Om “Dokter” voor jou naam te kan skryf…

Om “Dokter” voor jou naam te kan skryf…

Dis ‘n baie lang pad na dokter word, en Atterbury se beurspaneel is vanjaar besonder trots op ons heel eerste driemanskap van gekwalifiseerde dokters. Lané Dorman vertel ons hoe dit voel om MB ChB agter haar naam te kan skryf…

Vertel ons hoe jou paadjie met Atterbury s’n gekruis het.
Ek het in my matriekjaar by een van my vriende van Atterbury Trust gehoor, en was so dankbaar om te hoor daar is so ‘n wonderlike besigheid wat mense met groot drome en min geleentheid soos ek wou help.  Ek en my beste vriendin het saam aansoek gedoen, en was gelukkig genoeg om altwee geseën te word met studiebeurse.  Ek het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, en het al ses jare saam met Atterbury en die span deurgebring.

Hoe voel dit nou om “Dokter” voor jou naam te kan skryf?
Dit voel onwerklik om myself ‘n dokter te noem, veral in die oomblike waar ek nog onseker en bang voel (waarvan daar redelik baie is!).  As mense my roep as “Dokter Dorman”, moet ek twee keer omkyk, omdat ek nie altyd seker is dat ek reg gehoor het nie!  Ek voel vreeslik geëerd om nou hierdie mylpaal te kon bereik, maar sou dit nie kon doen sonder baie harde werk, bystand van al my geliefdes, en natuurlik Atterbury Trust se finansiële ondersteuning nie.

Was dokter-word ‘n kinderdroom van jou?
O nee, die idee daarvan het my altyd bietjie gegril!  Ek wou altyd ‘n prokureur word, maar ek het later besef dat my hart te sag en te groot is om regte aan te durf.

Wel, hier is jy nou, en baie geluk met jou graad! Is daar enigiets wat jy gaan mis van die afgelope ses jaar?
Dankie! Ek sien regtig so baie uit daarna om al die kennis wat ek oor soveel jare opgebou het, te kan toepas, maar ek moet sê, ek gaan nie al die toetse mis nie! Ek gaan wel al die goeie vriende mis.

Jy sê jou hart was te sag vir regte, maar dokters kom ook in aanraking met ontstellende dinge. Kan jy een so ‘n geval onthou wat jou spesifiek geraak het?
Ja, weet jy, die een dag was daar ‘n 26-jarige vrou wat “gecrash” het weens hartprobleme en ons het alles gedoen wat ons kon om haar terug te kry. Na twee ure se gespook moes ons ophou, en dit was vreeslik traumaties. Maar dit is maar deel van dit alles…

Dit moet ‘n baie harde les wees om te leer…
Ja dit was. Maar op daardie dag het ek geleer om my emosies kant toe te skuif en te doen wat gedoen moes word, en het eers veel later by die huis gaan huil.  Soms moet mens maar bietjie afsluit, anders kan sulke situasies net te erg raak.

Wat kan ons volgende verwag van Dokter Dorman?
Wel, ek is van 5 Desember af amptelik Dr Bothma! Ek is opgewonde om bietjie te lewe, en tyd te hê vir dinge wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar.

Aitsa, baie geluk met jou troue! Ter afsluiting, as jy oor die interkom by die hospitaal ontbied word na ongevalle, wat sal jy die graagste wil aantref as jy daar aankom?
Om eerlik te wees, verwag mens altyd die slegste, al is dit nooit waarvoor jy hoop nie…  ‘n Mens gaan maar in elke situasie in met ‘n oop kop en doen net wat jy kan.

Met jou bydrae kan Atterbury nog meer belowende studente op hul pad na ‘n suksesvolle beroep help, waar hulle ‘n verskil in ons land kan maak. Om te skenk is so maklik: http://atterburytrust.org/skenk-nou/

Leave a Reply