Vir enige gesin is dit styf gordel vasmaak om één kind universiteit toe te stuur, en wat nou gemaak as jy ’n 19-jarige drieling het wat almal slimkoppe is, en ’n oudste wat reeds medies swot?  Danksy Atterbury Trust se groothartige skenkers, hoef die Erasmus-gesin van Nelspruit nie oor hul seuns se tersiêre opvoeding bekommerd te wees nie. Ons het by Franco, Janu en Wentzel gehoor wat die beurse vir hulle beteken.

Julle foonnommers is amper dieselfde, maar tog nie! Wie van die drie is die oudste en wie is die jongste – en is dit enigsins vir julle belangrik?
Franco is die oudste, Janu is tweede en Wentzel derde, maar nee, dis is nie vir ons belangrik nie. Ons kom nie regtig ’n verskil agter nie, aangesien ons eintlik ewe oud is, maar dis wel duidelik in ons lengte wie die oudste en jongste is.

Nie net is julle nie identies nie, julle swot ook al drie verskillende rigtings, en by verskillende universiteite. Is dit ’n bewustelike besluit om onafhanklikheid te kies?
Ja en nee. Janu studeer by UCT, want dit was die beste universiteit waar hy keuring gekry het vir medies. Franco het van die begin af gesê dat hy Tukkies toe wil gaan en Wentzel het wel gesê hy wil graag onafhanklik wees en sy eie rigting inslaan, en het dus by die Puk gaan studeer. Ons ouer sussie, Mia, is 24 en sy swot ook medies, maar op Stellenbosch, so dis vier verskillende universiteite vir ons…

Verteenwoordig julle onderskeie graadkeuses vir elk van julle ’n rigting wat julle al van kleins af wou volg, of hoe het die besluite gebeur?
Wentzel het in Graad 10 rekeningkunde geneem en het die vak baie geniet, wat hom toe laat besluit het om BCom Rek as sy studierigting te kies. Franco het deur sy hoërskool-loopbaan dikwels van keuse verander – hy het medies, ingenieurswese en BCom Rek oorweeg, maar het in die middel van Graad 11 finaal op Aktuarieel besluit. Janu wou van kleinsaf ’n tandarts wees, maar namate hy ouer geword het, het hy besef dat om ’n dokter te wees eintlik sy roeping en passie is.

Wat is die lekkerste aspek daarvan om ’n drieling te wees?
As ’n drieling het ons ’n hegte band. Ons het elkeen die voorreg om twee broers te hê wat saam met ons die pad deur die lewe stap. Ons is beste vriende en saam het ons ons eie bende vir kattekwaad gevorm! Ons ondersteun mekaar en dra mekaar se beste belange op die hart. Al is ons nie nou bymekaar nie, praat ons steeds elke dag en bly ons op hoogte wat in die ander se lewe aangaan en gee raad waar ons kan.

En die een ding van drielingwees waarvan julle die minste hou? Dalk is dit verskillende goed vir die drie van julle?
Franco: Toe ons nog voltyds in die huis gebly het, het ons maar in mekaar se spasie geleef en kon dinge krapperig raak tussen ons, maar darem niks erger as wat mens tussen gewone sibbe sal kry nie.

Janu: Ons drie is baie afhanklik van mekaar, en nou op universiteit besef ek dat ek sukkel om sonder my broers klaar te kom.  Die feit dat ons so na aan mekaar is, tel dus ook teen jou.

Wentzel:  Iets wat op skool voorgekom het, was die feit dat mense soms vergeet jy het jou eie identiteit, en jou die heeltyd geklassifiseer het as een van die drieling en nie as jou eie mens nie.

Wat beteken die Atterbury Trust beurs vir julle elkeen – en Janu, vertel jy my namens julle hoe julle by Atterbury Trust uitgekom het?
Franco:  Ek glo ek praat vir ons al drie van ons, as ek sê Atterbury Trust maak dit vir ons moontlik om dit te studeer waaroor ons passievol is.  As dit nie was vir die beurse nie, sou nie een van ons kon gaan studeer het nie.

Janu: Ek stem! Ons het by die beurse uitgekom omdat ek as onderhoofseun van kultuur by Nelspruit Hoërskool geweet het dat Atterbury Trust betrokke was deur die Dagbreek Trust se Trust vir Afrikaanse onderwys as projekbestuurder van die skool se kultuursentrum. Ek het ons akademiese onderhoof hieroor uitgevra en hy het my vertel van Atterbury Trust beurslenings.

Wentzel: Atterbury Trust se beurs beteken vir my ’n baie goeie toekoms, want dit stel my in staat om te kan studeer sodat ek eendag die werk kan doen wat my die gelukkigste maak.

Atterbury Trust se beursleningfonds maak deure oop vir talentvolle jongmense soos die Erasmus-drieling, en ons kan dit net doen met die hulp van skenkings. As jy of jou organisasie kan bydra, maak gerus kontak – vir meer inligting, sien hier. Beursaansoeke vir 2023 is nou oop.