Atterbury Trust werk al ’n geruime tyd saam met Inani Startwell om kindervoeding in behoeftige gemeenskappe aan te spreek.  Surisa Schwalb vertel meer.

Wat is die voordele van Inani Startwell se produk?
Daar is baie voordele, maar een daarvan is dat dit geredelik beskikbaar is en so maklik is om voor te berei en vir die kinders voor te sit. Dan is daar die feit dat die pap voedingkundig so gebalanseerd is – dit bevat  ’n verskeidenheid melkprodukte, volgraan en peulgewasse – wat help dat die kinders ’n sterk mikrobioom in hul spysverteringstelsel ontwikkel en behou. En die lae suikervlakke in die pap help dat die kinders kan fokus in die skool. Baie liefdadigheidsorganisasies is betrokke by skoolvoeding en gee derduisende rande uit om kos aan te koop, en dit is so belangrik dat die kos wat aangekoop word die regte voedingswaarde het om groeibelemmering te stop.

Presies hoe werk julle samewerking, en vertel ons iets oor die bevoordeeldes in hierdie projek, en hoe lank julle al hiermee besig is?
Atterbury Trust en ons netwerk ondersteun Inani Startwell sover as moontlik; dit begin met die finansiële ondersteuning om Inani Startwell pap aan te koop vir die drie kleuterskole waar ons betrokke is. Dan verskaf ons ook bestuurs- en raadgewende ondersteuning aan die stigter, Org van der Wath, en bevorder Inani waar ons kan deur die assosiasie met Atterbury Trust. Ons bemark byvoorbeeld die organisasie deur ons sosiale platforms en deur geleenthede soos die Groot Swem, en maak deure oop binne ons netwerke vir vergaderings met moontlike beleggers, sakeleiers en mentors.

Vertel ons meer oor die drie kleuterskole waar julle betrokke is?
Die eerste skool waar ons Inani Startwell ingebring het, was Olifantjies Créche in Loxton, en dit het gevloei uit die Karoo Suite projek waarmee ons saam met Coenie de Villiers en Deon Meyer geld ingesamel het vir Karookinders.

Dan is daar Wonderland Créche in Atlantis, en dit het gekom deur ons betrokkenheid by die bestuur van Richmond Park Treasury Trust, wat reeds bande met die skooltjie gehad het. Ons verskaf sedert Januarie daar vir die kinders pap.

Die derde een is Akkerland Kleuterskool in Jonkershoekvallei –  dié is af in die pad van Atterbury Trust Wes-Kaap se kantoor, en ons het daar betrokke geraak om ’n verskil te maak in ons direkte omgewing.

Wat is die terugvoering van die skoolhoofde?
Al die skoolhoofde is baie dankbaar vir die pap en die kinders kry dit nou elke dag. Dit is maklik om te maak en die kinders is mal daaroor. Hulle verkies dit bo al die ander opsies vir ontbyt.

Hoekom reken jy is dit belangrik dat die private sektor en organisasies soos Atterbury Trust by skoolvoeding betrokke raak?
Die rol van die private sektor kan nie onderskat word nie. InVia, byvoorbeeld, het die visie om mense te mobiliseer deur kerkgemeenskappe, en het Inani aangeneem vir hul landwye Die Village Projek. Groeibelemmering is ’n aaklige en totaal voorkombare nagevolg van wanvoeding, wat bykans ’n derde van Suid-Afrikaanse kleuters raak. Dit veroorsaak dat ’n kind se brein en liggaam nie behoorlik ontwikkel nie, en dit het permanente gevolge.  Voor enige ander probleme aangespreek kan word, moet daar eers aan basiese behoeftes voorsien word. Ons kan nie ons kinders ontwikkel of van hulle verwag om te leer as hulle honger is nie. Baie kinders se beste etes is dié wat hulle by die skool ontvang en dit motiveer hulle ook om skool toe te kom. Deur betrokke te raak by skoolvoeding dra jy by om kinders op skool te kry en te hou, en as hulle veilig daar is en hulle magies vol, kan die res van die ontwikkeling gebeur om ons kinders leiers van die land te maak.

Hoe suksesvol was julle tot dusver om die program bekend te stel?
Deur baie harde werk die afgelope paar jaar van die Inani Startwell-span met die ondersteuning van Atterbury Trust het daar in die laaste jaar baie vooruitgang plaasgevind. Talle suksesvolle en geloofwaardige organisasies en individue het hulle ondersteuning aan Startwell verleen:

Daar is onder andere in samewerking met die voedingkundige Prof Tim Noakes ’n ontbytgeleentheid gehou om die produk bekend te stel en te gesels oor die belangrikheid van voeding.

Cape Union Mart ondersteun Startwell vanaf Junie deur R1 van elke inkopiesak wat hulle landswyd verkoop, te skenk aan die Inani Startwell Foundation. Dit beteken dat daar maandeliks meer en meer kinders by die voedingsprogramme gevoeg word.

In samewerking met Clover word ons inKosi inaniBABY nou reeds in meer as 45 000 spaza-winkels landswyd verkoop.

Die BNF trust het besluit om te belê in Inani Startwell, en is nou ’n aandeelhouer en vennoot, en vanaf September is JG Greyling aan boord met advies oor finansiële en operasionele besluite sodat Org van der Wath kan fokus op die opvoedkundige taak oor wanvoeding onder kinders en die uitbreiding van die Friends of the Foundation.

Vanaf Oktober is die Jannie Mouton Stigting betrokke, en die daaruitvloeiende Boland Village Projek sal maandeliks kos aan ’n paar duisend kinders voorsien.

Die groeiende sukses is duidelik uit die getalle van kinders wat maandeliks Inani Startwell ontvang. In 2022 was daar 5 000 kinders en vanjaar 10 000. Ons hoop dat die groeikoers sal aanhou en dat 20 000 kinders in 2024 daagliks Inani Startwell pap sal eet.

Hoe kan mense wat omgee, betrokke raak?
Ons nooi mense uit om meer uit te vind deur vir Atterbury Trust of Inani Startwell te kontak.
Atterbury Trust: [email protected] of [email protected]