Vandat sy ’n meisietjie was, het Martel Myburgh graag “mooigemaak”, maar dis eers toe sy hoor van Isa Carstens se Somatologie-kursus, dat sy geweet het wat hierdie beroep haar sal kan bied. En danksy Atterbury Trust se beursprogram is daardie droom nou haar realiteit, tesame met ’n baie groot avontuur wat in 2022 voorlê.

Vertel ons wie Martel is as sy by die huis is?

Ek is 22 en ek het grootgeword aan die Wesrand van Johannesburg. Ek was in Hoërskool Florida en ek het een ouer boetie wat 24 is. Ons is baie na aan mekaar en hy was nog altyd my groot ondersteuner. Ek het vanjaar my drie-jaar diploma in Somatologie voltooi, en kan nie wag vir 2022 nie!

Hoe het jy by Somatologie as ’n beroep en studierigting uitgekom?

Ek dink hierdie rigting het my gekies! Ek het al van kleinsaf altyd my ma se naels geverf en saam met vriendinne grimering gedoen en “spa-dae”gehou. Toe ek bietjie ouer raak, het ek gesigs- en allerhande behandelings op my boetie en sy vriende begin doen vir die pret daarvan. Ek het altyd gehou van skoonheidsterapie, maar ek het nie geweet van die beroepsmoontlikhede nie en gedink dat ek iets “ernstiger” moet studeer. Toe vind ek uit van Isa Carstens en Somatologie, en ek het dadelik geweet dit is wat ek wil swot.

En waar het Atterbury Trust jou paadjie gekruis?

Familielede het ons gehelp om my eerste jaar se studies te kan betaal en ek was van die begin af baie bekommerd oor hoe ek my tweede en derde jaar sou kon klaarmaak sonder befondsing. Ek het deur ons oud-kampusbestuurder van Atterbury Trust gehoor, en het aansoek gedoen. Die beurslening het my in staat gestel om my droomberoep te volg en die ondersteuning en hulp van die Atterbury Trustspan het my aangemoedig om net nog beter te doen met my studies. Die Atterbury-dames het my ook gereeld ondersteun wanneer ek ’n kliënt vir prakties nodig gehad het!

En nou is jy ’n gekwalifiseerde somatoloog! Wat is volgende?

Ek gaan in ’n spa op ’n passasierskip werk om ondervinding op te doen, en bietjie die wêreld te sien. Eers moet ek ’n verdere kursus van London Wellness Academy voltooi waar ek opgelei gaan word in die produkte en tegnieke wat ons op die skip gaan gebruik. Sodra die opleiding in Februarie voltooi is, kan ek enige dag laat weet word wanneer ek vertrek, en moet dan my tasse pak en dadelik gaan. Ek sien baie uit daarna, maar is natuurlik ook bietjie senuweeagtig, want dit is die heel eerste keer dat ek oorsee gaan, en dit nogal op ‘n skip, en alleen! Dit gaan ’n groot avontuur wees; ek is opgewonde en ek glo ek sal vinnig aanpas.

Weet jy al waarheen jy gaan reis?

Nee, ek het nog geen inligting nie – London Wellness Academy plaas personeel op baie verskillende passasierskepe, so daar is baie moontlikhede. Ek beplan maar net om elke oomblik te geniet en die meeste te maak van die ongelooflike ervaring – en nie te veel te verlang na my mense en my kêrel nie! Ek sien daarna uit om nuwe plekke en ander soorte mense te leer ken en mee te werk.

Wat is jou droom vir jouself?

My droom is om eendag ’n omgewingsvriendelike spa en oord van my eie te hê. Ek is passievol oor skoonheidsterapie en ook oor ons planeet en die toestand van ons omgewing, en dit sal so bevredigend wees om dié twee belangstellingsvelde bymekaar te kan bring. Nie genoeg mense doen iets om ’n verskil te maak aan besoedeling en die onverantwoordelike gebruik van hulpbronne nie, en ek glo daar kan baie gedoen word om mense bewus te maak van verantwoordelike skoonheidsroetine en salongewoontes.

Hoe sal jy opsom wat Atterbury Trust se beursprogram vir jou beteken het?

Atterbury Trust se beursprogram het my in staat gestel om my droomberoep te volg. Danksy julle kan ek elke dag van my lewe werk in ’n beroep wat my gelukkig maak – wat ’n ongelooflike geskenk! Dis iets wat so min mense ontvang. Atterbury Trust se ondersteuning deur Leonie van Gro-Life se “life coaching” het my gehelp groei gedurende my studiejare en my help voorberei vir die toekoms. Ek het ook die geleentheid gekry om ander beursstudente van Atterbury Trust te ontmoet en met hulle bande te smee, waar ek op ’n ander platform nie noodwendig studente in ander studierigtings sou teekom nie.

Atterbury Trust verander lewens, danksy die welwillenheid van ons talle skenkers en ander vriende. Ons beursfonds het in die afgelope twee dekades meer as 700 talentvolle jongmense wat andersins nie sou kon nie, die geleentheid gegee om hul studiedrome waar te maak. Ons is afhanklik van skenkings, en nooi weldoeners uit om ons in hierdie belangrike taak te ondersteun. Skenk hier.