Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie word vanjaar van 22 tot 26 Oktober vir die agtste keer in die Atterbury Teater aangebied. Ons hoor wat om te verwag by organiseerder Marichen Kapp, en gesels ook met die heel eerste wenner van die kompetisie, Willem de Beer, wat onlangs na Amerika vertrek het vir verdere studies vir sy tweede Meestersgraad.

Hoe lyk die program vir die kompetisie?
Die kompetisie skop Maandag 22 Oktober af, met rondte een en twee op Maandag en Dinsdag. Agtien semifinaliste dring dan deur na rondte drie wat Donderdag plaasvind; en Vrydagaand 26 Oktober, ding die nege  finaliste mee om die algehele wenner aan te wys.  Al die uitdundae is oop vir die publiek om gratis te kom kyk; en kaartjies is vir Vrydagaand se galavertoning te koop by die teater of by Computicket.

Wat is die prysgeld?
Daar is vanjaar amper R115 000 se kontantpryse, insluitende R40 000 vir die algehele wenner, R20 000 vir die naaswenner, met ouderdomskategorie pryse, genrepryse en pryse vir die afrigter-onderwysers van die wenners. Maar die grootste prys is sekerlik die blootstelling wat die jong pianis kry om in wêreldklas-fasiliteite op te tree en hul toegewydheid te meet teen hul eweknieë.

En hoe lyk vanjaar se deelnemers?
Ons het vanjaar 41 inskrywings, en dis wonderlik om te sien hoe die kompetisie oor die jare gegroei het om jong deelnemers van heinde en ver in te sluit – selfs so ver as Stellenbosch. Soos gewoonlik het ons drie ouderdomskategorieë – 12 en onder, 15 en onder en 19 en onder. Ons jongste deelnemer vanjaar is maar net sewe jaar oud – haar naam is Annabel Shen en sy is van Midrand. Daar is ook twee sussies van Irene in Pretoria, Lara en Nika Meiring. Die vroulike geslag is meer verteenwoordig met 25 meisies teenoor 16 seuns wat deelneem. Die gehalte van die inskrywings was baie hoog en ons sien uit na ‘n uitstekende kompetisie vanjaar.

Die heel eerste algehele wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie sewe jaar gelede, Willem de Beer, vertel ons meer oor sy ervaring.

Willem, hoe oud was jy destyds toe jy gewen het; en waar was jy op skool?
Ek was 19 en reeds besig met my eerste jaar van BMus by Tukkies.

Wat het die prys vir vir jou beteken?
Die jaar toe ek gewen het, het mnr Bennie Dekker ’n Dietmann klavier geskenk, bo en behalwe die kompetisie se prysgeld. Die geld was wonderlik, maar op daardie stadium het ek nie ’n klavier gehad nie, so dit was ’n geskenk van Bo! Die klavier staan in my ouers se huis en ek oefen daarop as ek in die omtrek is.

En dis nie aldag nie – ons verstaan vandag swot jy in Amerika? Vertel ons meer!
Ek swot inderdaad in Amerika. Ek is met ’n tweede Meestersgraad besig in Uitvoerende Kuns by die Butler Musiekskool aan die Universiteit van Texas in Austin. Ek het onlangs eers begin, maar gaan vir die volgende twee jaar met hierdie graad besig wees.

Het jy ooit gedink die wêreld sal jou op so ‘n draai vat? Hoe het dit gebeur dat jy in Amerika is?
Ek het altyd gedroom om oorsee te swot, en die deure het keer op keer nie vir my oopgegaan nie; maar aanhouer wen! Ek het Amerika gekies, en spesifiek Butler Musiekskool, want die bekende Suid-Afrikaanse konsertpianis Professor Anton Nel gee hier klas. Ek is nou sy student en kan met trots sê dat ons Afrikaans praat tydens my lesse in die verre land!

Wat is die voordeel om daar te swot?
Daar is baie voordele. Eerstens oefen ek nou vir die eerste keer in my lewe op ’n vleuelklavier, en dit dan nogal ’n Steinway. Tweedens is my klasmaats van oor die hele wêreld afkomstig – so ’n mens leer elke dag iets nuuts van iemand om jou. Derdens is hier ongelooflike musici wat my elke dag inspireer om ’n beter musikant as gister te wees.

Wat was die grootste aanpassing wat jy moes maak?
Die grootste aanpassing op hierdie stadium is die feit dat ek nou reeds meer as ‘n maand sonder my vrou hier is, en dat sy eers oor twee maande by my aansluit.

Wat is jou plan as jy klaar geswot het? Wat is jou droom?
Ek gaan waarskynlik ’n doktorsgraad aanpak. Ek sou graag eendag vir die wêreld en sy maat wil klavier speel, maar ek sal ook graag ’n dosent met ’n paar studente wil wees, en ook ’n betrokke pa en ’n liefdevolle man vir my vrou. Vir nou fokus ek my aandag op wat voor my is; my lewenspad word in elk geval nie deur my bepaal nie.

Wanneer en hoe kan ons jou sien speel?
Ek is op 25 November weer terug in Suid-Afrika en is uiters opgewonde om Tchaikovsky se Eerste Klavierkonsert saam met die Rand Simfonie-Orkes uit te voer, onder leiding van Carel Henn. Hierdie konsert vind in die Linder Auditorium in Johannesburg plaas. Ek hoop om julle daar te sien!