Atterbury is geweldig opgewonde om ‘n aandeelhouer te wees in die eiendom van Laerskool Die Krans, die hartsprojek van stigter en skoolhoof Janetta van NIekerk, wat passievol is oor haar roeping as toesighouer oor kindertjies in hul eerste skooljare. Sy vertel ons hoe haar filosofie oor onderwys gelei het tot hierdie unieke “plaasskooltjie in die stad”

Hoe het Die Krans tot stand gekom?
Ek is in 2004 gevra om ‘n kleuterskool te begin vir NG Skuilkransgemeente, en so het Kransjakkers begin. Die skool was deel van die jeugbediening, so hulle het fasiliteite tot ons beskikking gestel en die gemeente het ons met passie ondersteun. Later het Kransjakkers Laerskool Die Krans geword, en ons skooltjie is nou 11 jaar oud.

Hoeveel kinders gaan hier skool en hoe vergelyk dit met heel aan die begin?
Ons het in 2004 begin met 12 kinders en in 2016 gaan daar 330 wees. Ons bedryf die skool as drie afsonderlike afdelings (Kransjakker kleuterskool, Die Krans Grondslagfase en Die Krans Intermediêre fase). Kleintjies van 18 maande tot vyf jaar is by die kleuterskool, van Graad R tot 3 is hulle in die grondslagfase van Laerskool Die Krans. In die Intermediêre fase het ons nou ons eerste Graad 5s. Ons glo dat elke ouderdomsgroep besonders is en dat ‘n kind die kans moet hê om daardie fase ten volle uit te leef sonder dat ‘n ouer kind domineer of meerderwaardig toekyk.

Is die aanvraag groot?  Moet julle kinders wegwys en hoe kies jy?
Die aanvraag groei konstant en dis waarskynlik as gevolg van die besondere karakter, Christelike aard en familiegerigte werkswyse van ons skool. Ons volg nie ‘n keuringsproses nie. Dié wat eerste aansoek doen, word eerste gehelp. Boeties en sussies van reeds ingeskrewe kinders kry voorkeur. Ons is gewoonlik teen Mei reeds vol vir die volgende jaar. Ons het kinders wat al vir twee jaar op ‘n waglys is.

Hoe het dit gebeur dat Atterbury Trust by die Krans betrokke geraak het?
Ons noue pad met NG Skuilkransgemeente het begin skei en ons het toe ‘n maatskappy sonder winsbejag gestig. Alle ouers wat skoolgelde betaal, is lede van hierdie maatskappy. Ons het vinnig besef dat ons ‘n beduidende verskil in mense se lewens maak en daarom moes seker maak dat die skool ontwikkel. Ons het ‘n besigheidsplan opgetrek en sakelui begin spreek. Na verskeie draaie het ons by Atterbury Trust uitgekom, wat as een van sy hoofdoelstellings die bevordering van Afrikaanse opvoeding het, en nou is ons vennote!

Wat glo jy is die belangrikste aspek van die eerste jare van onderwys?
‘n Kind se ervaring van sy wêreld gedurende sy eerste nege jare is van kardinale belang. Ek glo dat mens dan besig is om ‘n fondasie van ‘n lewenshuis te grawe. As die fondasie sterk is, kan mens ‘n kasteel daarop bou. Wanneer daar egter krake in die fondasie is, is dit baie moeilik herstelbaar op ‘n latere ouderdom. Ons Westerlinge maak gewoonlik die fout om te gou te begin bou aan die “lewenshuis” pleks van te wag tot die “fondasie” sterk genoeg is.
‘n Kind op hierdie ouderdom moet sukses ervaar en in homself glo. Hy moet beleef dat die lewe vir hom “ja” sê, ongeag sy potensiaal. Kinders wat gelukkig is, veilig voel en tuis is, wil leer.  Wanneer kompetisie nie vooropgestel word nie, kan ‘n kind presteer. Kinders moet toegelaat word om foute te maak; dit is deel van die lewe. Ons het die uitdrukking by ons skool dat dit elke juffie se taak is om elke dag op elke kind se kop denkbeeldig ‘n kroon te sit.

Jy glo daaraan om elke kind se menswaardigheid te troetel en ontwikkel. Hoe word dit prakties uitgevoer?
Tot en met ongeveer nege jaar is ‘n kind in ‘n selfsugtige fase van sy lewe. Ek glo dat dit met ‘n doel is: hulle is nog besig om hulself te ontdek en te bepaal wie hulle is. Dit is daarom belangrik om ‘n kind daar te gaan ontmoet. By ons is daar elke oggend ‘n onderwyseres aan diens by die skoolhekkie. Elke kind word persoonlik gegroet en daar word nog toepaslike vrae gevra: “Ek sien jou hare is gesny?” of “Kuier Ouma nog by julle?” Die belangrikheid wat hierdie belangstelling in ‘n kind se lewe uitstraal, is van onskatbare waarde. Om ‘n kind se eiewaarde te verhoog, glo ons ook dat hulle onvoorwaardelik aanvaar moet word. Daarom word enige kind in die grondslagfase aanvaar vir enige sportspan of koor of revue-groep. ‘n Kind wat deel van so ‘n span of groep wil wees, is in, ongeag sy vaardighede. Daar vind in elk geval ‘n natuurlike ontdekking tussen vaardigheid en belangstelling plaas, en kinders kies gewoonlik teen Graad 3 self om deel te wees van aktiwiteite waarin hulle vaardighede ook het. Die geheim lê daarin dat ‘n kind dit self moet ontdek. Ons taak as volwassenes is om gedrag aan te spreek, maar nie die wese van ‘n kind te bevraagteken nie.

Glo jy julle model – privaatskool as maatskappy, met ouers as deel is van die maatskappy – is die toekoms vir onderwys in SA?
Daar hang op die oomblik ‘n donker wolk oor onderwys in ons land. Skoolhoofde van staatskole is onder geweldige druk en ek dink dit is ‘n groot uitdaging om ouers, personeel en die onderwysdepartement gelukkig te hou en die primêre fokus op die kind se welstand te behou.
Elke kind verdien die voorreg om aanvanklik in moedertaal onderrig te word. Taal is meer as net ‘n kommunikasiemiddel, dit is deel van mens se identiteit. Engels as ‘n tweede taal is belangrik, omdat dit is hoe ons met mekaar en die wêreld kan kommunikeer. En elke Suid Afrikaner behoort ook ‘n inheemse taal aan te leer om respek vir mekaar te wys en deure oop te maak.
Onderwys en veral kleinkinderonderwys is ons land se enigste oplossing. Alle moontlike geld moet daarin geïnvesteer word. Ons is baie ver van ‘n ideale onderwyskultuur vir elke kind in hierdie land en ek glo dit is moontlik.

Wat is jou droom vir Die Krans – waar hoop jy is julle oor nog 11 jaar?
Vir my is die heel belangrikste dat die skool sy besondere karakter sal behou. Hierdie is ‘n kleinnood van mensemateriaal wat in die groot dam van die wêreld ‘n rimpeling effek kan teweeg bring. Ek sou eerder nog so ‘n skool wou begin as om die skool te groot te laat word. ‘n Klein kind wil raakgesien word, wil uitstaan, konformeer nie met die groep nie en moet dus in ‘n kleiner opset hanteer word. Ons hoop om oor 11 jaar ‘n volledige skool te wees tot Graad 7 met twee klasse per ouderdomsgroep. Ons is op nóg ‘n vlak baie dankbaar teenoor Atterbury Trust en dit is dat hulle dit vir ons moontlik gemaak het om deel te wees van die vennootskap wat nuwe sportgronde langs die N1 en N4 ontwikkel – dis naby ons skool en gaan groot verligting bring vir ons sportbehoeftes.

Vir meer inligting oor Die Krans, besoek http://www.diekrans.org.za/