Paulette Reyneke, Atterbury Teaterbestuurder, vertel wat agter die skerms by die teater gebeur…

1. Hoe het jou paaie met Atterbury s’n gekruis en hoe lank is jy nou al by die Atterbury Teater?
Ek het vir 12 jaar die Centurion Teater bestuur. Terwyl die Atterbury Teater in aanbou was het Laurika Rauch vir my gevra het of ek dit sou oorweeg om dit te gaan bestuur. Ek het besef dat dit ‘n wonderlike geleentheid is en hier is ek vandat die teater so vier jaar gelede geopen is.

2. Vertel ons ‘n bietjie meer oor jouself?
Ek bly my hele lewe lank in Pretoria en was in Pretoria-Oos Laerskool en Afrikaanse Hoër Meisiesskool. Ek is al vir 48 jaar met Koos Reyneke getroud en ons bly in die Bronberg bokant Wapadrand Landgoed saam met twee honde, drie katte, baie dassies en ystervarke…

3. Hoe vergelyk die Atterbury Teater met ander teaters waar jy al gewerk het? Wat maak dit uniek?
Die Atterbury Teater is uitstekend beplan met goeie klank en ligte en 400 sitplekke wat die regte grootte is vir die groot verskeidenheid produksies wat ons aanbied. Die ligging en mooi sentrum maak dit baie gewild by die publiek asook die kunstenaars.

4. As teaterbestuurder, wat is die lekkerste deel van jou dagtaak?
Om uiteindelik te gaan sit en al die vertonings te sien en met die interessante kunstenaars te skakel.

5. Soms moet dinge seker ook verkeerd loop? Kan jy ‘n staaltjie deel?
Sandra Prinsloo moes een aand hier optree en die hele dekor-stel, met selfs die skoene wat sy moes aantrek, het eers vyf minute voor die vertoning moes begin, hier aangekom!

6. Is daar so iets soos die gewildste vertoning ooit by die teater? Iets wat jy vooraf weet sal uitverkoop?
Daar is ‘n paar kunstenaars wat altyd uitverkoop soos Nataniel, Laurika Rauch, Stef Bos, Steve Hofmeyr (nog steeds!) en deesdae Karen Zoid. Maar daar is regtig iets vir almal.

7. Wat die moeilikste vertonings om suksesvol aan te bied? Het julle al ooit klagtes gehad van ‘n lid van die gehoor, en wat maak mens daarmee?
Klassieke musiek verkoop nie so maklik nie, maar ons het onlangs groot sukses gehad met Ben Schoeman wat wêreldwyd optree. Ons kry soms klagtes wat ongelukkig dikwels swaarder weeg as positiewe terugvoer en probeer maar verduidelik en komplimentêre kaartjies vir iets andes aan te bied.

8. Hoe hanteer jy dit as ‘n kunstenaar ‘n groot diva is? Gebeur dit ooit?
Gelukkig kom ons goed klaar met die kunstenaars en ek hou van hulle kreatiwiteit en uniekheid.

9. Kom ons droom en sê jy kan enige vertoning/kunstenaar in die wêreld kry vir die Atterbury Teater… wie of wat sal dit wees?
Daar is so baie, maar ek sou graag vir Leonard Cohen hier wou sien optree, asook van ons groot operasangers wat wêreldwyd bekend is, ook van ons groter Suid-Afrikaanse toneel wat dikwels te duur is.

10. Het julle “superondersteuners”, wat na alle vertonings toe kom?
Ons het baie gereelde teatergangers wat ons by name ken, en ook ‘n Help Seniors klub met baie gereelde ondersteuners.

11. Wat is die interessantste ding wat iemand al in die teater vergeet het?
Gewoonlik is dit selfone of klere maar iemand het een keer ‘n babastootwaentjie hier vergeet en dit eers ‘n maand later kom haal!

12. Laastens, vertel ons iets van die Atterbury Teater wat ons sal verras?
Daar is nog slegs drie datums beskikbaar van nou tot 19 Desember wanneer ons sluit!
Die volledige program van opkomende vertonings by die Atterbury Teater is hier. http://atterburytheatre.co.za/a_events.htm