Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) het onlangs hul jaarlikse toekennings aan verskeie baanbrekers toegeken, waaronder die Hertzogprys vir prosa, skryf Maroela Media www.maroelamedia.co.za op hul webwerf.

Die oogmerk van die Akademie, as multidissiplinêre organisasie, is die bevordering van die wetenskap, tegnologie en literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans, hoofsaaklik binne Suid-Afrika.

Bekende name soos Professor Adam Small, skrywer Marita van der Vyfer en rolprentmaker Katinka Heyns was onder die wenners. Die pryse sal tydens spesiale seremonies, onderskeidelik in Pretoria (29 Junie) en Stellenbosch (7 Oktober), oorhandig word. Die wenners sluit die volgende in:

Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is toegeken aan Professor Adam Small. Die Erelidmaatskap is die hoogste toekenning van die SA Akademie.

Die Hertzogprys vir prosa is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en is vernoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, Generaal JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Vanjaar was dit vir prosa. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie. Vanjaar se wenner is Willem Anker vir Buys: ʼn Grensroman.

Die MT Steynmedalje vir natuurwetenskaplike en tegniese prestasie gaan vanjaar aan Professor Ivan Horak, emeritus professor van die departement van veeartsenykunde aan Onderstepoort. Prof Horak is ‘n wêrelddeskundige oor bosluise en parasiete by diere. Hy het veral ten opsigte van die studie van bosluise ‘n groot bydrae gemaak wat nie net akademies waardevol is nie, maar wat ook ‘n basis vorm met kwalik berekenbare waarde vir die hele Afrika, asook groot implikasies op die vee- en wildbedryf-industrieë het.

Die Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek van ʼn TV-drama in Afrikaans is toegeken aan Paul C Venter vir Vlug na Egipte (Episode 3) en Terug na Egipte (Episode 6).

Die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek is toegeken aan die bekende pianis Ben Schoeman.

Die Eugènie Maraisprys wat toegeken word vir ‘n eerste of vroeë letterkundige werk kan net een keer aan iemand toegeken word, en vanjaar se wenner is Professor Stephanus Muller vir Nagmusiek.

Die Scheepersprys vir jeugliteratuur is toegeken aan Marita van der Vyver vir Swemlesse vir ʼn Meermin.

Die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur gaan vanjaar na Kobus Geldenhuys vir Hoekom die walvisse gekom het.

Die Akademie se Erepennings gee erkenning, binne die doelstellings van die Akademie, aan besondere prestasie op terreine wat die suiwer letterkundig of wetenskaplik is nie. Die Erepenning vir ‘n Televisiedrama in Afrikaans is toegeken aan die regisseur, John Trengove, vir Swartwater (Episode 1).

Die Erepenning vir rolprentkuns word vanjaar toegeken aan Katinka Heyns, wat beskou word as die mees prominente Afrikaanse vroulike regisseur in die Afrikaanse filmgeskiedenis. Sy bedryf haar professie met onderskeiding en druk ‘n besondere stempel op die Afrikaanse film- en vermaaklikheidsbedryf af. Haar rolprente vul ‘n besondere
nismark in die Afrikaanse kunsfilmgenre en verskuifgrense in dié sin dat haar werk oorspronklik is en voortdurend verras met unieke onderwerpe. Haar regie- en filmtegnieke spreek van besondere artistieke visuele bekwaamheid

Die  Erepenning van die fakulteit natuurwetenskap en tegnologie wat net in uitsonderlike gevalle toegeken word, aan ‘n kandidaat wat presteer het in hierdie besondere vakgebied, gaan aan Professor Annemarie Oldewage, hoof van die departement van dierkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Haar navorsing fokus op vis-parasiete en die gebruik daarvan as wagte vir watergehalte. As ‘n akademikus word prof. Oldewage gerespekteer. Sy was president van die Parasitologiese Vereniging van suider-Afrika en die voorsitter van die Afdeling Biologiese Wetenskappe van die SA Akademie. Sy dien op die redaksionele paneel van drie vaktydskrifte  en is ‘n paneellid vir die toekenning van verskeie gesogte medaljes en toekennings, nasionaal sowel as internasionaal.

Besoek SA Akademie se webwerf vir meer inligting en die volledige lys van wenners, http://www.akademie.co.za/aktiwiteite/pryse/