Een van die mooi uitvloeisels van Coenie de Villiers en Deon Meyer se aangrypende Karoo Suite verhoogstuk was die koffietafelboek wat dit geïnspireer het. Atterbury Trust het slegs 1 000 eksemplare van hierdie pragboek gedruk, wat elkeen daarna genommer en deur Coenie en Deon onderteken is, met die idee om die opbrengs aan te wend vir die opvoeding van Karookinders. Ons hoor by Atterbury Trust se uitvoerende trustee Zahn Hulme hoe die proses sover verloop.

Waar het die idee vir hierdie unieke fondsinsameling vandaan gekom?
Na aanleiding van die sukses van Karoo Suite het Louis van der Watt voorgestel dat ons die woorde, musiek en fotografie van dié produksie in ’n eksklusiewe versamelaarskoffietafelboek verewig. Die talentvolle grafiese ontwerper Annamart Swanepoel het nou met Coenie en Zahn saamgewerk om die pragtige boek ’n werklikheid te maak. Die Atterbury Trust het die volle koste van produksie gedra en Deon en Coenie het die inhoud, wat ’n Karoo Suite CD insluit, gratis verskaf. En baie boeke geteken!

Hoeveel van die boeke is verkoop en hoeveel kon julle tot dusver insamel?
Daar is reeds 930 boeke verkoop wat beteken dat ons al amper R700 000 in die bank het!

Was daar spesifieke dorpe of skole in die Karoo wat van die begin af julle teiken was?
Weens Deon Meyer se verbintenis met Loxton was daardie besondere dorpie bo-aan ons lys. Ons het Loxton in Meimaand besoek om eerstehands ’n behoeftebepaling te doen. Daar is net ’n laerskool op die dorp met omtrent 270 kinders van Graad R tot Graad 7. Die kinders wat wil hoërskool toe gaan moet ’n manier vind om in Carnavon, Fraserburg of Beaufort-Wes te kom. Baie kinders vorder dus nie verder as Graad 7 nie….

Op Loxton het ons mense ontmoet met groot drome en nog groter harte wat hulle lewens toewy aan die kinders van die Karoo. Maar ons het ook die afgebrande laerskool gesien wat al drie jaar net so staan – vergete deur die Noord-Kaapse onderwysdepartment. Daar is ’n klein bibliotekie in die een hoek van die ou skooltjie wat nie deur die brand verwoes nie, maar die plafon wat sigbaar gebrand het, het ons tog laat wonder oor die veiligheid. Daar is ook nuwe boeke nodig, ‘n laag verf, matte.

Dis nou baie droog in die Karoo, nog droër as gewoonlik. Die speelgronde het feitlik geen gras nie, daar is nie bome nie, nie sportvelde nie. Die klimrame is oud. Die klaskamers vuurwarm in die somer en yskoud in die winter.

Ons het tydelike klaskamers gesien wat al permanent geword het, waar ywerige onderwysers klasgee en inspireer. Hoop gee waar daar nie aldag veel hoop of kos is nie. Daar is “huggers” wat as deel van Nicolette van den Heever van Deon Meyer se “Ek Leef” trust elke dag intensiewe terapie met die kleintjies doen. Daar is Karootannies wat kosmaak en elke dag vir die kinders ‘n middagete gee.

Hoe het julle bepaal wat die prioriteite is met die toeken van die fondse? Wat was julle kriteria?
Die doel is om die geld te spandeer om ’n impak te maak op ’n hele klomp kinders, eerder as om net een of twee individue te help.

Daarom is die besluit geneem om ook met die US Woordfees se Woorde open Wêrelde (WOW)-span saam te werk om by meer skole in die Karoo uit te kom, en raakvatter onderwysers te ontmoet. Ons het persoonlik met onderwysers van Beaufort-Wes Sekondêr, Bastiaanse in Beaufort-Wes, Laingsburg en Prins Albert ontmoet; mense met passie vir die kinders, wat met minimale hulpbronne hulle roeping met toewyding verrig. Ons is tans besig om behoeftebepalings by die onderskeie skole te doen.

‘n Mens hoor van ontstellende werklikhede – dat baie skole daar geen buitemuurse aktiwiteite het nie, geen sportspanne nie – afstande is ‘n reuse uitdaging. Busse is daar nie. By Laingsburg Hoërskool het die Department besluit om Wiskunde onderrig te staak en slegs geletterdheid word aangebied. Die deure by baie tersiêre instellings is dus summier toegemaak in daardie kinders se gesigte.

Waar staan sake op die oomblik?  Hoeveel kinders is reeds gehelp, van hoeveel skole, en hoe het hierdie hulp uitgerol?
Daar is reeds besluit om ’n studiebeurs toe te staan aan Fredeline, ’n onderwysstudent op Loxton. Sy is passievol oor die kinders van Loxton en werk reeds as assistent-onderwyseres by die laerskool.

Dan het ons ook in Maart vanjaar ’n paar matriekleerders met potensiaal van Beaufort-Wes, Murraysburg en Laingsburg na die Universiteit van Stellenbosch laat kom. Dink maar net watter wêrelde gaan oop en watter drome word aangewakker as ’n kind uit ’n klein stowwerige Karoodorp op ’n kampustoer by US kan gaan, ’n winterskool aangebied deur toponderwysers in die provinsie kan bywoon, skouers skuur met leerders van ander skole, die see vir die eerste keer sien…

Ek is seker die behoefte is baie groter as die fondse wat tot julle beskikking is, en hoe nader mens aan die gemeenskappe kom, hoe duideliker word dit. Strook dit met jou ervaring?
Absoluut. Mens kan oorweldig voel, maar ons doen wat ons kan. Gelukkig is daar altyd mense daarbuite wat met die Trust wil hande vat en ons is besig om ons beste netwerkvaardighede uit te rol!

Het julle die toepassing van die fondsverdeling aangepas sedert julle begin het, dalk oor bogenoemde ervaring?
Ons wil definitief meer mense as donateurs en medewerkers betrek. Ek dink ook bewusmaking is belangrik. Deur die Atterbury Trust se verbintenis met Coenie de Villiers by verlede jaar se Lucas Maree liedjieskryfwerkswinkel wat by Afrikaans Seunshoër aangebied is, gaan ons ook met Affies hande vat om ’n groter impak te maak, veral in die Karoo.

Wat was tot dusver vir jou die hoogtepunt van wat julle hiermee bereik?
My hoogtepunt was beslis die passie wat ons op Loxton gesien het. Mense wat hulle lewe onselfsugtig wy aan hulle gemeenskap. Dis iets van die platteland – die swaar en seer van mense is meer onmiddelik – jy kan nie wegdraai as jy elke dag vaskyk in mense wat minder as jy het nie. Ook hoe dankbaar die mense is dat ons eerstehands kom kyk het; kom sien het wat hulle werklikheid is. Ons kon ervaar dat dit hoop in hulle harte skep.

Is daar nog boeke oor indien mense belangstel om te koop? Hoe kry hulle een in die hande?
Daar is nog ’n paar boeke oor en dit kan via die Atterburytrust.org webtuiste bestel word: kliek hier.