Atterbury Trust is bevoorreg om saam te werk met mense en organisasies wat diep vir hul medemens omgee en berge versit om die behoeftiges in die gemeenskap by te staan. Een so iemand is Chris Sealie, die skoolhoof by Laerskool Nicolaas Smit in die weste van Pretoria, wat al jare betrokke is by verskeie inisiatiewe om minderbevoorregtes op verskeie maniere te help. Ons het by hom gaan hoor hoe dit alles ontstaan het.

Hoe lank is jy al by Laerskool Generaal Nicolaas Smit betrokke en hoe het jou lewenspaadjie jou by die skool gebring?
Ek is nou al 22 jaar hier, en die gebroke, stukkende dog liefdevolle ouers en kinders van hierdie gemeenskap, het my lewe onheroeplik verander.  Ek was maar 34 toe ek die hoof die armste Model C-skool in Pretoria geword het. Ons inkomste vir Januarie 1998 was R8 000 en ons water- en ligterekening was R12 000…!   My suster Melinda en my stiefma het gehelp om daardie eerste water- en ligterekening te betaal. Daarna het fondsinsameling en borge soek ons prioriteit geword om vir ons kinders te kan voorsien. Die Here het ’n borg op ons pad geplaas wat ons skool letterlik  van bankrotskap gered het. Ons het hierna belowe om ook vir ons Pretoria-Wes gemeenskap en skole ’n seën te word! Vandag is ons dankbaar om bystand te kan verleen aan baie van ons skole, kerke, kinderhuise en die breë Pretoria-Wes-gemeenskap.  Ons skool deel letterlik alles wat ons kan met ander skole en gemeenskappe en het, ons soos dominee Stephan Joubert altyd sê, “nie ’n opgaardam nie, maar ’n verspreidingsdam” geword.

Hoeveel leerders is in die skool en watter persentasie van die kinders kom uit erg behoeftige gesinne?
Ons het tans 1 350 leerders van wie 700 geen skoolgeld kan betaal nie en bitter behoeftig is, uit huise met enkelouers of grootouers aan die hoof, en hoë werkloosheid. Nog ’n groot gedeelte ontvang ’n gedeeltelike subsidie.  Baie van ons leerders bly in eenvertrek Wendy-huise en plakkerskampe. Al hoe jy ʼn kind uit sy omstandighede kan lig, is as jy aan die basiese behoeftes aandag gee.

Ons is dankbaar vir die baie barmhartige samaritane wat skoene, nuwe skoolklere, brille, mediese uitgawes, skryfbehoeftes en meer skenk, sodat elke kind sy of haar volle potensiaal kan verwesenlik.

Wat is die grootste behoefte by die skool?
Kos en klere! Ongelukkig neem armoede oral toe, maar veral in die weste van Pretoria. Daar is daagliks mense wat hul werk verloor, en kinders kom honger skool toe. Waar ons in die verlede net deur die skool gehelp het, moes ons noodgedwonge die projekte uitbrei omdat die behoefte so gegroei het. Tans gee ons vir ongeveer 360  kinders kos per dag. Ons deel ook maandeliks kospakkies aan ongeveer 200 gesinne uit.  Ons voorsien ook voedsel aan HTS Tuine en Hercules Hoërskool, en help ook ander skole in Pretoria-Wes.

Vertel ons meer van Kairos en hoe dit aan die skool verbind is.
Kairos is ’n nie-winsgewende organisasie wat in April 2016 as sulks geregistreer is en wat voor dit al vir sowat 15 jaar lank informeel bestaan het as ’n hulpgewende organisasie, wat groothartige borge en behoeftige mense bymekaar gebring het. Kairos het begin toe ’n baie spesiale oogspesialis gratis ’n operasie op een van ons leerders uitgevoer het en sodoende oornag die kind se lewe verander het. Skielik is sy nie meer deur maats gespot nie en kon sy inpas en ten volle aanvaar word. Ons kon sien hoe dramaties dit haar lewe verander het; woorde kan dit nie beskryf nie. Ons het die organisasie toe Kairos gedoop, na aanleiding van die beskrywing in Efesiërs: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid”.  Die dokter het ons werklik gewys wat Kairos behels en sedertdien is ons betrokke by verskeie projekte, maar ons fokus veral op hulp aan bejaardes, enkelouers en kinders.

Ons werk baie nou saam met ander liefdadigheidsorganisasies, maar veral Eleos wat reeds ’n baie groot rol in ons gemeenskap speel. Hoewel ons sekere projekte het wat volhoubaar moet wees, spits ons ons toe op dinge wat opduik en dadelik aandag benodig. Hier help ons veral deur mense by te staan wat na-ure hulp benodig met kos, klere, en so meer. Ons help ook mense wie se huise in brande verwoes is of mense wat bystand benodig met begrafnisse of selfs mediese dienste waarvoor daar nie gewag kan word nie.

Ons help ook skole in Pretoria-Wes met skryfbehoeftes en voedselhulp gedurende vakansies!

Hoe is Atterbury Trust betrokke en hoe noodsaaklik is die ondersteuning van borge vir die werk wat julle doen?
Ons is so geseënd dat Atterbury ons maandeliks ondersteun om veral leerders te help wat behoeftig is. Ons het byvoorbeeld ’n besonder skrander leerder wat in ’n kinderhuis woon en ‘n gemiddeld van 94% behaal, wat ons danksy Atterbury Trust kan help om haar volle potensiaal te bereik.

Atterbury Trust is beslis die grootste borg vir die breë Pretoria-Wes-gemeenskap, en het met hierdie ondersteuning bewys dat die siklus van armoede gebreek kan word deur behoeftige studente finansieël te ondersteun.  Baie van die onderwysers in ons skool het in ons gemeenskap grootgeword, en is vandag hier danksy die Trust se beursfonds.

Die beursfonds het ook Kairos geïnspireer om die gemeenskap op te hef deur meer behoeftige leerders te help met voeding, opvoeding, onderrig en mentorskappe.

Nie net word ‘n kind se lewe verander nie, ’n nageslag word hierdeur verander.

Vertel ons van die Affies kosprojek.
Ons het Dr Pierre Edwards van Affies in 2014 genooi om ons skool te besoek en die behoefte aan ’n voedingskema bespreek, omdat soveel kinders honger skool toe kom en dus nie kan presteer nie. Dit het gelei tot Projek 360, waarmee Affies elke dag gedurende eerste pouse ’n gebalanseerde bord kos vir 360 leerders verskaf; en in tweede pouse ’n vrug en iets om te drink. In die meeste gevalle is dit hierdie kinders se enigste ete vir die dag. Aanvanklik het Affies se koshuispersoneel die kos voorberei en dan afgelewer. Gerrie Kriel, voedseldiensbestuurder van hulle skoolkoshuis, het toe werklose ma’s in die gemeenskap opgelei om kos keurig voor te berei en dan pouses uit te deel. Die Affie-kombuis is in 2016 op die skoolterrein geopen en het nou drie permanente personeellede.

Dit kos sowat R7 000 per week om die voedingskema aan die gang te hou. Affies voorsien al die bestanddele: groente, vrugte, vleis, brood en meer. Affies-ouers wat kan sal byvoorbeeld sakkies aartappels, vleis, eiers of ander produkte skenk, anders gaan koop mnr Gerrie Kriel op die mark, en kom lewer dit af by die skool.

Die armoede waarin ons kinders leef, breek elke dag ’n mens se hart en daarom kan ons nie uitgepraat raak oor wat Affies vir die gemeenskap beteken nie. Die skool glo dat hul betrokkenheid by ons laerskool hulle seuns leer van meelewendheid, en so word daar baie werk gedoen om die seuns en die Affies gemeenskap by die projek te betrek – wat gereelde en omvattende fondsinsamelingsaksies insluit.

 As mense of instansies wil help met dienste of donasies, wat is die beste manier om te help?  Wat is die grootste deurlopende behoefte?
Ons verkies dat ons borge direk betrokke raak by ons projekte en gemeenskap, sodat hulle kan weet wie hulle help. Ons besef egter ook dat nie almal altyd die tyd hiervoor het nie, so voornemende borge kan ons kontak om te gesels oor hoe hulle betrokke wil raak. Enigiets is welkom, van doeke en fietse tot ou selfone.  Ons het verskeie projekte, en ons reik ‘n belastingsertifikaat (18A) uit aan ons borge. Kontak Chris Sealie by 082 3717 933, of [email protected]