S-leer, Solidariteit se nuwe sentrum vir voortgesette leer, het vandeesmaand amptelik geopen en sommer dadelik afgeskop met ʼn seminaar, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Belangstellendes kon ʼn voorsmakie kry van die soort aanbiedinge wat hulle in die toekoms by die sentrum kan bywoon.

Solidariteit is tans besig om verskeie beroepsgildes vir onder meer medies, regte en onderwys op die been te kry. Hierdie gildes gaan as beroepswaghond dien, maar ook geleenthede, beurse en internskappe aan Afrikaanse studente in daardie beroepe bied. 
S-leer gaan die opleiding vir voorgesette professionele ontwikkeling (VPO) punte en ook opleiding vir voortgesette leer aanbied vir personeel wat reeds in die beroepe staan.

Volgens Leana Leonard, besturende direkteur van S-leer, is hulle opgewonde oor die nuwe sentrum wat opleiding in Afrikaans gaan aanbied. “Bo en behalwe seminare en kort kursusse, wil ons in die nabye toekoms ook aandag skenk aan ʼn e-leer-aanbod, wat hierdie opleiding selfs nog verder sal vergemaklik, veral wanneer mens nie die luukse het om die kantoor vir ʼn aantal ure te verlaat nie,” het Leonard gesê.

S-leer sal daarop fokus om gerespekteerde kenners of spesialiste in hul gebied te nader om as sprekers by hierdie seminare op te tree, om so ook waarde toe te voeg vir elke professionele persoon wat hierdie opleidingsgeleenthede bywoon.

Twee sprekers het tydens die eerste seminaar opgetree. Tertia Putter, ʼn direkteur en stigter van die maatskappy Wellness Africa, het ʼn sessie oor welstand aangebied, terwyl Dr. Mario Denton, ʼn bedryfsielkundige en internasionale dosent met twee meestersgrade agter sy naam, met die mense oor leierskap en “lyerskap” gesels het.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, wil mense ʼn goeie werk hê en dus moet lewenslange leer en ontwikkeling ʼn leefwyse word. Dit is waar S-leer inkom vir voortgesette leer in professionele ontwikkeling. “S-leer gaan help om mense op hul loopbaanpad te belei en om op die voorpunt van hul loopbane te kom en daar te bly. So kan hulle dan in die toekoms ander help en lei,” het Buys gesê.

Besoek www.maroelamedia.co.za vir daaglikse nuus, debatte, rubrieke en baie meer, in Afrikaans.