Atterbury Trust se beurspaneel het ’n beursprys beskikbaar gemaak vir Op die spel, kykNET se jaarlikse hoërskool-spelkompetisie, en ’n Kaapse uitblinker wat nie net sewe onderskeidings in matriek behaal het nie, maar ook as sy skool se Dux-leerling aangewys is, het die groot prys losgespel. Ons het gesels met Christiaan de Beer, wat vanjaar met sy mediese studies by Maties begin het.

Baie geluk met die eerste plek! Vertel ons meer van die spelkompetisie.
Dit was Op Die Spel, ’n spelkompetisie wat jaarliks op kykNET uitgesaai word. Atterbury Trust was een van die hoofborge en die studiebeurs aan die Graad 11-wenner was die groot prys. Die kompetisie is opgeneem in 2017 (toe ek in Graad 11 was), maar is verlede jaar Februarie en Maart uitgesaai, toe ek in matriek was.

Teen hoeveel ander het jy direk meegeding?
Tydens die uitkloprondes en die semifinaal het ek teen sewe ander Graad 11-leerlinge deelgeneem en in die finale rondte was daar een elk van ons in Graad 8, 9 en 10. Altesaam 32 van ons het aan die kompetisie deelgeneem.

Was dit ’n openbare storie waar jy voor mense moes opstaan en spel, of hoe het dit gewerk?
Die episodes is vooraf opgeneem by Stark Studios in Johannesburg, en het nie ’n gehoor gehad nie. Die enigste mense in die ateljee was die spellers, aanbieders en die tegniese span. Dit maak ’n mens nog meer op jou senuwees!

Wat was die moeilikste woord wat jy reggespel het? Dink jy dis hoekom jy gewen het?
Die woorde wat ons in die kompetisie moes spel was nie noodwendig moeilik nie. Die moeilikheids-aspek van die hele storie kom in wanneer jy ’n vraag gevra word, en dan die eerste persoon moet wees wat dit reg beantwoord en dit reg spel. Tydens die semifinaal was my laaste vraag “Wat noem ’n mens ’n dokter wat spesialiseer in die hart en bloedvate”. Toevallig was my droom toe om ’n mediese dokter te word, en het ek geweet dat die antwoord “k-a-r-d-i-o-l-o-o-g, kardioloog” is.

Mense wat goed spel is dikwels ook lief om ander mense se spelfoute uit te wys (veral op Facebook). Is jy so iemand? Weet jou vriende jy is ’n spelguru, of is dit maar net een van jou baie talente?
Ek korrigeer nooit mense se foute op sosiale media nie, omdat boodskappe aanlyn baie maklik verkeerd geïnterpreteer kan word. My vriende weet egter dat ek baie lief daarvoor is om hulle te korrigeer. Tog bly hulle my vriende, so dit is seker nie so erg nie. My vriende is ook die mense wat tydens ons matriekjaar die heeltyd op my knoppie gedruk het om hul opstelle te proeflees. So hulle trek seker voordeel daaruit.

Wat is die algemene spelfout wat jou die meeste laat gril, of pla spelfoute jou nie?
Spelfoute pla my nie gewoonlik nie, maar ek moet sê as mense reken “waardeer” word “waardeur” gespel laat dit my soms gril!

Wou jy van kleinsaf ’n dokter geword het, of het jy in ander rigtings belanggestel?
Ek het myself oorspronklik gesien as ’n koordirigent, omdat koorsang een van my groot passies is, maar ek het van plan verander toe ek in Graad 11 Biologie as vak begin neem en heeltemal verlief geraak het daarop!

Het jy geweet jy staan ’n kans om ‘n studiebeurs los te spel? Wanneer het jy uitgevind, en hoe was dit om die nuus te kry?
Toe ek aanvanklik vir die kompetisie ingeskryf het, het ek nie geweet dat daar enigsins pryse op die spel is nie. Ek het gedink dit gaan bloot op TV uitgesaai word. Maar ja, ek was aangenaam verras toe hulle voor die opname van die eerste episode vir ons van die prysgeld vertel het. Dit het my gemotiveer om my senuwees onder beheer te kry en te fokus.

Wat beteken hierdie beurs vir jou? As jy nie die beurs gekry het nie, hoe sou jy vir jou studies betaal het?
Die studiebeurs beteken baie, veral vir my ouers, want dit verlig ’n reuse finansiële las wat op hul skouers sou gerus het!

Het jy nou al ervaar wat dit beteken om in Atterbury Trust se beursfamilie te wees? Al van die ander studente ontmoet?
Ek ken toevallig van die studente al van kleintyd af, maar ek het eers onlangs uitgevind dat hulle ook by Atterbury Trust se beursskema betrokke is. Ek het ’n dag voor my universiteitsloopbaan begin het vir Leonie van Gro-Life by Atterbury se kantoor in Stellenbosch ontmoet vir ’n lekker kenmekaar-sessie.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees? Wil jy spesialiseer?
Oor 10 jaar is ek hopelik hard aan die werk besig om te spesialiseer. Op die oomblik is trauma een van die rigtings waarin ek belangstel, maar niks is nog definitief nie. Baie mense dink hulle weet voor hulle begin studeer, maar dan vind hulle ’n ander rigting wat hul belangstelling meer prikkel. Dus gaan ek die volgende ses jaar gebruik om blootstelling aan alle mediese rigtings te kry, sodat ek ’n ingeligte besluit kan maak.

Atterbury Trust administreer die beursfonds namens ons talle wonderlike weldoeners en skenkers. Skenkers ontvang A18-belastingsertifikate vir elke skenking, kliek hier om meer uit te vind.