Ons studente is ons trots; ons belê al vir meer as 20 jaar in die volgende generasie en dit is verblydend om ’n bydrae te lewer en te sien hoe ons alumni-groep groei en toekomstige leiers oplewer. Meer as 650 jong uitblinkers het reeds met Atterbury Trust se ondersteuning die geleentheid gekry om verder te studeer en in 2019 is daar ongeveer 206 studente in die beursprogram. Die aantal aansoeke het in die afgelope paar jaar meer as verdriedubbel en die behoefte is altyd groter as die begroting. Ons eer met dankbaarheid die eksterne donateurs wat in die afgelope paar jaar bydraes gemaak het wat ’n paar addisionele beurse moontlik gemaak het.

Dit gaan egter nie net oor geldelike hulp nie. Mentorskap is vir Atterbury Trust belangrik en daarom word verhoudings met ons beursstudente gebou deur middel van gereelde mentorsessies. Ons hou jaarliks beursfunksies in Pretoria, Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein en vind dat die informele skakeling beslis die bande met ons studente versterk.

Die volgende kriteria vir beursaansoeke word oorweeg:

  1. Afrikaans as moedertaal
  2. Finansiële behoeftigheid (gesamentlike bruto jaarlikse huishoudelike inkomste moet minder wees as R300 000). Bewyse van salarisse is ‘n vereiste.
  3. Veelsydigheid, dryfkrag en leierskap.
  4. NSFAS aansoek. Om in aanmerking te kom moet ‘n aansoek ook by NSFAS ingedien wees – NSFAS webtuiste

Aansoeke vir 2020 studiebeurse open op 1 Julie 2019.