Adele Walker vertel aan MaroelaMedia hoe haar behoefte aan mede-Suid-Afrikaners haar gelei het om SAFFAevents te begin, ’n onderneming wat in Engeland promosies en funksies aanbied.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself:
Ek is ʼn Suid-Afrikaner wat in Engeland woon; ek het grootgeword in Secunda, Springs en Orkney. Ek het twee kinders en ek het voorheen in die mediese veld gewerk; ek was ʼn verpleegster wat in die teater gewerk het in hospitale. Ek het destyds my opleiding in Pretoria-Wes ontvang.

Hoekom het jy juis hierdie soort besigheid aangepak?
Dit was die verlange na Suid-Afrika en veral die verlange na my mense… Suid-Afrikaners. Ons het vir ses jaar in Engeland gewoon en nie een Suid-Afrikaner daar geken nie. Ons het op Facebook gesien daar was ʼn braai vir Suid-Afrikaners en ons het daarheen gegaan. Ek was so opgewonde ek het sommer net daar en dan vriende gemaak in die parkeerarea! Ek het ook net daar besluit ek gaan nog ʼn braaigeleentheid reël, want ek wou nog meer Suid-Afrikaners leer ken. Van daar af het ek baie Suid-Afrikaanse funksies gereël.

Vertel ons ’n bietjie watter soort funksies reël julle?
Dis meestal konserte waar bekendes kom optree. Ons het al mense soos Barry Hilton en die Parlotones gevra om te kom optree. Deesdae hou ons ook ’n “Cape Town Funny Festival” hier in die hartjie van Engeland.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?
As ek my eie funksie reël, het ek mense nodig om na my funksie toe te kom. Ek bereik dan mense deur advertensies op sosiale media te plaas, byvoorbeeld Facebook. Ek gaan gereeld ook na ander Suid-Afrikaanse funksies wat ander mense reël. Ek doen ook promosiewerk vir maatskappye soos KYKnet en Showmax, en daardeur word die woord oor ons funksies versprei. Ons bemark ook die bring-en-braai vir Suid-Afrikaners in Engeland.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?
Om ʼn vriendin aan te stel in ʼn belangrike posisie in my onderneming, eerder om te soek vir die regte persoon vir die werk. Dit was ʼn emosionele besluite en ek het daardeur geleer. Ek sal dit beslis nie weer doen nie.

Wat is jou grootste swakheid?
Ek is baie ongeduldig! As ek iets gedoen wil hê, moet dit vandag gedoen word. Met ander woorde ek word baie gou kwaad as iemand my nie dieselfde dag kan help nie.

Wat is die een gewoonte wat jy wens jy kon gehad het?
Ek wens ek was meer geduldig, en rustiger. Alles in my lewe is so gejaag; ek sou graag meer stilstaan en perspektief kry, en besef dat daar is ʼn lewe daar buite…

Watter sagteware is vir jou die belangrikste?
Vir persoonlike gebruik sal ek sê dit is my sosiale media, want dit baie belangrik vir my besigheid. Tweedens sal dit my e-posse wees. En derdens sal dit dan ook my bank-app wees, want ek moet die heeltyd weet hoeveel geld is in my bankrekening!

Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn moet-lees boek?
Michael E Gerber se The E-Myth en die ander een is The Secret.

Wie inspireer jou?
Eerstens Tina Turner, oor haar lewensverhaal. Maar dan ook alle vroue wat van niks af ʼn sukses van hulle lewens gemaak het. Ek het groot bewondering vir vroue wat dit regkry.

Wat is jou gunsteling aanhaling?
“Niks is onmoontlik nie” – dit is die belangrikste vir my.

As jy môre moes oorbegin, watter soort besigheid sou jy begin met alles wat jy vandag weet?
Ek is juis besig om ʼn “relokasie”-onderneming op die been te bring. Dit sal werk met die groot ingenieursfirmas, wat hele families verskuif na ander lande toe.

Hoe kan mense met jou kontak maak?
Tree gerus met my in verbinding op Facebook: Adele Walker. Ons webwerf is www.saffaevents.com

Die onderhoud het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

Podsending: Speel in ’n nuwe venster