Atterbury Trust se beursprogram het oor die jare meer as 700 studente se lewens verander deur buite-bereik tersiëre studies moontlik te maak vir verdienstelike studente wat weens finansiële nood andersins nie verder sou kon swot nie. Ryno Smith is een van die mees onlangse groep graduandi, en het verlede jaar sy meganiese ingenieurswesegraad by Tukkies behaal en sommer ook sy eie besigheid. begin. Hy deel sy storie.

Jy was skaars gekwalifiseer of jy was blitsvinnig reeds aan die werk op ’n myn! Is dit ’n nuwe permanente pos, of wat is jou planne vorentoe?
Ons is verlede jaar deur Anglo American gekontrakteur, via die Universiteit van Pretoria, om ’n instrumentasie-installasie op hulle Anglo Converter Plant (ACP) omskakelaar in Rustenburg te doen. Dit is in Januarie afgehandel. Ek is daarna permanent aangestel deur Klopper Engineering Consulting in Wapadrand, wat die hoofkontrakteur op die Anglo-projek was. Ek doen ook steeds privaatkonsultasies soos my tyd dit toelaat, en pas dit na ure in. Dis baie werk, maar ek is baie gelukkig waar ek is en ek leer vrek baie elke dag!

Wou jy van kleinsaf ’n ingenieur word, of hoe het jy hierby uitgekom?
Ek het eers op hoërskool besef wat ingenieurs doen en wou aanvanklik ’n chemiese ingenieur word. Nadat ek in Junie van my matriekjaar vakansiewerk by ’n ingenieurs-firma gedoen het, het ek geweet meganiese ingenieurswese is vir my beskore. As ek nou terugkyk na my kleuterskool-dae bevestig dit my loopbaan keuse, want die behoefte om speelgoed uitmekaar te haal en te verstaan hoe dit werk, is al van kleintyd af daar.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom, en hoe het dit jou lewe verander?
Ek was op skool in die Voortrekkers, en in matriek tydens ons Presidents-verkenner-kamp het Tannie Danita Meiring, my groepleier, met ons gesprekke gevoer oor ons toekomsplanne. Die realiteit was dat dit deesdae amper onmoontlik is vir ’n Afrikaanse student om ’n studiebeurs te kry. Sy en haar man, Mauritz, het voorgestel dat ek Atterbury Trust kontak en uitvind of ek vir ’n studielening sou kwalifiseer. Die gemoedsrus om te weet ek hoef nie oor die befondsing van my studies te bekommer nie, het einde matriek baie druk van my afgehaal en ek kon baie goeie matriekuitslae behaal. Verder het die Trust my toegelaat om my passie te volg en ‘n ingenieur te word.

Wat sou jy sê was die grootste uitdaging wat die lewe nog voor jou deur gelê het?
Definitief my studies. Ek was baie betrokke met buitemuurse aktiwiteite by die universiteit. Al die ekstra ure het gesorg dat ek nie altyd genoeg tyd agter die boeke spandeer het nie. Die ekstra praktiese ondervinding en insig wat ek opgedoen het is egter van onskatbare waarde en tel tans in my guns.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees?
Ek het in 2021 my eie besigheid gestig en hoop om oor ’n paar jaar nog ingenieurs aan te stel wat ’n geleentheid nodig het om hulself te bewys. Ek hoop ook om oor vyf jaar as ’n professionele ingenieur by ons beroepsliggaam, ECSA, te registreer.

Hoe sal jy opsom wat Atterbury Trust se beursprogram vir jou beteken het?
Ek is baie dankbaar vir die hulp wat aan my verleen is. Atterbury Trust is soos familie. Ek het deurentyd advies en ondersteuning van oudstudente ontvang ten opsigte van my studies, en Leonie van Grolife het my geïnspireer om my drome na te jaag. Dit is lekker om te weet dat daar ’n groep mense is wat jou ondersteun om jou toekomsdrome realiteit te maak. Ek is ewig dankbaar teenoor Atterbury Trust en die groot rol wat hul gespeel het in die sukses wat ek tans ervaar in my loopbaan as meganiese ingenieur.

Met jou hulp kan ons meer studente soos Ryno finansiëel bystaan om hul studiedrome realiteit te maak. Alle donasies kom met ’n sertifikaat vir belastingdoeleindes, en skenkers kan uit ‘n verskeidenheid skenk-pakkette kies – sien hier vir meer.