Hoërskool Die Wilgers in Pretoria is die jongste begunstigde in die Trust vir Afrikaanse onderwys (TAO) se projek om Afrikaanse skole toe te rus vir uitnemendheid in onderwys, om sodoende meer nuwe leerders te lok en die suksesvolle voortbestaan van die skool te verseker. In die afgelope 17 maande het dié skool danksy die lening ’n dramatiese transformasie  ondergaan. Lizette Labuschagne, die dinamiese voorsitter van die skool se beheerliggaam, deel haar opwinding met alles wat reeds bereik is.

Hoe het dit gebeur dat Die Wilgers vir die projek goedgekeur is – moes julle spesifiek motiveer?
Die beheerliggaam van die skool moes skriftelik aansoek doen en dokumentasie verskaf met ’n volledige projekplan en begroting, waarna ’n formele omsigtigheidsondersoek gedoen is voordat die projek goedgekeur kon word.

Wat was die grootste behoefte wat geïdentifiseer is, en wat is heel eerste aangepak?
Die belangrikste doelwit van die besigheidsplan is om die leerdertal van die skool oor ’n periode van vyf jaar met 35 leerders per jaar, tot maksimum kapasiteit te verhoog. Om dit te doen, wou ons eerstens die beeld van die skool verbeter deur die opgradering van sport-, IT- en ondersteuningsfasiliteite.

Jy noem goeie sportsfasiliteite; en dit is natuurlik is dikwels ’n trekpleister waarna ouers van voornemende leerders kyk. Wat het julle op sportgebied opgeknap?
Die heinings rondom die sportvelde en beide die netbalbane en die atletiekvelde is reggemaak. Dit het die sportgronde se hele voorkoms verbeter en ons kan nou met trots die fasiliteite gebruik en spanne van ander skole ontvang. Dis inderdaad nou so spoggerig dat ons ons fasiliteite vir derde partye kan beskikbaar stel om ekstra geld in te samel.

Is daar enige aanbouwerk gedoen, of was meeste van die verbeterings kosmeties van aard?
Hoewel daar wel heelwat kosmetiese verbeterings aangebring is – al die dakke van geboue op die skoolterrein is byvoorbeeld geseël en nuutgeverf – is daar ook nuwe sportbadkamers aangebou langs die sportvelde. Die nuwe seuns- en meisiesbadkamers sal ’n groot aanwins wees tydens sportbyeenkomste; en dit help natuurlik ook baie om die skool se beeld te bevorder. Die verfprojek sal voortgesit word; die res van die skoolgeboue se mure, die relings en die heinings sal ook ’n nuwe verfbaadjie kry in die volgende fase van die projek.

Watter ander fasiliteite is opgegradeer as deel van die projek?
Ons hele IT-infrastruktuur is verbeter; beide in die skool se admin-afdeling en in die rekenaarsentrums. Die adminpersoneel het ’n nuwe bediener en sewe nuwe rekenaars gekry en ons het 55 nuwe rekenaars vir die IT en RTT-sentrums aangekoop en geïnstalleer, asook nuwe tafelblaaie om die sentrums se uitleg so effektief moontlik te maak.

Daar is ook ’n nuwe kamerastelsel geïnstalleer om beter sekuriteit te verseker, en ook om dissipline te handhaaf. Ons kon selfs die skoolbussies laat regmaak met paneelklopwerk sodat die skool se handelsmerk mooi netjies daarop aangebring kon word met die doel om ’n postiewe beeld van die skool uit te straal. Die oppervlak van die inrypad langs die koshuis is gelykgemaak en plavei, met die uitkoms dat die algemene voorkoms van die terrein aansienlik verbeter het!

Het die TAO-befondsing alles gedek wat julle wou doen, of is daar verdere behoeftes?
Ons lys van verbeterings wat ons graag wou hê, was langer as waarvoor TAO kon voorsien. Ons het plan gemaak en die skool het self gelde ingesamel en die gemeenskap het bygedra. Verdere verbeteringe kon aangebring word, soos om die bestaande sportbadkamers te verf en te verfraai, en die slotte te vervang. Die badkamers lyk nou baie mooi versorg en ons het al heelwat komplimente van besoekende ouers gekry! Voorts het die 2016 matriekulante besluit om die opbrengs van hulle fondsinsameling te skenk om die skool se badkamers te laat opgradeer. Daar is nuwe spieëls opgesit, teëlwerk gedoen en geverf om die badkamers ’n hele nuwe baadjie te gee.

Ons verstaan julle is so gelukkig om ouers te hê wat benewens donasies ook baie van hulle tyd en vernuf bydra om te help met die verbeterings. Vertel ons meer?
Ons ouers is besonders toegewyd en dit maak ’n daadwerklike verskil. Met die ouers se hulp is nuwe sluitkassies vir die leerders gekoop en geïnstalleer, die tafels en bankies by die snoepie is opgekikker met nuwe verf, en die ouers het saam met ons personeel ingespring met pik en graaf om die tuine op te knap. Verder is die bome gesnoei met toerusting wat die ouers goedgunsteglik geleen het en hope plante is deur die gemeenskap geskenk om ons tuine behoorlik te verfraai. Ons kon selfs ’n nuwe sleepwaentjie koop om die skoolterrein mooi netjies en skoon te hou. Die krieket-oefennette is vir die krieketseisoen tydelik opgegradeer – die idee is om die oefenruimte in ’n meerdoelige mini-astro-tipe oefenbaan te omskep waar aksiesportsoorte beoefen kan word. Ons sal dié fasiliteit dan ook kan uithuur vir verdere fondswerwing.

Waaroor is jy persoonlik die mees in jou skik?
Ek is opgewonde oor die positiewe impak wat die verbeteringe by die skool op die hele gemeenskap het. Ek ervaar dat die ouers en kinders in die omgewing weer vertroue in die skool het, omdat hulle gesien het wat alles in ’n redelike kort tydjie vermag kan word. Ons het beslis wonderwerke in hierdie tyd beleef.

Wanneer sal die opknappingsprojek heeltemal voltooi wees? Beplan julle ’n viering of ’n amptelike opening van nuwe fasiliteite?
Die projekte wat deur die TAO befonds is, is reeds so te sê afgehandel. Verdere opknappingsplanne gaan egter voort en sluit in ’n opgradering van die skool se ingang om  voorsiening te maak vir ‘n gerieflike wagarea vir die leerders, asook verbeterde toegangsbeheer by die hekke en opknapping van die ingangsportaal. Ons is ook in die proses om nuwe stoele vir die hele skool aan te koop. Fondse vir hierdie projekte moet nog gewerf word. Ons sal ook graag die skoolsaal en personeelkamer wil opknap sodra voldoende fondse beskikbaar is.

Die feesvieringe en inhuldiging van die nuwe fasiliteite sal later in die jaar tydens die Wilgie-Wieledag plaasvind.