Op die onlangse Boekejolfees was die boekbesprekings met skrywers baie gewild, en hierdie gesprek met jeugskrywer Keina Swart, het van die meeste kommentaar uitgelok, skryf Adéle Changuion op Maroela Media se webwerf.

Keina Swart het onlangs haar eerste jeugboek, Bloujaar, gepubliseer en het die kwessie van hoe ‘n mens ‘n lewenslange liefde vir lees by jou kinders in diepte met met Ilze Salzwedel bespreek.

Ilze, wat as gesprekleier opgetree het, sê daar is soms die persepsie dat ʼn mens ʼn sekere soort boek moet lees voordat jy as ʼn “regte leser” beskou kan word. “Ons moet ophou om snobisties te wees oor wat ons kinders lees. Solank hulle net lees, dit is die belangrikste.”

Keina het dié stelling beaam en sê as jou kind van strokiesprente hou of selfs die Internet gebruik om te lees, is dit ook wonderlik. Sy sê ook dat ʼn liefde vir lees op ʼn jong ouderdom by kinders gekweek moet word. “Dis baie moeilik om jou kinders lief te maak vir lees as hulle eers ouer is. Dis nie onmoontlik nie, maar dis baie moeilik.”

Sy vertel hoe sy haar eie kinders op baie jong ouderdom begin blootstel het aan boeke en woorde en dat haar dogters baie lief is vir lees. “My seun moet ek partykeer betaal om te lees, maar hy lees ook.”

Die gehoor het lekker gelag want hulle meen ook dat seuns dit soms moeiliker vind om lief te raak vir lees. Een van die vroue wat die bespreking bygewoon het, het vertel hoe sy en haar man dié moeilike taak kon regkry. “Toe my twee seuns nog klein was het my man saam met hulle gebad en FA Venter se boeke vir hulle voorgelees. Hulle albei is vandag nog lief vir lees.”

ʼn Onderwyseres het ook vertel dat sy vir haar leerlinge soms voorlees, en die woordeboek gebruik vir oulike woordspeletjies. “Die kinders is mal daaroor!” Die belangrikheid van lees en leermetodes is ook bespreek en sommige het genoem dat die ou manier om kinders te leer lees, weer teruggebring moet word in skole.

Daar is heelwat ervarings gedeel tydens die bespreking en dit is benadruk dat ʼn liefde vir lees oorgedra kan word en dat dié taak by ouers lê. Met die druk waaronder vandag se kind verkeer is lees sekerlik een van die beste uitlaatkleppe asook ʼn gesonde manier van ontvlugting. Elke boekwurm weet dat wanneer jy in jou boeke-wêreld is, die regte wêreld se probleme nie meer so groot lyk nie.

Wenke om jou kind lief te maak vir lees:
• Begin om jou kinders op ʼn jong ouderdom bloot te stel aan boeke. Ouers moet ook self lees – dit stel ʼn goeie voorbeeld.
• Gebruik meer tyd wat aan televisie afgestaan word vir lees.
• Doen moeite om ʼn boek te kry waarvan jou kind sal hou.
• Hou boekbesprekings vir die hele gesin.
• Lees gereeld vir jou kinders voor.
• Speel woordspeletjies.
• Sakgeld vir elke boek wat gelees is kan ook as motivering gebruik word.

Vir nuus, debatte en baie meer in Afrikaans, besoek www.maroelamedia.co.za

http://maroelamedia.co.za/blog/afrikaans/hoe-leer-n-kind-liefde-vir-lees-aan/