Tien jaar gelede het ek nooit gedink ek sou wees waar ek nou is nie.  As kind was my grootste droom om ’n aktrise te wees of selfs ’n beroemde sangeres, maar nooit ’n dokter nie!  Op skool het ek in ’n toespraak verklaar dat ek doodbang is vir bloed en nooit sal kans sien vir ’n beroep waar mens met bloed werk nie! Wel, en toe in Graad 11 het ons beroepsvoorligting gekry en ek het verskeie beroepsareas probeer – onder andere het ek vir ‘n week by ’n radiologiepraktyk gewerk en besef ek stel belang daarin.

Om ’n radioloog te word behels ses jaar se studie vir die MBChB-graad en vier jaar van spesialisopleiding. Ek het in my matriekjaar besluit om aansoek te doen vir MBChB. Die keuring is ongelooflik streng en daar is baie stywe kompetisie vir plekke. Die vereistes is hoofsaaklik akademies, maar met jou aansoek weeg gemeenskapsdiens in ’n medies-georiënteerde veld ook in. Ek het begin om oor naweke uit te help by die plaaslike hospitaal in Warmbad en my belangstelling het oornag in ’n passie verander.  Ek wou ’n dokter wees.  Ek het ten spyte van ’n skraal kans op keuring en oorwegend afbrekende aanmerkings van skoolmaats en onderwysers aansoek gedoen.

Ek is nie gekeur vir MBChB in die eerste rondte van keuring nie, maar het wel keuring gekry tot die BSc Biologiese Wetenskappe-kursus.  Die top 60 studente in hierdie kursus (wat aansoek gedoen het vir MBChB maar nie in die eerste rondte keuring gekry het nie) word aan die einde van die eerste semester toegelaat tot MBChB as hulle die plek aanvaar.  Vir ses maande het ek ongelooflik hard gewerk, gebid en gehoop vir so ’n plek.  My gebede is verhoor en ek is gekeur vir MBChB en kon my droom najaag.

Die blydskap was van korte duur want ek het besef dat die studielening wat my ouers uitgeneem het nie genoeg sou wees om ses jaar se klas- en koshuisfooie te dek nie. Atterbury Trust het ’n groot bydrae gemaak tot die finansiering van my studies, en daarvoor sal ek ewig dankbaar wees.

Na afloop van my studies was die stres weereens op my om ’n werk te kry. In die huidige klimaat is poste vir die twee jaar van internskap en een jaar gemeenskapsdiens nie gewaarborg nie. Ek het soos altyd my geloof op die Here gehou, en vandag werk ek by Port Shepstone Hospitaal en bly in my huisie by die see. Baie dankie aan elkeen wat deel is van Atterbury Trust.  Julle maak drome ’n werklikheid.

By |2018-06-13T16:17:35+00:0013 Junie, 2018|Alumni|0 Comments
%d bloggers like this: