Die Pendoring-toekennings is vir die reklamebedryf soos die Oscars vir die rolprentbedryf: as jy so ‘n toekenning ontvang, sê dit jy is die beste van die beste. Vanjaar het die kreatiewe agentskap Etiket met drie Pendorings weggestap vir hul “Kief Koekies” advertensie. Adéle Changuion het vir Maroela Media se webwerf meer uitgevind

William de Bruin, pa van die projek, sê hulle het nie beplan om “Kief Koekies” vir die Pendorings in te skryf nie. “Ons het dit nie aangepak om iets te wen nie – dit was passie wat ons gedryf het. As jy iets doen wat vir jou lekker is, sal jy jou beste gee.”
Vir Erika Venter, ontwerper by Etiket, was dié projek baie na aan haar hart omdat haar ma die kliënt was. “My ma het gesê sy wil ʼn ekstra inkomste verdien deur koekies te verkoop. Ek het besluit om vir haar ʼn logo te ontwerp, want dis wat ek doen. Ek het nie gedink dit gaan iets groots wees nie. Toe ek die logo klaar ontwerp het, het Tiaan Ras, ons inhoudsdirekteur, dit gesien en hy het besluit om dit verder te vat.”
Bobaasbakker Riekie Venter raak sommer tranerig as sy haar storie begin vertel. “Dit het begin met ʼn babatjie wat gebore is met ʼn probleem. Die mediese fonds wou nie al die kostes dek nie en daarom moes ons sommige dele self betaal. Ek kon nie gaan werk nie, want niemand anders sou verstaan hoekom my kind huil nie. Ek het besluit om my eie ding te doen sodat ek my kind self kon grootmaak en dis waar die bakkery begin het.”
Die babatjie was niemand anders nie as Erika, en nou, jare later, is sy gesond en dis asof die kring voltooi is met ma en dogter en nog ‘n koekie-projek. Riekie meen sy het Erika en William ten volle vertrou om die reklameprojek te bestuur, maar sy het ook ʼn sê gehad. “Kyk, ek het gesê hulle kan my enigiets noem, maar hulle noem my nie ‘Tannie Tert’ of ‘Tannie Koekie’ nie. Dis waar ek die streep getrek het!”

Luister na die podsending om te hoor hoe William en Erika saamgewerk het aan dié wen-projek..

Die storie het oorspronklik op maroelamedia.co.za verskyn. Besoek gerus Kief Koekies se Facebookblad (https://www.facebook.com/kiefkoekies/timeline).