Rubriekskrywer skryf Koos Greeff gee op Maroela Media se webwerf ’n nostalgiese terugblik na hierdie verskynsel waarmee hy soos soveel ander jongmense in die verlede van punt A tot punt B gekom het…

Toe ek nog jeugdig was, was ryloop mos ʼn normale manier van oor die weg kom. Ek onthou nog goed die Sondagnamiddag toe ek daar op Jan Smuts afklim en die pad moes vat na Voortrekkerhoogte. Kompleet in my blou uitstap-uniform van die Lugmag en hier staan ektotaal onseker langs die pad met my duim in die lug.

Hier stop toe so ʼn bruin-vuil Valiant-motorkar met ʼn vriendelike swart man en sy hele gesin wat op pad is na Pretoria. Daar word plek gemaak en opgedruk en die wit soldaatjie kry ereplek voor links en daar draf ons teen 70 km per uur tot reg voor die lugmaggimnasium se hek.

Toe breek die Paasnaweek aan en ek wil my ouers loop verras daar waar hulle kreef uithaal by Donkiesbaai. Daai aand laai ʼn ou my af op Britstown en ek besluit om die grondpad te “hike” oor Vosburg na Carnarvon. Stap so ent die dorp uit, maar die pad is doodstil. Later oorval die moegheid my en ek loop lê reg in die pad met my gesig na die aankomende verkeer se rigting sodat die karre se ligte my kan wakkermaak. Slaap toe dwarsdeur tot dagbreek daar in die harde pad.

Iewers daai oggend kom jae daar so ʼn lang slap jongman met ʼn Datsun SSS amper oor my. Hy stop daar in een stofwolk en ek klim. Daai Triple-S hyg na sy asem soos ons storm oor die vlaktes na Williston en later Calvinia toe. Maar toe ons die Vanrhynspas vat, toe sit my hart hier bo teen my kiewe.

Die kêrel het sulke lang slap bene met holskoene aan en hy sit so half dwars agter die stuur. Die Triple-S skreeu om elke draai en die Vanrhynspas het kort draaie. Dit voel of jou hart uitvlie reg oor die Knersvlakte maar die Triple-S klou vas en ons storm Vanrhynsdorp in. Daar laai hy my af en storm voort die diep Namakwaland in.

Later van jare ryloop ek kompleet met my “army”-jas en hardloopskoene dwarsoor Suid Afrika. Kitaar onder die blad met so ʼn groot rooi “sticker” agter op my jas: “Turn or Burn”. Met ʼn baardbek en rugsak kompleet. En g’n siel het my ooit leed aangedoen nie.

ʼn Tjom vertel my hoe hy een nag oorstaan in Beaufort-Wes. Eet die oggend daar in die hotel ʼn brekvissie toe sien hy ʼn oom wat lyk asof hy op pad kan wees. Die troepie skraap sy moed bymekaar en vra die oom of daar nie plekkie is in die kar nie, want hy is op pad na Somerset-Wes. “Graag, seun” en daar klim die twee in die oom se kar maar hulle beur ooswaarts in plaas van Kaap toe. Toe die tjommie van my protesteer stel die omie hom gerus en draai net daar af na die vliegveldjie. Dit was toe al die tyd oom Anton Rupert en doeksag vlie hulle al die pad tot by Stellenbosch.

Agterop oop lorries, in vliegmasjiene, in vinnige Datsun SSS’e en binne-in ou Valiants. Ons het oor die weg gekom en vriende gemaak en saam gelewe op Coke en “pies”. Nou’s ons almal grênd en selfs skoolkinders ry met platkarre rond. Die wêreld is onveilig en ons ken nie mekaar nie en gee ook nie ʼn duit om nie. Ons jae by mense verby wat langs die pad staan met ʼn gebreekte kar en dan loer ons ewe vroom in die truspieëltjie en bid dat iemand hulle sal help. Maar ons sit knus in ons saligheid.

Ek onthou.

Hierdie rubriek het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.