Vanjaar se wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie het seker die trotsste ma ooit… Marichen Kapp Nel dien op die reëlingskomitee en besef hoe hoog die standard elke jaar moet wees. Wat ‘n trotse oomblik toe haar 16-jarige seun dus vanjaar die algehele prys wen! Ons het met die jong Pretorianer Louis Nel gesels kort na sy groot aand, en gehoor dat hy nie net talentvol is met note nie, maar ‘n passie het vir wiskunde en syfers!

Baie geluk met jou prys! Nadat jy in 2016 die wenner was van die 15 jaar en jonger kategorie en algeheel derde was, het jy gedink jy staan dalk vanjaar ‘n kans om te wen?
Ek het gedink dat ek ‘n kans het om goed te doen, maar ek het nie verwag dat ek sou wen nie! Daar was ‘n paar kinders wat ek voorheen gehoor speel het wat ek geweet het baie goed is.

Jou ma is op die reëlingskomitee van die kompetisie, so ek neem aan julle LEWE klaviermusiek in julle huis? Is daar nog musikales in die huis?
Ek het ‘n jonger suster wat fluit speel en baie sportief is. My ouma was ‘n klavieronderwyseres. Die res van my familie het egter nie musiek geneem nie, maar almal stel belang daarin.

Ons hoor jy is tans in Graad 10 by St Alban’s College. Het jy tussen die klavierspeel deur tyd vir enige ander tydverdrywe?
Ek het, ja, ek lees graag, en ek sal sê wiskunde en programmering is my stokperdjies.

Watter pryse het jy alles gewen benewens die grote as algehele wenner?
Ek het die pryse gewen vir die beste barok, romantiese en moderne stukke. Ek was ook die wenner in die 19 jaar en jonger kategorie.

Hoeveel het jy gewen, en het jy al besluit wat jy daarmee gaan maak?
My totale prysgeld is omtrent R55 000. Ek gaan dit in aandele belê.

Hoe lank speel jy al klavier en hoeveel van jou tyd word deur klavierspeel en -oefen opgeneem?
Ek het met klavier begin toe ek agt jaar oud was, so ek speel al vir amper nege jaar! Ek probeer elke dag twee ure oefen, maar ek moet sê, ek kry dit nie elke dag reg nie omdat ek met die skool en sport besig is.

Neem jy gereeld aan kompetisies deel?
Ja, ek neem vandat ek 12 was elke jaar aan kompetisies deel – hierdie een was my sewende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie! Ek het ook al deelgeneem aan die Hennie Joubert nasionale klavierkompetisie en die Roedean Lovemorekompetisie in Johannesburg. Behalwe dit het ek ook al vier keer saam met die Johannesburgse Simfonie Orkes opgetree, en twee keer by die Hugo Lambrecht concertofees.

So watter soort musieksmaak het jy as dit kom by luister, eerder as speel?

Wat is die laaste album wat jy gekoop/afgelaai het?
Ek luister meestal net na klassieke musiek. Die laaste album wat ek afgelaai het, is Freddy Kempf se Prokofiev album.

Wat wil jy eendag word – is musiek deel van jou toekomsplanne?
Ek is nog nie seker wat ek eendag wil doen nie, maar ek weet dit gaan iets wees wat met wiskunde en rekenaars te doen het! Maar ek sal altyd aangaan met klavierspeel…

Die volledige lys van kategoriewenners is as volg: 

Algehele wenners
Algehele 1ste plek en Die Hennie Joubert Prys – Louis Nel
Algehele 2de plek – Rachel Wedderburn-Maxwell
Algehele 3de plek –  Beate Boshof

Ouderdomkategorie-wenners
19 jaar en jonger – Louis Nel
15 jaar en jonger –  Rachel Wedderburn-Maxwell
12 jaar en jonger ­– Tumi Phaho

 Kategoriewenners
Beste uitvoering van:
’n Barok werk – Louis Nel
’n Klassieke werk – Benjamin Valkin
’n Romantiese werk – Louis Nel
’n Moderne werk – Louis Nel
’n Suid-Afrikaanse werk – Beate Boshoff