Petrus Visser is ’n chemiese ingenieurswesestudent in sy tweede jaar by Tuks, en soos al ons Atterbury Trust beursstudente is hy nie bang vir ’n uitdaging nie… hy is juis tans besig om ’n watersuiweringsprojek te lei wat eintlik vir ’n meer ervare student bedoel was! Net soos hy daarvan hou, sê hierdie talentvolle jongman wat graag sy talente wil aanwend om die omgewing te help. Ons het hom uitgevra oor sy toekomsplanne.

Hoe het jy besluit op die vakrigting wat jy gekies het?
Ek was nog altyd lief vir chemie, plus ek geniet die uitdaging wat die kursus vir my bied.

Jy bly nie in ’n koshuis nie, né? Hoe het jy dus ingeskakel by die studentelewe op kampus?
Nee ek swot uit die huis uit. Dit was aanvanklik moeilik om in te skakel sonder om by ’n daghuis aan te sluit, maar ’n mens kom elke dag so ’n magdom mense teë dat dit nie moeilik was om vriende te maak nie. Sodra ’n mens vriende gemaak het, is die res maklik.

Wat sou gebeur het as jy nie destyds die Atterburybeurs gekry het nie? Hoe het jy daarvan te hore gekom?
Dit sou baie uitdagend gewees het sonder die finansiële ondersteuning wat die beurs my gee. Ek sou moes aanklop by verskeie familielede om my studies te help betaal. Gelukkig het my vriendin se pa my van die beurs vertel…

Ons hoor jy werk aan ’n watersuiweringsprojek – is dit deel van jou studies en wat behels dit?
Ja, dis deel van my studies – vanaf ons tweede jaar moet elke chemiese ingenieurstudent ses weke se praktiese opleiding doen by ’n chemiese ingenieursfirma. Ek het dus hierdie jaar daarmee begin en eintlik weens miskommunikasie het die firma gedink ek is derde jaar en my in die diepkant ingegooi met hierdie projek – net soos ek daarvan hou! Die projek behels die herstel en opgradering van ’n watersuiweringsaanleg wat skoon drinkwater verskaf aan die werkers by ’n myn. Ek moes navorsing doen en die projek bestuur onder toesig en leiding van die hoof-ingenieur van die mynaanleg.

Het die projek jou die aptyt gegee om verder in hierdie rigting te werk as jy eendag in jou beroep staan? Of het jy bepaalde ander ingenieursdrome?
Ek vind watersuiwering baie interessant, want ek glo die wêreld sit met groot probleme wat water betref, en dit word net groter… Maar daar is nog só baie om te leer dat ek nie kan sê dat dit definitief is waarop ek my beroep gaan fokus nie.

En jy behoort nou ook aan Golden Key – baie geluk! Het jy al enige betrokkenheid by die organisasie gehad? Waarna sien jy die meeste uit?
Baie dankie! Ek het die eerste amptelike funksie, die verwelkomingsfunksie, bygewoon waar die nuwe lede sertifikate en balkies ontvang het. Ek het daar ’n paar ander studente wat in dieselfde rigting studeer as ek ontmoet, wat lekker was, en ek sien veral uit na die nagraadse beursgeleenthede wat aan Golden Key lede beskikbaar gemaak word. Onder andere is dit oorsese geleenthede…

Hoe bestee jy jou vrye tyd… as jy so iets het tussen die studies en al die projekte deur?
Vrye tyd is beslis skaars met hierdie kursus, maar as ek het, dan bestee ek dit saam met vriende en familie. My mense is vir my baie belangrik, daarom knyp ek elke tydjie wat ek kan af om by hulle te wees.

Wat is die belangrikste les wat jou ouers jou geleer het?
My ouers het my vandat ek jonk was geleer om nederig te wees. Koos du Plessis het dit goed uitgedruk in die gebed wat hy geskryf het: “Wat ek is is net genade, wat ek het is net geleen.”

As jy aan enige ingenieursprojek kon kies om te werk, wat sou dit wees? Watter uitdagings sou jy graag as ingenieur wou aanpak?
Kan ek twee kies? Ek wil baie graag werk aan of hernubare kraggenerasie-metodes soos om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verander na ’n bruikbare vorm of selfs om water te verander na ’n onskadelike brandstof. My ander opsie sal wees om stooreenhede vir krag te ontwikkel; as meer doeltreffende alternatiewe vir batterye. Maar die grootste uitdaging wat ek sal wil aanpak is die skoonmaak van die omgewing, en om stelsels te ontwikkel en in te stel om die wêreld skoon te hou.

Ons planeet het mense soos Petrus nodig om die oplossings te vind vir die skade wat ons as mense aan ons omgewing aanbring. Atterbury Trust administreer ons beursfonds om sulke toekomsgerigte jongmense te help om hul studiedrome waar te maak, en met jou donasies kan ons nog meer doen. As jy wil skenk, kliek hier – dis maklik en vinnig, en jou donasie kom met belastingvoordele.