Afrikaans is ʼn geliefde taal wat deur baie mense van verskeie kulture en dialekte gepraat word, maar dis ook ʼn taal wat nie altyd ʼn positiewe beeld het nie. Dis juis om dié rede dat “Veldtog Afrikaans” van stapel gestuur is – om te wys dat Afrikaans hom nie steur aan ras of kultuur nie, maar dat hy net gepraat, gelees en gevier wil word, skryf Maroela Media op hul webwerf

Onder die vaandel van “Veldtog Afrikaans” is ʼn nuwe webwerf genaamd Afrikaans.com geskep – ʼn plek waar jy alles oor Afrikaans kan gaan lees, hetsy oor ʼn organisasie, projek of fees. Enigiets wat bydra tot die Afrikaanse landskap kan op dié webwerf gevind word.
Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com, sê die doel van hierdie projek is om die mooi en die positiewe van Afrikaans uit te lig.
“Wat ons vasgestel het met ons navorsing is dat daar ongelooflike Afrikaanse organisasies en projekte in Suid-Afrika is, maar dat die publiek nie altyd weet waarheen om te gaan wanneer hulle meer inligting soek nie. Afrikaans.com skep ʼn sentrale platform waarheen mense kan gaan wanneer hulle enigiets oor Afrikaans wil weet.

As jy iets wil weet oor feeste, boeke, musiek of onderwys of selfs taal- en hulporganisasies, dan besoek jy Afrikaans.com, en dan lei dié webwerf jou na die betrokke organisasie se webwerf waar jy meer inligting kan kry.”

Milanie sê hulle wil nie die publiek voorskryf oor hoe Afrikaans lyk nie, omdat dit vir elkeen verskillend lyk. Juis daarom is die boodskap van die veldtog: Hoe lyk jou Afrikaans? Die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die “Hoe lyk jou Afrikaans”-kompetisie en te wys wat hul roer en raak in Afrikaans.

“Mense kan gedigte, video’s, foto’s of selfs net hul ondervinding met ons deel oor hoe Afrikaans vir hulle lyk – daar is reeds meer as 500 wonderlike inskrywings!” Besoek Afrikaans.com (http://www.afrikaans.com/) vir enige inligting wat jy benodig oor Afrikaans. Skryf hier (http://www.afrikaans.com/wen/skryf-in) in vir die “Hoe lyk jou Afrikaans”-kompetisie.

Hierdie storie het oorspronklik op maroelamedia.co.za verskyn