Aardklop is een van ons gunsteling-feeste en vanjaar is Atterbury Trust trots om saam met Atterbury Teater te kan deelneem as medeborg van die eenmalige Afri-Frans Reüniekonsert. Ons het met musiekleier Matthys Maree gesels oor hierdie herlewing van sy ambisieuse vertalingsprojek wat gewilde Franse liedjies ‘n Afrikaanse baadjie gegee het.

Kan jy vir ons kortliks opsom wat die idee destyds agter Afri-Frans was?
Ek is persoonlik baie lief vir Frankryk, sy kultuur en musiek. Maar tog baie trots op ons eie volksmusiek. Nadat ek in België en Nederland op toer was met die musiek van Jacques Brel, het die gedagte my beetgepak om ons musiek ’n nuwe baadjie aan te trek in Frans, Spaans en Italiaans. ’n Groot deel van ons land se geskiedenis bevat tog Europese gene, hetsy deur taal, kultuur, kos of musiek. Maar hier sou die ommekeer dan gebeur en ons uit ons eie skoene klim en met die ore van iemand in die buiteland na ons eie musiek luister. Na die sukses van Afri-Frans 1 wou ek onmiddellik begin met die ander tale, maar het besef dat Frans tog die magiese taal is, en het derhalwe besluit om ’n tweede Franse album uit te reik saam met die eerste Spaanse een. En daarna ’n tweede Spaanse een saam met Italiaans. Die reeks is afgesluit met ’n kompilasie genaamd Afrikaans op Reis, waarop ’n keur vanaf al vyf albums was, maar hierdie keer in duet met SA kunstenaars wat hierdie liedere bekend gemaak of geskryf het.

Wanneer laas was daar ‘n konsert van Afri-Frans en hoe het hierdie reüniekonsert ‘n realiteit geword? Hoekom spesifiek Aardklop?
Ek dink hier om en by 2012/2013 rond het ons die laaste vertonings gehad. Daar was ’n definitiewe besluit om op ’n sterk voet af te sluit en nie die hele konsep dood te maak deur te lank daarmee aan te karring nie. Maar toe ek en Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, onlangs gedagtes ruil oor moontlike produksies vir Aardklop het die gedagte weer by my opgekom. Maar ons doen slegs een vertoning. Dit beantwoord ook maar die “hoekom Aardklop” vraag, aangesien Alexa reeds toentertyd betrokke was by van die Afri-toere in SA.

Het jy persoonlik ‘n gunsteling onder die liedjies?
Nie regtig nie, maar onder dwang sou ek dalk moes sê “Lisa se Klavier”. In die vertonings was Myra Maud en Laurika se duet daarmee waarskynlik die grootste treffer.

Wie neem almal deel  – ons hoor jy bring selfs die einste Myra Maud (die Franse sangeres wat op die album opgetree het)?
Ja natuurlik het ons haar nodig! Sy is ongelooflik, en toe ek haar kontak ’n paar maande gelede het sy onmiddellik ’n paar van haar Afrikaanse sinne teruggegooi wat sy met al haar toere hier geleer het! Sy is baie lief vir ons land – tereg – maar het natuurlik ook ’n paar plaaslike kunstenaars saam met haar op die verhoog om op te steun. In hierdie geval Mathys Roets en Anna Davel saam met ’n orkes. Die akteur Chris van Niekerk help met teks tussendeur die liedere.

Kan ons enige van jou Spaanse en Italiaanse weergawes van liedjies verwag of is hierdie 100% onverdunde Afri-Frans?
Dis 100% Afri-Frans! Danksy Atterbury Trust se betrokkenheid was dit moontlik om vir Myra uit te vlieg. Ons hou Spaans en Italiaans vir ’n reünie op ’n ander geleentheid!

As mense nie Aardklop kan maak nie, gaan die vertoning dalk iewers anders ook te sien wees?
Ongelukkig slegs een vertoning – Myra se skedule het nie verdere vertonings toegelaat nie, en sy het reeds twee dae na ons vertoning weer verpligtinge in Duitsland.

Maar vir die ouens wat nog wik en weeg, sê bietjie hoekom hulle Aardklop toe moet kom!
Aardklop is myns insiens ’n “Polaroid snapshot” van die Afrikaanse kunste op die oomblik. Dis met sorg saamgestel en bied ’n puik keur van produksies, vanaf beeldende kunste tot grensverskuiwende teaterwerk. Dit bevat die hoofstroom kunstenaars, maar stel ons ook bloot aan wat nuut en vars is in Afrikaans. Ek is baie opgewonde om by nog twee Aardklop-produksies betrokke te wees, naamlik Drie van die Bestes: 20 Jaar Later en ook Woordenaars, met tydlose musiek wat strek van Stef Bos en Koos van der Merwe tot hedendaagse musiek van Herman Kleinhans, Spoegwolf en Jo Black saam met ‘n toporkes. Kom sommer vir al drie vertonings

Sal mens die albums ook by die konsert kan koop? Waar kry ek die albums deesdae in die hande?
Die vertoning is Donderdag 5 Oktober om 16:00 in die Sanlam Ouditorium op kampus. Dis loshande die lekkerste venue op die fees, en daar sal inderdaad albums by die vertoning beskikbaar wees. Daar is ook in sekere musiekwinkels, asook op iTunes van hulle beskikbaar!

Kaartjies beskikbaar by Computicket.