Jenene Petersen het na baie jare die finansiële wêreld vaarwel toegeroep en haar aangesluit by die Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI) as oorhoofse MOI-projekkoördineerder. Sy vertel meer oor haar kleurryke paadjie na MOI toe.

Hoe het jy destyds van Mergon Ontwikkelings Inisiatief (die voorloper vir MOI) gehoor, en wat het jou daarna aangetrek? 
Ek was redelik vertroud met Mergon en was in die Mergon-netwerk betrokke. Ek het die posadvertensie van die Mergon Ontwikkelings Inisiatief ontvang en was oortuig daarvan dat die pos geskryf is om my lewensroeping daar uit te leef. Die posbeskrywing en my lewensroeping het soos ’n handskoen inmekaar gepas.

Was dit ‘n moeilike besluit om die skuif te maak? Wat het dit vir jou beklink?
Ek het alreeds in 2015 vaarwel gesê aan die finansiële sektor en in 2016 gekonsulteer. Dit was toe ek halftime bereik het soos beskryf word in Bob Buford se boek met dieselfde naam. Op daardie staduim was ek betrokke by vele gemeenskaps-ontwikkelingsprojekte in die Paarl.

Aan die einde van 2019, nadat ek African Leadership Institute for Community Transformation (ALICT) voltooi het, was ek redelik seker waarop ek my wou toespits. MOI is ’n bestiering op my pad en die vlam van passie brand hoog.  Dit was ’n groot voorreg om destyds deel van die dinamiese Mergon-span te word en ook nou van die Atterbury Trust Wes-Kaap-span.

Ons sien jy het in die Paarl grootgeword, maar in Gauteng jou studies kom voltooi. Hoe dan so?
Ek het gematrikuleer aan New Orleans Hoërskool in die Paarl en daarna by die Universiteit van Stellenbosch eers BCom gaan swot, gevolg deur ’n honneurs in Ondernemingsbestuur, en ek het later my meestersgraad aan RAU (nou UJ) verwerf.

Na my honneurs is ek ‘n werksgeleentheid aangebied by Transnet in Kaapstad. Na ’n jaar het ek besluit om Johannesburg toe te skuif, nadat ek myself omtrent elke maand daar bevind het vir werk. Ek het my meestersgraad deeltyds voltooi terwyl ek by Transnet tesourie werksaam was as hoof van buitelandse lenings.

Kan jy bietjie meer vertel hoe jou beroepspaadjie verder ontvou het?
My loopbaan strek oor 20 jaar, in pensioenfonds-beleggings, geldmarkhandel en likiditeitsbestuur. Ná Transnet en met my MCom in die sak het ek by Absa Capital as geldmarkhandelaar aangesluit. Toe Absa in 2005 deur Barclays oorgeneem is, het ek die voorreg gehad om vir drie maande in Londen by Barclays PLC in Canary Wharf te gaan werk as een van 30 kandidate wat blootstelling aan internationale markte gekry het. Daarna is ek aangestel as hoof van korttermynlikiditeitsbestuur van die Absa Groep.

Hoe lyk jou gemiddelde dag by MOI? Het die nuwe betrokkenheid van Atterbury Trust jou dagtaak enigsins verander?
Wat MOI so lekker maak is dat daar nie twee dae is wat dieselfde lyk nie. Tussen beplanningsvergaderings en administratiewe take soos om ouers se navrae en leerders se versoeke te hanteer, bespreek ons kurrikulum-ontwikkeling en sake soos leerders se akademiese, geestelike en emosionele welstand, en skeduleer ingrype indien nodig. Tans bemark ons MOI ook sterk by teiken-laerskole in die wynland.

Atterbury Trust Wes-Kaap se betrokkenheid neem MOI na ’n nuwe vlak. Op my skoolbesoeke kan ek nou ook die Trust se beurslenings bemark, en ons beplan ’n mentorskapprogram tussen Atterbury Trust studente en die MOI-leerders. Ek is opgewonde oor die vooruitsigte met die Trust se toenemende betrokkenheid in die gemeenskappe van die Wes-Kaap waar ons die MOI-leerders identifiseer. MOI is deel van ’n groter span wat saam dinkskrum oor ’n wyer impak op die Wes-Kaap gemeenskappe en dit laat my hart warm klop!

Jy gee baie om vir ander gesinne, maar vertel ons bietjie wie is Jenene as sy by die huis is?
Ek en Warren is bykans 24 jaar getroud en ons het drie groot kinders: 15-jarige Joshua in Graad 10 by Paarl Boys High, Remi (19) in sy eerste jaar Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch en 24-jarige Thandi, ’n Afrikaanse taalonderwyseres in Greytown, KZN, wat van haar 12de jaar al deel van ons gesin is. Ons gesinswaarde is selflose liefde, om ander te dien sonder verwagtinge, en ons herinner ons kinders gereeld daaraan wanneer hulle voor keuses kom. So het Remi ons onlangs vertel hy het aansoek gedoen om in ’n koshuiskomitee te dien, en ons eerste vraag aan hom was of dit oor homself en ‘n posisie gaan, en of hy dit wil doen om as “servant leader” ander studente te help.

Ons woon tussen Hermon en Gouda op die R44 (oppad na Ceres). Ons het die Voëlvleidam voor ons en die Limietberge agter ons. Ek is baie op die pad en verkies om oor naweke tuis te wees saam met my familie. Ons geniet die prag van die natuur rondom ons en ek kan nie genoeg beskryf hoe bederf ons is om dit elke dag te beleef nie!

Hoekom reken jy vind jy soveel aanklank by MOI?
Ek is dankbaar vir die grondslag wat my twee ouers aan ons ses susters gegee het. Dit het my ’n groot voorsprong gegee teenoor my mede-leerders. Ek het ook grootgeword in dieselfde gemeenskap in die Paarl.waaruit van ons MOI-leerders gewerf word. Die Paarl is waar ek my drome vir ’n beter toekoms ontvang het en dit is hierdie drome wat my soveel geleenthede gebring het en my perspektief gegee het waaroor die lewe eintlik gaan. My begeerte is dat elke MOI-leerder glo in hulself, droom van ’n beter toekoms en aksie neem om dit te bewaarheid.

Julle verander by MOI op ’n daaglikse basis jongmense se lewens, en ek hoop jy kan een voorbeeld met ons deel van ‘’ kind wie se storie wat jou baie diep geraak het, of waarop jy veral trots is. 
Ek dink nou sommer onmiddelik aan my huisbesoek vandag by een van ons Graad 10-meisies, ons noem haar maar Portia. Sy moes vele uitdagings trotseer tydens Covid en haar ouers was bekommerd oor haar toekoms omdat daar geen ondersteuning of aanlyn-onderrig was tydens die grendeltyd nie – haar uitslae het dit gewys. Ek het Hoërskool Jan van Riebeeck gekontak en die leerders se behoefte en potensiaal verduidelik en was so vreeslik dankbaar toe hierdie leerders, en Portia onder hulle, in die middel van hulle Graad 9-jaar deur die hekke van hierdie pragtige skool onder Tafelberg kon stap.

Portia se ma sê vandag vir my: “Jenene, Portia sê sy gaan haar merk daar maak en haar beste gee vir MOI wat haar hierdie geleentheid gegee het.” Ek sit vandag in haar netjiese ouerhuis met die sinkmure en dank die Heer dat Portia deel van ons MOI-familie is. Mag sy die generasie wees wat hierdie familie se toekoms vir altyd sal verander.