Hoe lyk arm?

Eiland van hoop

Hoe lyk arm?

Untitled-1Dana Snyman se dag in Danville

Net ná halfagt hou ‘n pikswart Colt Galant uit die jare tagtig op die sypaadjie voor die Beyers Bytjies-kleuterskool in Danville, Pretoria, stil. Op die kattebak staan in rooi letters geverf: “Black Beauty”. Agter die stuurwiel sit ‘n kêrel met ‘n hangsnor wat dun tot onder sy kennebak rank. Langs hom trek ‘n blonde vrou aan ‘n sigaret. Rondom haar oë lê die swaarkry blou opgedam. Op die agtersitplek is ‘n seuntjie. “Gaan jy nou blêddie wil uitklim!” grom die man vir die seuntjie. “En hou nou net op huil, oukei?” voeg die vrou by. Die kind klim by die agterdeur uit, kaalvoet, snikkend, in ‘n hempie met ‘n ietwat verweerde Donald Duck op. Die Colt spring weg en mik in Jan Ellisstraat af, met ‘n blou rookwolk agterna.

Dis ‘n doodnormale Donderdagoggend hier by Beyers Bytjies op die hoek van Marsburg en Jan Ellisstraat. Die skooldag gaan amper begin. Die meeste kinders kom saam met iemand hier aangestap, want Beyers Bytjies het nie ‘n bussie nie. Ander kinders word in sulke ou karre soos daardie Colt hier afgelaai. Ek stap by die hek in. Dit is die eerste keer in jarre dat ek weer in Danville kom. As jy nie in Danville woon nie, en jy het ook nie familie of vriende hier nie, kom jy nie sommer hier nie. Eintlik is Danville meer as net ‘n voorstad van Pretoria. Danville is soos Jan Bom in Johannesburg en Epping in Kaapstad. Danville is ‘n sinoniem vir armoede en sukkel, vir tien-mense-in-‘n wendyhuis, en honger, mishandelde kinders, en mishandelde Colt Galants.

Danville is vir baie mense hopeloosheid. En tog. Hier by Beyers Bytjies lyk alles vanmôre vrolik en vol hoop. Die klaskamers en die stoepe is skoon en die grasperk gesny. In Juffrou Helena Lampbrecht se klas sit ‘n spannetjie kinders reeds en prente inkleur. In die kantoor sit en gesels Zahn Hulme by tannie Bets Dreyer, ‘n maatskaplike werker wat voltyds by die skool betrokke is. Zahn is die hoof van die Atterbury Trust, wat deur die Atterbury-groep gestig is. Zahn is ook ‘n vryskut-engel, want deur haar het die Trust hier by Beyers Bytjies betrokke geraak. Die Trust betaal die onderwysers en van die personeel se salarisse en skenk ook geld vir toerusting en kospakkies en allerhande ander goed by die skool. Die Trust hou Beyers Bytjies aan die gang. ‘n Eiland van hoop, noem Zahn hierdie plek. ‘n Mens besef dit eers werklik wanneer jy saam met tannie Bets by die skool rondloop. Ons stap by die kantoor uit. Hier kom twee keer ‘n week ‘n  arbeidsterapeut na die skool om kinders te help wat motoriese en ander probleme het. Hier kom ook soms ‘n sielkundige. “Eintlik behoort hier elke dag ‘n sielkundige en ‘n arbeidsterapeut te wees,” sê tannie Bets, “maar ons kan dit nie bekostig nie.”

‘n Vrou kom verby gestap. “More, Zeppie,” groet tannie Bets haar. “Ek sien jy’t darem daai ring uit jou tong gehaal.”, “Ja, antie Bets. Ek’s klaar met daai dinge.” sê sy. Zeppie Coetzee het in ‘n kar gewoon, saam met haar man en kinders, voordat tannie Bets vir hulle ‘n beter blyplek gekry het. Soms het dit maar rof gegaan. Nou doen Zeppie elke dag los werkies hier by Beyers Bytjies – in ruil vir kos. Want daar is nie genoeg geld om haar te betaal nie. Tannie Bets stap by Juffrou Magda se klaskamer in. In die hoek is ‘n klompie miniatuurmeubels soos vertrekke in ‘n huis uitgepak: ‘n stofie, ‘n kombuistafeltjie met stoeltjie, ‘n spieël teen die muur, ‘n hangkassie. “Hierdie is wat ons noem ‘n fantasiehoekie,” verduidelik tannie Bets. “Omdat baie kinders in kamers en wendyhuise bly, weet hulle nie hoe dit in ‘n regte huis is nie. Hier kan hulle hul verbeel hulle is in ‘n regte huis. Party kinders weet nie eens mooi wat’s ‘n spieël wanneer hulle hier kom nie.” Dis iets waaraan ek nog nooit gedink het nie: Hoe speel kinders wat nie ‘n huis het nie, hoe speel húlle huis-huis? “’n Kind is geneig om die waarheid te praat.” Tannie Bets kyk my vol in die oë. “Hier hoor jy hartseer stories. Nou die dag was hier weer enetjie wat deur die ma se boyfriend met ‘n sigaret gebrand is.” Een kind het ook al kom vertel “’n oom met stomp vingers vat lelik aan hom”.

Ons stap terug na tannie Bets se kantoor. Daar is so baie wat sy nog vir Danville se kinders wil doen, maar geld bly maar ‘n probleem. Die Atterbury Trust is pas ook as ‘n Public Benefit Organization (PBO) geregistreer. Dit beteken maatskappye en mense kan donasies aan die Trust maak en dan sal die geld vir projekte soos dié gebruik word. By elke klaskamer se deur hang ‘n klaslys. Ek lees die kinders se name: Chenelle, Dwané, Aluscha… Dis asof party ouers wou sê: Ek kan nie vir jou veel aardse goed gee nie, my kind – ek kan jou wel bederf met ‘n mooi, frillerige naam. In Juffrou Magda se klaskamer is ‘n seuntjie in die fantasiehoekie. Ek herken hom dadelik: Hy is die outjie met die Donald Duck-hemp wat vroeër uit die Colt Galant geklim het. Hy trek vir homself gesigte in die spieël, dan lag hy vir homself. Hy geniet homself daar voor die spieël op hierdie eiland van hoop. Dit kan jy sien.

Vanmiddag sal daardie Colt hom weer kom haal en hom terugvat na die wêreld van wendyhuise en muwwerige agterkamers en ooms met stomp vingers.

Untitled-1 Untitled-1

Untitled-1 Untitled-1

 

Leave a Reply