Relatief min van ons Trust-beursstudente studeer in kuns-rigtings, so dit is nie dikwels dat ons met ‘n alumnus kan gesels oor die glanswêreld van teater, film en televisie nie. Maar Kanya Viljoen is besig om opslae te maak, met pryse, internasionale feeste, en hoofrolle, soos in die onlangse Kyknetreeks Afgrond… ons het gaan uitvind hoe hierdie jong ster alles in die lug hou.

Ons het vier jaar gelede gesels toe jy ’n vierdejaar Teaterproduksiestudent aan die Universiteit van Kaapstad was, en nou het jy ’n groot rol in ’n Kyknet-reeks vertolk… wat het jy alles gedoen sedert jy gegradueer het?
Ek kan nie glo dit is al vier jaar nie! Soveel het in die laaste paar jaar gebeur. Ek het verder studeer en my Meesters in teatermaak as deel van die Andrew W Mellon navorsingsprojek, Reimaging Tragedy in Africa and the Global South, voltooi.

My eerste professionele produksie, RAAK, is by ’n klomp feeste en teaters opgevoer en het ’n paar benoemings en pryse gewen. Ek was ook so geseënd om beurse te ontvang vir die ontwikkeling en skryf van ander produksies, insluitende Like Hamlet en mank.’n Teks wat ek in 2019 geskryf het,  Jessie, die Man en die Maan, is ook gekies vir die Jakes Gerwel Skrywersresidensie onder leiding van Amy Jephta.

Verlede jaar het ek ook as mede-skrywer en -regisseur gewerk aan my eerste kortfilm, ekstasis, wat tans by internasionale filmfeeste te siene is.

Verder is ek ook konstant besig om klas te gee aan die Universiteit van Kaapstad en Act Cape Town. Ek werk ook as fasiliteerder vir die Baxter Teater se Zabalaza Fees en het die laaste vier jaar UCT se teaterfees, Res4Res bestuur.

Dis dol en besig, maar ek is so bevoorreg om te doen waarvoor ek so lief is.

Hoe het jy destyds by die Trust uitgekom en die beurs gekry?
As ek reg onthou het my ma oor die Trust gelees en ons het saam die aansoek ingesit. Ons het dit baie amper nie betyds gemaak nie, so ek was nie oortuig dat dit sou deurkom nie. Maar ’n paar weke daarna het Zahn Hulme ’n koppie koffie saam met my gedrink en ons het begin gesels en ek onthou dit was so ’n groot oomblik van verligting toe ons hoor dat Atterbury Trust gaan help.

Vertel ons van jou rol in Afgrond? Wie is jou karakter? In hoeveel episodes is sy (uit hoeveel in totaal)?
Ek het die karakter van Leora vertolk. Sy is ’n begrafnisondernemer wat noodgedwonge haar pa se besigheid moet oorneem. Sy is pas getroud en leer ongelukkig dat mense nie altyd is wie ’n mens dink hul is nie. Sy is een van die hoofkarakters in Afgrond en is dus in al 10 episodes te siene.

Hoe het jy die rol gekry, vertel ons van die proses?
Ek is deur my agent gevra om ’n selfopname in te stuur vir die rol van Leora. Ek was een van ’n klompie aktrises wat só oudisie gedoen het en ’n hele paar maande het verbygegaan waar ek niks gehoor het nie. Om eerlik te wees, ek het totaal en al vergeet dat ek oudisie gedoen het. Toe, een dag uit die bloute, het my agent my gebel en laat weet dat ek die rol het en dat ons oor twee weke ’n kostuum-sessie vir die karakter het. Ek was stomgeslaan en kon vir die eerste paar dae nie glo dat ek die rol gekry het nie.

Wanneer het julle dit geskiet, en waar?
Ons het aan die einde van verlede jaar geskiet in ’n klomp plekke in en om die Kaap. Leora se huis was in die voorstede van die Kaap en die hospitaal was in Stellenbosch. Dit het so vinnig gegaan en is alreeds in Februarie op Kyknet en Showmax uitgesaai. Ek dink ’n mens kan dit nog steeds op Showmax kyk.

 Wat was die grootste uitdaging omtrent die rol en die hele proses? En die lekkerste deel?
Een van die grootste uitdagings was die spoed waarteen ons gewerk het. Die dae het vroeg begin, en ons het baie vinnig van een toneel na die volgende gewerk. Omdat dit my eerste groot televisierol was, was ek bekommerd dat ek nie gou genoeg diepte en variëteit aan die karakter sou gee nie en het so veel as moontlik probeer voorberei vir elke dag. Die hele proses was ongelooflik lekker. Elke element van Afgrond het soveel impak, van die storie, tot die span met wie ons gewerk het, tot die gehoor se reaksies en ondersteuning. Ek is so dankbaar dat ek daarvan deel kon wees.

Herken mense jou nou in die straat?
Ek het al een of twee interaksies gehad en dit bly vir my baie snaaks. Elke keer sê die mense ek is baie korter as wat dit op die televisie lyk. Dit bly wel so lekker om te hoor hoe mense die program geniet en wat hulle daarvan dink.

Wat is volgende vir Kanya? Is jy al reeds weer besig met ’n volgende projek?
Daar is altyd ’n paar projekte wat prut, maar ek is ook dankbaar vir ’n jaar wat ’n mens dwing om dinge bietjie stadiger te neem.

’n Eksperimentele film wat ek geskryf het en die regie van behartig het is onlangs vir die Toronto International Women Film Festival, sowel as die Cannes International Cinema Festival gekies – dis ongelooflik opwindend. Ek is ook met ’n teks genooi na die Women Playwrights International Conference wat volgende jaar in Montreal, Kanada, gaan plaasvind. Ek en ’n vriendin het ook ons eie kreatiewe maatskappy, Unusual Bones, begin waar ons graag meer stories wat buite die hoofstroom in Suid-Afrika wil vertel.

Anders is ek aan die werk met ’n paar toneelstukke wat hopelik binnekort by feeste te siene gaan wees.

Wat het die Atterbury Trust beurs destyds vir jou beteken? Hoe sou jy skenkers motiveer om te aanhou skenk aan hierdie beursfonds?
Ek dink nie ek sal ooit kan bewoord wat Atterbury Trust se beurs vir my beteken het nie. Dit het beteken dat ek kon studeer waar ek wou studeer, wat ek wou studeer. Dit het asem geskep en druk afgehaal en my die geleentheid gebied om werklik te groei as ’n student en as ’n kunstenaar. Ek dink nie skenkers besef hoe groot die geskenk van verdere opvoeding is nie, veral as ’n jong Suid-Afrikaner wat graag verder wil studeer om op ’n punt self te wil teruggee.

Beursaansoeke is tans oop vir ’n baie beperkte aantal beurs vir studie in 2021. Vind hier meer uit