Atterbury Trust se beursstudente kry meer as net finansiële ondersteuning, en dis juis die mentorskap van die Gro-Life beradingspan onder leiding van Leonie du Preez wat baie van hierdie jongmense tot hul grootste hoogtes aanspoor. Natalia Visagie het self vir ses jaar ’n Atterbury Trustbeurs gehad terwyl sy by Tukkies teologie geswot het, en nou dra hierdie alumnae haar Vrydae op aan die Trust as berader vir die huidige beursstudente. Dít terwyl sy haar tweede meestersgraad voltooi, drie dogters grootmaak en voltyds werk as leraar. Ons hoor meer oor die paadjie wat haar tot hier gebring het.

 Jy klink na ’n meester van die multitaak!  Vertel ons bietjie van jou gesinslewe.
Ek het drie dogters, Marna is elf, Ruve, drie en Talita is een. Ons het in Maart na Alberton verhuis, waar ek as voltydse leraar aangestel is. Ons is in ’n baie besige lewensfase gewikkel met klein mensies wat die wêreld ontdek, uitdaag en berge verskuif. Ek en Reuben is vyf jaar getroud en geniet mekaar se geselskap en om reisgenote te wees van die lewe.

Hoe het jou paadjie destyds met Atterbury s’n gekruis en wat was jou persoonlike omstandighede in daardie stadium?
Ek was in matriek aan Hoërskool Pretoria-Wes in 2005 en my skoolhoof, Rita Coetsee, het haar voorgeneem dat sy vir my ’n beurs gaan soek. Ek het na matriek eers vir ’n jaar gewerk, en myself vreeslik jammer gekry oor my groot drome om te gaan swot nie realiseer het nie. Ek het wel in daardie tyd ‘n korrespondensiekursus in Menslike Hulpbronbestuur aangepak het, maar dit was nie wat ek graag wou studeer nie.  As dit nie vir die beurs was nie, sou dit my baie langer gevat het om my drome te kon vervul.

Hoe het jy op teologie besluit as ’n studierigting?
Ek het geweet ek wil met mense werk. In matriek het ek begin met ’n korrespondensiekursus in Pastorale Berading en daarom het ek geweet ek wil òf berading òf sielkunde studeer. Ek het aanvanklik gereken my roeping was net om pastorale berading te doen. Eers heelwat later in my studies het ek besef dat ons deur prediking, en gemeenskapsdienste voorkomend optree en sodoende juis die behoefte aan berading minimaliseer. Ek en my pa het in my Graad 10 jaar begin om ’n Bybelskool by te woon en dit het my belangstelling in teologie geprikkel.

Ek het by Tukkies my BTh en my MDiv graad voltooi en is nou al meer as tien jaar blootgestel aan teologie as vakgebied. Ek is “hooked”! Tans is ek besig met my tweede meestersgraad, aan die Universiteit van Stellenbosch, deur middel van ’n beurs wat die kerk van Swede aan my toegeken het om my MTh te voltooi in “Geslag, Gesondheid en Teologie”. Ek is sterk besig met my skripsie en mik om dit einde November in te dien.

Vir hoe lank het jy ’n Atterbury beurs gehad, en was dit vir jou nodig om ekstra werk te doen om dit aan te vul?
Ek het ses jaar gestudeer om ’n predikant te word. Ek het ’n volle beurs gehad om my universiteitsgelde te dek, maar toe ek enkelma word in 2007 het ek die finansies begin aanvul deur werkswinkels in “scrapbook therapy” aan te bied, promosiewerk te doen en later ook jeugwerk, vanaf my vierde jaar op universiteit. Ek het allerhande entrepreneursgeleenthede geskep of gesoek, van uitstal by Kersmarkte tot aflos-preekbeurte.

Hoe het jou beroepspaadjie verloop van toe af – wat presies is jou voltydse werk nou?
Teologiestudente se sesde en finale jaar is ’n praktiese jaar, en ek het daarvoor as enkelma met my vierjarige dogtertjie Bethal toe verhuis om blootstelling aan ’n plattelandse gemeente te ervaar. Ek het ook die pos as koster van die kerk behartig om my uitgawes te dek. Daarna is ek in 2011 gelegitimeer en was sewe maande lank werkloos voordat ek beroep is na my eerste gemeente. My eerste pos was as Tentmaker leraar by NG Randburg-Suid. Die ander deel van my pos was as berader en geestelike lewens-oriëntering opvoeder by Laerskool Unika, wat ek vir amper sewe jaar gedoen het. Ek het baie gegroei en wye blootstelling aan die bedieningsterreine ervaar. Met die hofsaak teen godsdiens in skole het my pos egter verander en het ek besef dit is tyd vir ’n skuif. Om so intens betrokke te wees by kinders se emosionele seer en die magteloosheid, omdat dit dikwels deur onverantwoordelike ouers veroorsaak word, het my somtyds ontnugter. Ek besef die tyd het net aangebreek om voltyds in die bediening te staan.

Ek het verlede jaar Febuarie my eie beradingspraktyk gestig, omdat my passie vir berading al sterker geword het. In Augustus 2017 het ek by Atterbury vir Vrouemaand ’n korporatiewe “mindfulness” werkswinkel aangebied en dit ongeloof stimulerend gevind. Ek is toe in Desember beroep as voltydse leraar na Alberton-Suid. Op die oomblik is ek die enigste leraar van die gemeente. Daar is baie bedieningsterreine waar ek die voorreg het om die evangelie te bedien – prediking, vrouebediening, fondsinsamelingaksies, opheffingprojekte, hospitaal- en sieke-besoek, barmhartigheidswerk, berading, huweliksvoorbereiding en -bevestiging, bediening van die sakramente (doop en nagmaal), bejaardebediening en nog baie ander take wat mense nie eers weet ’n leraar alles verrig nie! Ek dien ook op die bestuur van die maatskaplike bestuurspan van die NG kerk se Alberton tak. Alles in ag genome voel ek bevoorreg dat ek hierdie roeping vanaf God ontvang het om te kan deelneem aan Sy droom vir hierdie gemeenskap.

Die feit dat jy nou op so ’n tasbare en gepaste manier teruggee, is presies wat die Trust vir hul alumni en alumnae in gedagte het. Vertel ons presies wat jou rol is met die beursstudente en hoe jy by Gro-Life en Leonie se werk betrokke geraak het.
Ek het gevoel dat die Trust vir my ongelooflike geleenthede gegee het, en die groei wat ek ervaar het deur die blootstelling in my studentejare is onuitwisbaar deel van my menswees.

Ek het my voorgeneem om myself, my ervaring en vaardighede beskikbaar te stel tot diens van ander en betaal ook deur middel van hierdie beradingsdienste my beurs vinniger af. Leonie verwys studente na my soos benodig en ek is Vrydae beskikbaar vir berading. Somtyds is daar heelwat studente op een dag en ander kere minder. ’n Beradingsessie duur ongeveer twee ure omdat ons eers ’n verkennende gesprek het om mekaar beter te leer ken en wedersydse vertroue daar te stel.

Ek glo dat alle mense baat kan vind by berading. So baie mense het nog ‘n negatiewe idee van berading as iets waar jy op bank lê en ongemaklike vrae gevra word oor jou gevoelens, en daarom vermy baie mense dit. Maar dit kan so waardevol wees om jouself van tyd tot tyd op koers te bring, voor jy belangrike besluite neem, of om so nou en dan van jou emosionele bagasie ontslae te raak –  dit stel jou in staat om meer gebalanseerd en gefokusd te werk. Ek sien in my eie verhoudings en beroep die waarde om met iemand te kan gesels wat objektief is, en wat nie probleem-gesentreerd na jou lewe kyk nie.

Wat is die grootse behoefte wat jy optel by die beursstudente met wie jy in aanraking kom? En wat is die oplossing daarvoor?
Studente voel, soos enige ander volwassenes, dikwels ontnugter deur die werklikheid van die “grootmens-lewe”. Die druk, die snel pas waarop mens lewe, hul eie drome en verwagtinge, en dié wat van buite deur ouers of dosente ingebring word, raak somtyds te veel vir studente.  Hulle sukkel soms met selfvertroue. Ek probeer studente begelei om hul eie sterk punte te identifiseer en te versterk. Berading gee ons ook kans om die probleem-gesentreerde taal wat ons gebruik vir ons uitdagings oftewel groeigeleenthede te herformuleer en onsself te heroriënteer in ons posisie in terme van ons uitdagings/probleme.

Wat is die gereeldste raad wat jy vir studente gee?
Dit klink dalk baie oppervlakkig, maar ek dink dit is wat ek self geleer het: “Wees sag met jouself… probeer net die beste jy wees wat jy in staat is om te wees.” So, moenie jouself meet teen ander wat dalk op die oog af meer geleenthede het nie, want binne jou raamwerk is jy besig om deur jou eie glasplafon te breek. Ek is bewus daarvan dat baie van die Atterburystudente dalk die eerste in hul families is wat aan ’n universiteit studeer of wat ’n profesionele beroep wil vestig. Dus in hul konteks verskuif hulle weliswaar grense.

En wat verskaf vir jou die meeste bevrediging uit die werk met die studente?
Ek sien in elke student iets van myself en ek hoop dat hulle ook iets van hulself sien… oftewel die potensiaal van uithou en glo dat hulle kan uitsien na die bevrediging van ’n professionele beroep waar hulle met baie meer empatie as ander hul roeping kan uitleef met hul Godgegewe talente en gawes.

Wat glo jy is die grootste waarde van die Trust se beursprogram?
Die feit dat mens gekies word om deel te wees van die beursprogram sê vir jou dat daar iemand is wat iets in jouself sien wat jy dalk nog self nie sien nie. Dit was so vir my: hulle sien potensiaal in my en ek moet nou daardie potensiaal self ook ontgin en aanwend.

Atterbury Trust se beursprogram maak staat op weldoeners se skenkings, wat ons administreer om soveel talentvolle jongmense te help om soos Natalia hulle volle potensiaal te bereik… sodat hulle weer op hulle manier kan terugploeg in die gemeenskap. Om te skenk, kliek hier.