Die Noord-Suid T20-skolekriekettoernooi is vanjaar in sy tweede jaar, en topkrieketskole van regoor die land sal vroeg in Oktober weer in Pretoria teen mekaar te staan kom om te bepaal wie die konings van die krieketovaal is. Ons het ’n voorskou gekry by Johan Cloete, die voorsitter van die reëlingskomitee van die toernooi…

Herinner ons net weer wat die oogmerk van die toernooi is; waar het die idee daarvoor ontstaan?
Die oogmerk is ongetwyfeld om meer geleenthede vir ons jong krieketspelers te skep om nie net die kans te kry om in T20-wedstryde teen mekaar mee te ding oor provinsiale grense nie, maar terselfdertyd nuwe vriendskapsbande te smee op en van die veld af. Tydens die toernooi kom vier van die top krieketskole van die Wes-Kaap, vier van Pretoria en twee van KZN, Noordwes en Vrystaan onderskeidelik teen mekaar te staan.

Presies wanneer en waar vind dit plaas en wie is vanjaar se borge?
Die toernooi vind die naweek van 3 tot 6 Oktober by verskillende velde in Pretoria plaas. WeBuyCars is weer die hoofborg, en ander borge sluit in Atterbury Trust, GrootFM 90.5, King Price Insurance, Vibro Bricks & Paving, Puma, Camp Discovery en IXU Sport.  Ons is baie dankbaar aan al hierdie borge wat die drome van talentvolle jong spelers help verwesenlik.  AB de Villiers is die ambassadeur van die toernooi en Anton Ferreira die beskermheer.

Hou julle by die formule van die hele toernooi, of is daar elemente wat julle anders aanpak? Vertel meer oor wat toeskouers kan verwag?
Vier van die skole van verlede jaar se eerste toernooi is vervang met ander skole en die verwagting is dat die kompetsie selfs sterker sal wees vanjaar. Toeskouers kan uitsien na sprankel-krieket en veral die suide se spanne sal beter voorberei wees as wat verlede jaar die geval was, aangesien dit effe later in die jaar gehou word.

Hoeveel skole neem deel?
Daar is agt skole uit die noorde en agt uit die suide. Die noorde word verteenwoordig deur Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Centurion, Cornwall Hill College, St Stithians College, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Rustenburg en Hoër Volkskool, Potchefstroom. Die Suidspan bestaan uit Bishops Diocesan College, Rondebosch Boys High, The South African College School (SACS), en Wynberg Boys High in Kaapstad, Grey College en St Andrews School in Bloemfontein, Northwood School en Westville Boys High uit Durban.

Camp Discovery was verlede jaar een van die grootste hoogtepunte vir die deelnemende spelers. Vertel wat daar beplan word vir vanjaar se toernooi. Hoeveel spelers in totaal sal daar tuisgaan?
Al 16 spanne gaan weer vanjaar by die uiters gewilde Camp Discovery tuis. Dit beteken dat dar sowat 240 spelers en afrigters daar gehuisves word. Die Donderdagaand, 3 Oktober, word ’n openingseremonie gehou vir alle deelnemers en dit word in die splinternuwe saal aangebied. Daar word wildsritte vir spanne beplan, en die groot swembad behoort weer genoegsame aftrek te kry. Camp Discovery gaan ook vanjaar gasheer speel vir die eindstryd, omdat Tuks nie beskikbaar is nie. Met al die insette wat Wouter van Deventer daar doen, sien ons uit na wonderlike huisvesting en programme.

Verlede jaar het Noord koning gekraai, met Menlopark as die algehele wenners. Wat reken jy is vanjaar op die kaarte?
Dit was beslis ’n toernooi wat deur die Noorde oorheers is, met Menlopark en Centurion in die eindstryd. Vanjaar, soos vroeër genoem, behoort die suidelike skole beter voorbereid te wees. Grey College, wat verlede jaar deel van die Noorde was, gaan vanjaar die Suide verder verstewig. Voeg daarby die insluiting van Bloemfontein se St Andrews’ en ook Rondebosch Boys High en jy kan verseker wees die tafel is gedek vir sprankel-krieket!

Wat het by die loting plaasgevind – wie speel eerste? En waar vind die openingwedstryd plaas?
Die loting is lewendig uitgesaai op Groot Ontbyt op 17 September, waartydens die vier groepe ingedeel is. Elke groep bestaan uit een Pretoria-skool, een Kaapse skool, een ander Noord- en een ander Suid-skool. Op Donderdag 3 Oktober om 13:30 kom Waterkloof op Sinoville se veld in Groep A teen Wynberg Boys High te staan, terwyl Centurion by PHSOB teen Rondebosch kragte meet. In Groep C speel Menlopark teen Bishops by Camp Discovery en Cornwall Hill College kom in Groep D teen SACS by Centurion te staan. Intussen speel Nelspruit teen Northwood by Hammanskraal, Potch Volkskool speel teen Westville by Irene Villagers, Grey College en Rustenburg kom teen mekaar te staan by Waterkloof en St Andrews en St Stithians voltooi die eerste rondte by Menlopark.

Vertel ons van die pryse waarvoor hierdie jong spelers meeding.
Danksy ons wonderlike borge is daar vanjaar ’n totale pryspot van R100 000. Die wenspan sal behalwe vir die trofee ook met ’n tjek van R50 000 wegstap, terwyl die naaswenners R25 000 sal ontvang, en die span wat derde kom ’n stewige R15 000. Die Plaatwenners (negende plek) sal R7 000 ryker huistoe gaan, en selfs die naaswenners in die Plaatafdeling (tiende plek) sal R3 000 kan gaan bank.

Die publiek kan ll die wedstryde gratis bywoon. Die program vir die aanvanklike rondtes is op die Facebookblad @NoordSuidT20Skolekrieket.