Toe die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) verlede jaar ’n  projek geloods het om Afrikaanse skole, veral dié in die platteland, te help om sentrums van uitnemendheid in Suid-Afrika te vestig, het Atterbury Trust nie vir ’n oomblik geaarsel om betrokke te raak nie. Die loodsprojek, ’n nuwe kultuursentrum vir Hoërskool Nelspruit, was ’n groot sukses, en sedert die sentrum verlede Junie in gebruik geneem is, het die program verder uitgerol om verbeteringe by nóg Afrikaanse skole aan te bring. Ons hoor by Atterbury projekbestuurder Wikus Engelbrecht wat al reeds alles vermag is.

Dit is amper ’n jaar sedert die Nellies se kultuursentrum oopgemaak is. By hoeveel skole het julle sedertdien betrokke geraak en is hul almal plattelandse skole?
Atterbury Trust het sedert Nelspruit by 11 skole verbeterings help bestuur. Almal is nie plattelandse skole nie maar wel skole wat in Afrikaans onderrig gee.

Hoe bepaal julle die prioriteite, en wie voor in die ry staan vir hulp? Hoe werk die befondsing?
Die TAO het aanvanklik die skoolhoofde van ’n aantal Afrikaanse hoërskole landswyd betrek met die versoek om aan te dui waar daar behoeftes bestaan vir oorbruggingsvoorskotte ten opsigte van projekte wat sal help om die Afrikaanse voortbestaan van die skole te verseker.

Die vereistes was dat die projek lewensvatbaar moet wees; dat dit sal bydra dat die leerdergetalle gehandhaaf kan word of sal verhoog; dat die skool ’n gelyke aanvanklike bydrae sal maak; en dat die voorskotbydrae beperk sal wees tot R5m en terugbetaalbaar sal wees oor ’n periode van vyf jaar.

Na die suksesvolle uitrol van die Nelspruit Hoërskool se projek, het ’n aantal Afrikaanse laerskole ook aansoek gedoen vir ondersteuning en die TAO het ingestem om die program uit te brei. Daar word nie voorkeur verleen aan enige skool nie – dit was letterlik ’n geval van wie eerste aansoek gedoen het wat eerste ondersteun is.

Is enige van die skoolprojekte reeds afgehandel en oorhandig aan die skool, of is hul almal nog aan die gang?
Van die 11 is drie reeds afgehandel.

Watter skool se projek verg op die oomblik die meeste insette, is daar een wat uitstaan?
Sommige skole se projekte was van so aard dat ’n bedrag eenmalig aan die skool oorbetaal is en die projek binne ’n kort periode voltooi is. Ander skole het ’n aantal kleiner verbeterings wat hulle wil aanbring en elke projek moet deurdink en ge-evalueer word. In die proses probeer ons altyd die beste waarde vir geld vir die skool beding.

Hoërskool Wilgers is so geval. Ons is al ongeveer ’n jaar lank hier betrokke met verskillende projekte. Die skool het tans 602 leerders en wil  graag sy getalle laat groei tot ‘n maksimum van 750 leerders. Met die huidige beperkte mannekrag en hulpbronne tot hulle beskikking kan hulle nie op die oomblik ’n faktotum bekostig nie en word die funksie deur een van die onderwysers behartig. Die uitvoering van projekte is dus ’n uitdaging en ook baie afhanklik van ouerbetrokkenheid en welwillendheid van die gemeenskap.

Indien die skool meer leerders kan kry, en ook die persentasie verhaling van skoolgelde kan verhoog, behoort hul hierdie uitdagings te bowe te kom.

Die skool het afgeskop met ‘n aantal opgraderings van sy bestaande bates en het daarna ’n sekuriteitskamerastelsel geïnstalleer. Heelwat van die sportgronde se heinings is herstel en tans is ons besig om al die dakke by die skool oor te verf. Hulle beplan verder om ’n rekenaarsentrum op te stel, om badkamers te bou by die sportvelde en om busse aan te koop vir die daaglikse vervoer van leerders.

Wat presies is Atterbury se rol?
Atterbury Trust hanteer die oorhoofse programbestuur en help hier en daar met die detail-projekbestuur.

Wat is die tydlyn met Die Wilgers – wanneer hoop julle om dit te kan oorhandig aan die skool? En hoe lank nog gaan dit duur om hierdie agt skole se opgraderings te voltooi?
HS Wilgers behoort binne die volgende jaar afgehandel te wees. Soos genoem doen ons klomp verskillende projekte volgens hul prioriteite. Die ander skole behoort oor die volgende 18 tot 24 maande voltooi te word.

Wat is die terugvoering van die skole – kan jy ’n staaltjie met ons deel van hoe die werk wat hier gedoen word ’n tasbare verskil aan ‘n skool of ’n gemeenskap gemaak het?
Die Hoërskool Zwartkop is ’n goeie voorbeeld waar die oprig van ’n aantal tydelike klaskamers ’n reuse verskil gemaak het aan die daaglikse lewens van leerders en onderwysers. Die betrokkenheid van die skool en die gemeenskap was ’n riem onder die hart en het ons net weer laat besef dat die uitdagings wat ons ervaar in Suid Afrika nie vir ons onoorkombaar moet lyk nie.

Wat is volgende, na hierdie skole almal geholpe is – is daar al ’n tweede lys van name?
Die TAO het al informeel aangedui dat die program nie voortgesit gaan word in sy huidige formaat nie. Daar is heelwat wysigings in die pyplyn wat ons onderwysstelsel betref en die voortbestaan van Afrikaanse onderrig is defnitief onder bedreiging, wat waarskynlik ‘n ander benadering sal benodig.

As daar mense is wat wil help met skenkings of dienste, hoe maak hulle?
Die voortbestaan van ’n skool en die ontwikkeling daarvan tot ’n sentrum van uitnemendheid is grootliks afhanklik van die gemeenskap se betrokkenheid. Ons probeer sover as moontlik om diensverskaffers en kontrakteurs uit die gemeenskap te gebruik en om dan met hulle te onderhandel vir die beste waarde vir geld. Enige verskaffer wat bereid is om ‘n bydrae te lewer, hetsy met die skenking van boumateriaal of die verskaffing van dienste teen kosprys is meer as welkom om ons te kontak – stuur ’n epos na [email protected].