Atterbury Trust se beursspan het pas al die onderhoude vir die 2016 beurse afgehandel. Ons hoor by Zahn Hulme hoe dit verloop het.

Hoeveel beurse kan julle volgende jaar toestaan?
Daar is 65 nuwes. Op die oomblik het ons so 170 studente in die program, met ongeveer 30 wat aan die einde van die jaar klaarmaak. So ons gaan volgende jaar nader aan 200 voltydse studente wees… die beursprogram gaan beslis van krag tot krag!

En is daar genoeg in die begroting om almal wat julle wil, te help? Hoeveel kandidate het julle gesien?
Ag, ons wens ons kon almal help. Ons het 130 onderhoude gedoen, maar op die ou end is daar mense wat ons moet wegwys. Ons het ‘n begroting en dan bepaal ons op grond van die onderhoude wie die hulp die nodigste het, baie gemotiveerd is en wat ook in ons opinie eendag die grootste verskil in ons land sal maak. Dit breek mens se hart om studente weg te wys, maar op die ou end moet ons die mees belowende kandidate kies.

Julle het sekerlik roerende stories gehoor. Kan jy een of twee uitsonder?
Ja daar was baie; dié wat my bybly was die kinders wat swaar grootgeword het. Daar was die een meisie wat sulke helder, pynlike herinneringe aan kinderjare met ‘n alkoholis-pa met ons gedeel het. Dit was duidelik dat sy alkohol-verwante dood ‘n diep indruk op haar gemaak het. Sulke dinge ruk mens. Dan was daar een seun wat in ‘n stadium in ‘n park in die Paarl gebly het, maar sedertdien met die hulp van een van sy onderwysers Pretoria toe getrek het, en hy het ‘n groep weldoeners wat tans bydra om hom te help. Dan ook vanjaar se hoofseun van Hoërskool Tuine in Pretoria. Hy het reeds op 18 ‘n fyn ontwikkelde sin vir reg en verkeerd, en sulke ongelooflike goeie waardes; sy lewensuitkyk is so uitgesorteer as mens sy omstandighede in ag neem; ek het lank laas ‘n 18-jarige ontmoet wat my so beïndruk het.

Wat het jou vanjaar die meeste opgeval gedurende die onderhoude… is daar ‘n tendens te bespeur?
Ek kon sien daar is meer van die universiteite wat begin agterkom wat Atterbury Trust doen, en dan studente wat by hulle aanklop vir finansiële hulp, na ons toe verwys. Ons het byvoorbeeld uit Noordwes meer as 20 aansoeke gekry van behoeftige ingenieurstudente… van hulle is reeds in hul eerste jaar op universiteit, maar hulle sukkel om finansieël die mas op te kom. Dan is daar ook vir die eerste keer ewe veel seuns en meisies; in die verlede het ons altyd meer meisies gehad.

Hoe werk die seleksieproses? Is daar ‘n kortlys?
As die aansoeke sluit, kyk ons deur elkeen om te sien wie volgens ons kriteria kwailifiseer. Vanjaar het ons omtrent 500 aansoeke gehad. Ons oorweeg die finansiële behoeftigheid, dan kyk ons na hulle punte, hulle veelsydigheid, of hulle ekstra werk doen om geld te verdien. Die klompie wat hieraan voldoen word genooi vir ‘n onderhoud. Ons het vanjaar 130 studente gesien, en ons het onderhoude regoor die land gehou – in Potchefstroom, in Kaapstad, Durban, Stellenbosch, Bloemfontein… In die onderhoud kyk ons na hulle huishoudelike omstandighede, ons maak seker van hulle behoeftigheid. Dan kyk ons ook na hulle studierigting en evalueer of ons dink dis ‘n goeie rigting vir die student, of hul weet wat dit behels, of hulle al huiswerk gedoen het daaroor. Ons vra hulle uit oor sport, kultuur en buitemuurse bedrywighede; wat hul stokperdjies is, wat hul sosiaal doen. Ons is op die uitkyk vir mense wat eendag ‘n impak gaan maak in die samelewing, wat leiding gaan neem, want die beursprogram gaan ook vir ons oor die bou van ‘n generasie wat ‘n verskil kan maak eendag, wat kan teruggee. En so evalueer ons die aansoeke op grond van die onderhoude, en kies die top 65.

Wanneer kies julle en hoe gaan julle die nuwe beurshouers laat weet?
Ons het reeds almal laat weet, teen einde van September, ook die onsuksesvolle kandidate.

Hoe lyk die nuwe 65 as ‘n groep?
Hulle is omtrent die helfte seuns en helfte meisies, daar is ‘n paar wat klaar eerstejaars is, ‘n groot klomp ingenieurs en ook onderwysers, dan is daar ‘n hele klompie wat BComm en BRek gaan studeer. Hulle doen oorwegend professionele rigtings.

So nou is die aansoeke weer oop vir 2017 se beurse, reg? Waarvoor hoop julle?
Dis reg ja. Ons hoop dat ons volgende jaar 70 studente sal kan help. Dit sal beteken dat ons sowat R500 000 ekstra nodig het. Dit is werklik ‘n eer om soveel talent en dryfkrag in ‘n groep jongmense te sien, soveel honger om hulself te bekwaam en ‘n bydrae te kan maak, so ons sal graag die ekstra geld wil bymekaarkry. Donasies is baie welkom, en ons sal ook met ons gewaardeerde medewerkers saamspan om te kyk hoe ons die ekstra geld kan insamel.

Atterbury Trust is as ’n Publieke Voordeelorganisasie (PBO) geregistreer. Dit beteken dat donasies wat deur maatskappye en/of individue aan die Atterbury Trust gemaak word, belastingaftrekbaar is. Lees hier hoe jy maklik ‘n donasie kan maak:  https://atterburytrust.org/wie-ons-is/

Deur middel van PayFast kan jy maklik aan Atterbury Trust skenk: