Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns stel vanjaar weer miljoene rande beskikbaar vir beurse aan nagraadse studente in enige vakdissipline, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Studente wat vir ʼn meestersgraad of doktorsgraad by enige universiteit in Suid-Afrika wil inskryf, kan aansoek doen, het die uitvoerende hoof van die SA Akademie, dr. Dioné Prinsloo, onlangs gesê.

Die waarde van die beurse beloop tot soveel as R120 000 vir doktorsgraadstudie en R60 000 vir meestersgraadstudie. Voltydse sowel as deeltydse studente kan aansoek doen. Die enigste voorwaarde wat die Akademie stel, is dat die uitkoms van die nagraadse studie in Afrikaans aangebied word.

“Hoewel universiteite in Suid-Afrika sterk verengels, glo die Akademie dat daar steeds plek is vir gevorderde studie in Afrikaans en dat studente wat dit verkies sover moontlik in staat gestel moet word om hul nagraadse studie in hul moedertaal te voltooi – in hierdie geval Afrikaans,” het Dr. Prinsloo gesê. “Met hulle gevorderde studie dra die studente ook by tot die uitbreiding van Afrikaans as vaktaal. Die SA Akademie aanvaar dat daar genoeg Afrikaanstalige akademici in die land is wat nagraadse studente in Afrikaans wil en kan begelei.”

Aansoeke vir die akademiese jaar 2018 sluit einde Augustus. Navrae kan gerig word deur ʼn e-pos na Melanie Rens by [email protected] te stuur. Inligting hieroor is ook by akademie.co.za (http://www.akademie.co.za) beskikbaar.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.