Stroop, die belangrike dokumentêre rolprent oor Suid-Afrika se bedreigde renosters, stel vandeesmaand ʼn kalender vir 2017 bekend, skryf Maroela Media op hul webwerf. Maroela het met Bonné de Bod, bekroonde televisie-aanbieder en ster van Stroop, gesels om meer uit te vind.

Dis ‘e kalenders lyk fantasties, vol foto’s wat die krisis uitbeeld met ‘n tema vir elke maand, darem sonder om die aaklige realiteit grafies te wys. Hoekom ʼn Stroop-kalender?

Soos jy weet, word ons rolprent finansieel deur die publiek gesteun en daarom voel ek dat die publiek deel moet bly van die prent se proses. Dis ook hoekom ons so aktief is op Facebook, Twitter en Instagram: ons konneksie met die publiek – aan wie die prent behoort – is so belangrik. As ons ʼn inhegtenisneming saam met die veldwagters in die Krugerwildtuin verfilm of saam met die staatsaanklaers in die hof is, kan ons natuurlik nie regstreeks tweet nie. Die laaste ding wat ons wil doen is om ʼn saak in gevaar te stel. Maar die kalender het na ʼn wonderlike manier gelyk om iets aan die publiek terug te gee. Ons vennoot in die drukwerk, Burblepix, het die prys drasties verminder sodat ons dit vir so min as R199 met gratis aflewering vir twee of meer kalenders in Suid-Afrika kan doen. Jy kan dit kwalik klop en die kwaliteit is uitstekend.

Januarie gaan oor die Krugerwildtuin en September is veldwagter-maand, en daar is pragtige foto’s met diep woorde uit die veld oor jou tyd saam met die veldwagters in die park. Dit klink na ‘n ongelooflike ervaring…

Ja, en om die waarheid te sê, ek is pas terug van die Krugerwildtuin waar ek tyd deurgebring het saam met die spesiale eenheid van veldwagters en honde wat teen die stropers patrolleer. Ek moet dit net benadruk – die aanslag op ons renosters is genadeloos. Die intensiteit in die park is ongelooflik hoog en daar is daagliks tot 15 bendes stropers wat die park binnedring. Dit is ongelukkig waarmee ons renosters en hul beskermers tydens die feesseisoen te doene het. Stropers wil ʼn vinnige paar rand verdien en die sindikate weet dit. Dit is ongetwyfeld die beste tyd van die jaar vir kriminele sindikate. As jy daaraan dink dat die Krugerwildtuin so groot soos Israel is, kan ʼn mens verstaan dat dit nie ʼn maklike taak is om die park te verdedig nie. Twee miljoen hektaar met moeilike terrein. Maar selfs onder hierdie moeilike omstandighede het die veldwagters die afgelope maand ‘n rekordgetal stropers in hegtenis geneem – in een week was daar 18.

Die veldwagters het my verseker dat hulle gereed is vir wat die volgende paar weke voorlê, maar vra die publiek om bewus te wees van hul teenwoordigheid. Dikwels sal die veldwagters op pad om ‘n stropersinsident te hanteer, geblokkeer word deur die motors van mense wat byvoorbeeld leeus dophou, en dan kan hulle nie verbykom nie. Die toeriste laat hulle eenvoudig nie deur nie! Hoe absoluut onaanvaarbaar!. Ek doen ʼn beroep op mense wat die park tydens die feesseisoen besoek om bedagsaam te wees teenoor die veldwagters wat daagliks hul lewens op die spel om ons erfenis veilig te hou.

En ek wil mens ook vra om die rolprent te ondersteun en te help om dit onafhanklik te hou deur ʼn 2017 Stroop-kalender te koop by www.sdbfilms.com/stroop-film. (http://www.sdbfilms.com/stroop-film)

Meer oor die kalenders

Die mooi hoë-resolusie foto’s in die kalender is almal geneem tydens die verfilming van Stroop; op die slagvelde van die Krugerwildtuin en iMfolozi waar die veldwagters sonder verwyl werk om ons renosters te beskerm; die plase en private reservate van renoster-eienaars; selfs die hofsale waar die slagveld verander om stropers en sindikaatleiers suksesvol te vervolg. Dit wys die mense wat na getraumatiseerde wees-renostertjies omsien en hulle rehabiliteer; die veeartse, wetenskaplikes en navorsers wat renosters in die veld behandel, onthoring en selfs operasies op hulle uitvoer.

Al die belangrike omgewingsdae is op die kalender aangedui, en ook volmaandae wat ons keer op keer herinner aan die pogings om ons renosters in hierdie tyd te beskerm. Die volkleurkalenders is van omgewingsvriendelike papier gemaak wat van volhoubare bosboupraktyke afkomstig is. Die opbrengs van die kalenders sal gebruik word om die rolprent te voltooi en om dit onafhanklik te hou.