Hoe Jean Engelbrecht brûe bou met wyn

Jean Engelbrecht, eienaar van die merkwaardige Rust en Vrede wynlandgoed raak filosofies as hy oor wyn gesels. “Wyn bring mense nader aan mekaar,” verduidelik hy. “As jy ’n glasie wyn klink bevorder dit kommunikasie tussen mense. Dit bou brûe.”

Na aanleiding van die bekendstelling op 18 November 2019 van Rust en Vrede se nuutste skepping, ’n wyn genaamd Afrikaans, saam met die aankondiging van hierdie jaar se Toyota US Woordfees-program by Rust en Vrede, beklemtoon Jean dat hierdie wyn geskep is as viering van Afrikaans as taal.

“Afrikaans, die wyn, is beslis apolities,” vertel hy. “Ek voel sterk dat die Afrikaanse taal nie deur enige eksklusiewe groep geannekseer behoort te wees nie. Afrikaans is nie beter as enige ander taal nie. Alle tale is gelyk en een moet nie deur sy sprekers verhewe word bo ander nie.”

Vir Jean beteken dit natuurlik ook dat sprekers en gebruikers van Afrikaans met trots met die taal kan omgaan, sonder om meerder- of minderwaardig te voel of wees. “Afrikaans is ’n wonderlike taal met skrywers, digters, akademici, sangers, akteurs en baie ander wat uitstekende werk in Afrikaans lewer.

“Afrikaans as ’n taal vir die kunste staan nie terug vir enige ander taal nie. Afrikaans die wyn het sy oorsprong daarin om weg te beweeg van die taal as ’n politieke speelbal. Ter selfde tyd is Afrikaans onder druk uit verskeie oorde. Ons het dus ’n wyn geskep ter viering van Afrikaans, ongeag wie dit praat en geniet, met geen politiese oorwegings nie.”

Die wyn Afrikaans is tydens die aankondiging van hierdie jaar se Toyota US Woordfees-program by Rust en Vrede bekendgestel. Hier is Saartjie Botha (Feesdirekteur van Toyoya US Woordfees), Calvyn Hamman (voormalige Senior Vise-president Toyota Suid-Afrika), US Rektor Wim de Villiers en Prof Leslie van Rooi, Direkteur Sosiale Impak en Transformasie by US saam met Jean Engelbrecht (Eienaar van Rust en Vrede)

Drink Afrikaans

Willem van der Colff, ’n Stellenbosch-vriend van Jean, is verantwoordelik vir die mooi gedig op die agterste etiket van die elegante Afrikaans-wynbottel. Met die titel “my taal”, vertel die gedig in kleinletters van Afrikaans se vermoë om by ieder en elk byklank te kan vind. Net die skoon, mooi taal en die gebruik daarvan. Niks anders nie.

Jean verduidelik die ontwerp styl van die etiket, sowel as die handelsmerk is met opset minimalisties en sag geskep.

“Ons eerste poging was sterk en hard. Ek neem toe die vrymoedigheid om hierdie eerste probeerslag vir ’n paar vriende te wys. Dit was Elvis Blue wat gesê het ’n sagter, meer elegante aanslag is dalk beter. Ons het geluister en met die finale ontwerp vorendag gekom. Die kartonboks van die wyn is tekenend van wat die posisionering van Afrikaans as wyn is: Skoon, elegant, stylvol, eenvoudig, sinvol. En ons hoop dit smaak lekker,” vertel Jean.

Om oor wyn te gesels is duidelik een van die man agter Rust en Vrede se groot passies in die lewe.

Om ’n goeie wyn te maak is duur. Dit begin natuurlik by die beste druiwe. In die geval van Afrikaans is twee prima wyne sover gemaak; ’n Cabernet Sauvignon (2016) en Chardonnay (2018).

Rust en Vrede se wynmaker Coenie Snyman gebruik net die heel beste druiwe vir Afrikaans. Teen ’n rakprys van sowat R200 vir die Cabernet Sauvignon beteken dit dat dit ’n wyn aan die duurder kant van die spektrum is. Jean sê die rede is kwaliteit.

“Ons eerste produksie-totaal is net sowat 8 000 bottels. Ons noem dit Vol 1. Behalwe vir die kwaliteit van die druiwe wat gebruik word is die houtvate waarin die wyn verouder ook aan die duur kant. Om ’n goeie wyn te kan maak en geniet moet mens daarin belê.”

Na aanleiding van die vroeë sukses van Afrikaans beplan Jean ’n groter produksie-hoeveelheid vir Vol 2. Dít behoort teen die einde van 2020 op rakke te verskyn.

Atterbury

Die idee van Versnit, Atterbury Trust se jaarlikse Januarie-geselligheid waartydens ’n uitgelese groep Afrikaanse kunstenaars voor uitgenooide gaste op die lowergroen grastapyt van Rust en Vrede optree om sodoende donasies vir die trust aan te wakker, is Jean en Louis van der Watt, medestigter van Atterbury se breinkind.

“Atterbury is vir ons almal ’n voorbeeld van hoe om ’n suksesvolle internasionale onderneming wat van huis uit Afrikaans is, te vestig,” sê Jean. “Om trots te wees op Afrikaans en om Afrikaanssprekendes, ongeag van ras of kleur geleenthede te bied sonder om ’n politieke oorweging te hê is werklik iets besonders. Ons kan almal by Atterbury leer hoe om trots te wees op Afrikaans sonder om ook meerderwaardig oor ander tale te wees.”

Musiek, woorde en wyn

As ’n paar van Jean Engelbrecht se belangstellings dalk in kort opgesom kan word, kan musiek, woorde en wyn miskien naby kom. En kos. Lekker kos. Behalwe vir die fynproewer se gunsteling restaurant op Rust en Vrede besit hy ook ’n aandeel in Stellenbosch se De Volkskombuis en Pretoria se Hinterland. “Ons het reeds drie restaurante in Namibië gevestig,” vertel hy met trots. “Al drie het Stellenbosch in hul name, want die Namibiërs is baie lief vir ons dorp.

“My doelwit met al ons restaurante is om wyn drink te bevorder. Ek sê altyd wyn maak vriende, nie vyande nie. Dit het iets te doen met die beskaafdheid wat saam met die drink en waardering van wyn gepaard gaan. Ek het ’n missie en dit is om mense te oortuig om goeie wyn te drink en geniet.”

Met Afrikaans, die wyn, is Jean ook aan die woeker met iets waarop hy trots is. Iets waardeur hy ’n aangename drink-ervaring wil aanbied, maar wat ook verder gaan. Iets wat van Afrikaans ’n gemoedelike samesyntaal maak. ’n Gemaklike taal geïnterpreteer as ’n heerlike wyn. En dít kan net lekker wees.

Afrikaans is in Pretoria by Atterbury Teater, Hinterland in die Club-sentrum en in die handel by uitgesoekte wynhandelaars beskikbaar. Dit kan ook direk vanaf [email protected] bestel word.