Die Teresa Lister-toekenning is nege jaar gelede in die lewe geroep om jaarliks die veelsydigste vroulike regstudent by die Universiteit van Pretoria te vereer, ter liefdevolle nagedagtenis aan ’n ontslape kollega. Teresa Lister was Atterbury se regsadviseur toe sy in 2009 in ’n motorongeluk oorlede is, en daarom kies ons elke jaar ’n jong vrou in haar veld wat ewe dinamies en positief is om die toekenning te ontvang. Vanjaar se ontvanger van die toekenning, Carmi du Toit, verpersoonlik Teresa se eienskappe, en het ondanks swaarkry en beperkte hulpbronne alles ingesit om seker te maak sy kan aanhou studeer aan haar LLB. Sy het onlangs die trofee en prysgeld van R20 000 by ’n prestasiefunksie ontvang, en vertel ons meer omtrent die paadjie wat haar tot by hierdie welverdiende prys gebring het.

 

Was regte van die begin af jou passie? Wanneer en hoe het jy daarop besluit?

Ja, ek het in Graad 10 besef ek het ’n aanvoeling vir kommunikasie en dat ek daarvan hou om mense te help. Ek sien regte as ’n manier om verandering teweeg te bring en wil graag deel wees van daardie verandering.

Jy is die eerste lid van jou gesin wat ’n graad gaan behaal, en moes baie opoffer om te kom waar jy vandag is. Wat dink jy was die grootste uitdaging wat jy aangepak en oorkom het; en hoe het jy dit gedoen?

In my eerste jaar het ek gesukkel om my voete te vind – ek het nie geweet hoe ek akkommodasie kon kry en werk terwyl ek voltyds studeer nie. Die stres van universiteit en om te moet werk om my verblyf te betaal was soms oorweldigend. Ek het geïsoleer en geweldig gestres gevoel, maar het op die ou end daardeur gekom deur te fokus op alles wat ek kon doen, en nie toe te laat dat die onsekerheid my vooruitgang belemmer nie. Ek het ook met mense gepraat wat raad gegee het, en hulp van die studente-ondersteuningsprogram op kampus gaan vra.

 

Jy het jou studies help befonds deur te werk as ’n kelnerin en ’n inbelsentrum-agent… wat dink jy het dit jou geleer?

Dit het my ’n paar goed geleer, onder andere hoe om my tyd baie effektief te bestuur om seker te maak alles word betyds gedoen. Dit het my ook respek vir ander mense geleer en die vermoë om waardevolle verhoudings met ander te skep deur netwerke te gebruik.

 

Vandag beskryf jouself as ‘n “Jack of all trades” wat by baie verskillende aktiwiteite betrokke is. Vertel ons meer oor jou nie-akademiese verpligtinge en hoe jy prioritiseer om alles in te pas waaroor jy passievol is?

In my eerste jaar het ek private onderrig gegee by Tulip, ’n organisasie wat voorheen-benadeelde hoërskoolkinders help met skoolwerk en ook om aansoek te doen vir universiteit. Ek is tans in my tweede termyn by Tukkies se Moot-vereniging waar ek die eerstejaar liga-koördineerder is. By die Mootvereniging help ons eerstejaars om hul Moot-vaardighede te ontwikkel en in die proses ook hul vaardigheid om in die openbaar te praat en regsnavorsing te doen. Ek was ook betrokke by die Centre for Sexuality, Aids and Gender, waar ons mense op kampus oplei oor kwessies rondom Vigs, TB, en so meer. Ek bemoei my net met aktiwiteite waaroor ek passievol is en wat ek geniet; dinge wat my gelukkig maak terwyl ek betrokke is. As jy regtig iets geniet is dit maklik om dit ’n prioriteit te maak omdat jy ook iets kry en groei terwyl jy ander dien.

 

As jy in jou eerstejaar geweet het wat jy vandag weet, wat sou jy anders gedoen het?

My hande was regtig baie vol, maar ek wens steeds ek het in my eerste jaar meer gedoen om akademies my heel beste te lewer.

 

As jy terugkyk op jou studiejare, waarop is jy die heel trotsste?

Verseker die rol wat ek kon speel in eerstejaar Moot-studente se ontwikkeling van hul vaardighede in regsnavorsing en openbare toesprake. Dit was wonderlik om hul groei te kan fasiliteer en om te sien hoe iemand se selfvertroue groei en hoe hul leer om uitdagings aan te pak en terug te bons na ‘n terugslag.

 

Is daar iemand wat jy as ’n mentor of inspirasie beskou?

Ek sien al lank op na Oprah. Ek bewonder haar vermoë om uit te styg bo teenspoed en om deur haar ervarings te groei tot iemand wat miljoene mense kan inspireer met daardie oorvloed liefde en lewensgenot van haar.

 

Wat is die belangrikste lesse wat jy by jou ouers geleer het?

My ouers het my nog altyd aangemoedig om my outentieke self te wees in alles, en daarom kan ek meer empatie hê en outentisiteit in ander waardeer.

 

Wat beteken die Teresa Lister-toekenning vir jou?

Dit wys op ’n baie lekker manier hoe ver ek gekom en hoeveel ek gegroei het. En dit is vir my ’n enorme eer om geassosieer te word met iemand so dinamies en positief soos Teresa Lister was.

 

Waar sien jy jouself oor 10 jaar – wat is jou toekomsdroom?

Ek hoop om teen dan al in my beroep gevorder het tot ’n suksesvolle prokureur. Maar mees belangrik wil ek ’n projek in my gemeenskap begin waar ek kinders leer hoe om vrugte en groente te plant by hul skole. Ek dink dit is geweldig hartseer dat party kinders na skool huistoe gaan en honger moet gaan slaap. Ek het nog altyd groen vingers gehad en ek sal vreeslik graag vir kinders wil leer hoe om hulle eie kos te kweek. Ek glo elke skool in Suid-Afrika behoort ’n groentetuin te hê – geen kind moet ooit honger bed toe gaan nie.