Dinge gaan voor die wind by Die Virtuele Instituut vir Afrikaans… die nuwe Woordeboekportaal-app wat Atterbury Trust geborg het is baie gewild en nou is die volle webwerf ook aktief met nuwe produkte en dienste, sodat taalnavorsers in alle uithoeke van die aarde kan aanklop vir antwoorde oor Afrikaans. Ons hoor die jongste nuus by uitvoerende direkteur Gerhard van Huyssteen.

Hoeveel keer is die app nou al afgelaai?
Gesamentlik oor iOS (Apple) en Android is die app al 7 500 keer afgelaai. En sedert ons laas in September gepraat het, het VivA se Facebook likes meer as verdubbel – dit staan nou op 3 500!

Baie geluk! Watter nuwe funksionaliteit het bygekom sedert ons laas gesels het?
Die mobiele toepassing het onveranderd gebly, maar daar is baie nuwe funksionaliteite op die webwerf, waarop ons baie trots is. So byvoorbeeld is daar baie meer woordeboeke op die webwerf beskikbaar – ‘n hele klomp gratis woordeboeke, maar ook woordeboeke soos die WAT en HAT waarop jy kan inteken. En dan is daar die Adviesportaal. Hier kan jy blaai deur ‘n databasis van taalvrae wat dikwels gevra word, of jy kan direk iets vir ons taaladviseur, Sophia Kapp, vra. Dis ‘n opwindende diens waar jy per telefoon of via WhatsApp of die webblad antwoorde kan kry. En vir mense wat navorsing in en oor Afrikaans doen, is daar die Korpusportaal (waar navorsers in groot versamelings teks na taalpatrone kan soek) en Taalportaal (‘n omvattende beskrywing van Afrikaans se grammatika, wat eers in 2019 afgehandel sal word).

Hoe gewild is die Adviesportaal en wie gebruik dit tipies?  
Die gewildste kanaal is WhatsApp en feitlik almal wat daar kom navraag doen het, het al teruggekom om weer vrae te vra. Daar was skoolkinders en studente onder die vraagstellers, plus mense wat taalwenke op VivA se webwerf gesien het en dan daaroor uitgevra het. Dit lyk asof mense gemaklik is met die formaat. Die telefoonoproepe was meestal van persone wat gewoonlik die WAT se kantoor skakel en nou na ons verwys is. Dit is ouer mense in meer geformaliseerde taalgebruiksituasies (ʼn omroeper by ʼn radiostasie, dosente aan universiteite, ʼn vertaler, ʼn prokureur wat ʼn korrekte brief aan ʼn kliënt wou stuur, en so meer) wat taalbewus is en wat gespesialiseerde vrae gehad het.

Wat is die plan met VivA se Instagramprofiel?
Ons plaas gereeld nog foto’s en taalwenke op Instagram. En natuurlik hoop ons om volgende jaar weer ‘n skolekompetisie aan te bied. Instagram is besonder gewild onder jong mense, en ons wil ook graag hulle taal praat.

Wat kom volgende vir die app?
Sommer baie opwindende dinge! Ons is reeds besig met beplanning vir ‘n nuwe vanlyn weergawe, asook vir ‘n aanlyn weergawe. In die vanlyn weergawe sal jy in die toekoms addisionele, gratis woordeboeke kan aflaai en dan kies uit watter woordeboek jy resultate wil sien. Vir die aanlyn weergawe sal jy ook kan inteken op woordeboeke soos die HAT en WAT. En naas weergawes vir Android en iOS, kom daar ook ene vir Windows 10. Dit sal nog ‘n eerste vir Afrikaans wees!

Kom daar nog meer kompetisies?
Daar is tans op sosialemediaplatforms ‘n kompetisie waar mense lekker pryse kan wen. En ons hoop natuurlik om volgende jaar voort te bou op die reusesukses van hierdie jaar se skolekompetisie.

Bereik Viva se Adviesportaal weeksdae deur Whatsapp tussen 8vm en 5nm, 062 126 0295. Navrae word binne vier uur beantwoord. Vir meer inligting en ekstra dienste, besoek www.viva-afrikaans.org

Viva