee as pryse!

Hoe was die bywoning, is julle tevrede met die opkoms?
Bywoning is gratis en die toernooi het wel oor ’n langnaweek plaasgevind. Daar was baie ouers en familie van spelers wat die wedstryde bygewoon het. Die kykertalle is beslis aangehelp deur die feit dat mense die wedstryde by Tuks aanlyn kon volg danksy die “livestream” deur Pitchvision. Baie skole se Facebookblaaie het inligting gedeel, en amper 16 000 mense is deur Facebook alleen bereik!

Wat was die hoogtepunt van die toernooi?
Ek moet sê, seker die eindstryd. Die spanning rondom die veld was elektries. Maar vir die seuns glo ek dit was beslis die bly op Camp Discovery.

So Camp Discovery as gasheer was waarvoor julle gehoop het?
Ja! Die feit dat al die sowat 200 spelers op die wildsplaas kon bly het beslis bygedra tot die sukses van die toernooi. Daar is saans kampvuur gemaak, spelers kon afkoel in die swembad en selfs wildsritte geniet. Die aandetes was heerlik met sprekers uit die krieketwêreld wat hulle geheime met die jong manne kom deel het.

Het jul enige belangrike lesse geleer wat julle volgende keer sal toepas?
Uitnemendheid is belangrik. Ons sal streef daarna om die topkrieketskole in die land die geleentheid te gee om teen mekaar deel te neem. Ons sal daarop voortbou en hoop dat al die borge ook weer aanboord sal wees – met nog meer geleenthede vir blootstelling.

En wat is volgende – het julle enige ander plannetjies in die mou? Het Suid ’n plan om wraak te neem?
Die toernooi word beslis weer volgende jaar aangebied – en dit sal groter en beter wees!