Soms het mense die eienaardigste troeteldiere – van spinnekoppe tot meerkatte. In sy nuutste Oom Herrie se Kerrie rubriek op Maroela Media se webwerf vertel Herman Toerien van sy eie familie se huisdiere…

Die Herries was self deur ’n fase van makoue, kapokkies, konyne en wat nog. Deesdae is dit net twee honde. Wolf, die poolhond, het duidelik baie wolf in hom en “verkondig” dit ook met die vreemdste repertoire van wolfgeluide, veral naby etenstyd.

Nala was saam met haar nege boeties en sussies ’n weggooihondjie. En goed gebaster is sy nou ten ene male gebaster, maar ’n voorsaat wat sterk deurslaan, is die beeshond. Ja, as sy en Wolf speel, is Wolf knaend boggelrug aan die draf met Nala wat aan sy een hakskeen hang, of sommer makliker, Wolf se stert. Wolf duld dit, terwyl niemand anders veel aan hom mag vat nie, laat staan nog met sy stert peuter.

Die persoon wat die beeshond geteel het – eintlik Australiese beeshond – het ook dingo’s gebruik. Die dingo is eintlik ’n hond wat jare gelede saam met jagters na Australië gekom het, en weer wild geword het. Deesdae word die mak herkoms dikwels ontken, maar dan is dit nie so maklik om te verduidelik hoe die voorsate die Australiese kontinent bereik het nie.

Nala is die ene vriendelike lieftalligheid (behalwe as sy ’n kat gewaar of ‘n voël in die huis kry). Soos die dingo kan Nala haar voorpote in omtrent enige rigting draai, met die voorpote ook soos vliegtuigvlerke weerskante uitgestrek. Soos die dingo kan sy haar “prooi” met die voorpote vasgryp en vashou. Maar anders as die dingo is dit nie om te keer dat die prooi ontsnap nie, dis om te keer dat die liefde wat sy van so ’n vasgegrypte persoon kry, ophou.

Die Herries het ook nog nie gesien dat Nala ’n boom klim nie soos dingo’s glo kan doen. Wolf is wel al ’n hele ent teen die vyeboom uit, maar hy klim ook op omtrent alles.

Nala is lief om agter oom Herrie se stoel voor die rekenaar te kom lê as oom Herrie werk. Dié stoel het wieletjies, en oom Herrie moet eers kyk of dit veilig is voor hy agteruit ry.
Elke mens se flou makou is seker ’n glansryke pou. Maar dit is tog interessant om die wolf en dingo in ons wollerige gesinslede op te let.

Dié rubriek het oorspronklik op Maroela Media verskyn. Vir nuus, debat, vertellings en meer in Afrikaans, besoek http://maroelamedia.co.za