ʼn Negentienjarige man van Brits in Noordwes het onlangs tientalle kinderhuiskinders se dag gemaak toe hy uit die bloute by hulle opgedaag het om hul fietse reg te maak, skryf Janie Monsieur op Maroela Media se webwerf

Christoff Jacobs, wat ’n mobiele fietsherstelbesigheid genaamd On the Go Cycles het, vertel dat dit bloot toevallig was dat hy daardie dag na die Cornerstone-kinderhuis gegaan het. “Dit was regtig stil by die werk daardie dag en my ma het toe voorgestel ek gaan na die kinderhuis toe om hulle te help. Om eerlik te wees, wou ek nie gaan nie, omdat ek geweet het ek gaan nie almal se fietse kon regmaak nie. Maar toe skraap ek my moed bymekaar en gaan!”

Jacobs sê hy het gereken daar sou omtrent 10 of so fietse wees wat herstelwerk nodig het, maar toe hy daar kom, was daar meer as 20 kinders wat sy hulp nodig gehad het.

“Dit was baie emosioneel vir my om nie almal te kan help nie, en om nie almal se fietse te kan saamvat om te herstel nie. Dit was moeilik, ek was in trane toe ek in die kar moes klim en wegry, omdat ek niemand wou uitsluit nie en nie geweet het hoe om die kleintjies te laat verstaan dat ek nie almal kon help nie..”

Jacobs moes basiese probleme soos remme, kettings, ratte en bande regmaak aan die fietsies. Hy het ook twee fietsloodse gemaak waar die kinders hul fietse voortaan kan stoor.

“Ek wil graag meer doen, en kyk of ek eerder nuwe fietsies kan koop, eerder as om ʼn stokou fiets reg te maak. Ek wil ʼn spesiale fonds stig om dit te doen en om dan daardie fietse in stand te hou,” het hy gesê.

Jacobs het verlede week reeds vier nuwe fietse na die kinderhuis gevat saam met die fietsloodse wat hy gemaak het. “Ek dink nie ʼn kind kan grootword sonder ʼn fiets nie, dit is deel van ʼn mens se kinderjare. Elke kind verdien ʼn fiets. En daar is so baie behoeftige kinders in so baie kinderhuise behalwe hierdie een wat in dieselfde bootjie is. Ek wens ek kon almal help…”

Indien jy vir Christoff wil help, kontak hom gerus by [email protected].

Hierdie storie word met vergunning van www.maroelamedia.co.za geplaas.