’n Uitgesoekte groep van Suid-Afrika se mees belowende jong pianiste neem vanjaar deel aan die 10de Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat plaasvind vanaf 18 tot 22 Oktober in die Atterbury Teater in Pretoria. Hierdie kompetisie is in 2011 tot stand gebring deur Claudine van Breda en Dr Willie de Jager, nadat hulle ‘n leemte identifiseer het vir jong pianiste om op nasionale vlak op ‘n gelyke platform teen mekaar mee te ding. Dit is dus die enigste kompetisie van sy soort in Suid-Afrika.

Van links na regs: Heinrich Sutton – wenner van die 12 jaar en jonger kategorie Qden Blaauw – wenner van die 15 jaar en jonger kategorie en die algehele wenner 2019 Leo Huan – 2de plek algeheel en wenner van die 19 jaar en jonger kategorie Vitske van Zyl – 3de plek algeheel.

 

Die totale prysgeld ter sprake is R115 000, waarvan die kontantprys vir die algehele wenner R35 000 beloop. Die 3 kategorieë waarin pianiste deelneem is: 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Keuring vind plaas deur middel van ‘n opname, en streng reëls geld ten opsigte van die vereiste repertorium. Daar is vanjaar 23 kandidate gekeur, met deelnemers vanaf Pretoria, Johannesburg, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Wes-Kaap en selfs so ver as Namibië.

Die amptelike opening het op Maandag 18 Oktober plaasgevind. Tydens hierdie geleentheid het Qden Blaauw, die algehele wenner van 2019, ‘n kort program gelewer. Die deelnemers van 2021 is daarna aan die gehoor voorgestel.

Die kompetisie bestaan uit vier rondtes. Alle kandidate neem deel aan Rondte 1 en 2 op Dinsdag 19 en Woensdag 20 Oktober vanaf 09:00 tot 17:00. Hierna word 18 semi- finaliste aangekondig wat deurdring na Rondte 3 Donderdagmiddag vanaf 13:00. Na voltooing van hierdie rondte word die 9 finaliste uit die 3 kategorieë bekendgemaak. Die kompetisie word afgesluit met ‘n gala geleentheid Vrydagaand 22 Oktober om 19:00. Die beoordelaars vanjaar is Dr Charl du Plessis, Prof Hubert van der Spuy ( beskermheer) en Me. Claudia Strauss.

Atterbury Trust is die hoofborg van die kompetisie, maar verskeie ander borge dra daartoe by dat die kompetisie suksesvol kan bly voortbestaan. Zahn Hulme, die Uitvoerende Trustee van die Atterbury Trust, sê: “Uitsonderlike talent moet gekoester en ontwikkel word en geleenthede moet geskep word om hierdie talent optimaal te groei. Ons is bevoorreg om betrokke te wees en ‘n platform te kan bied om jong Suid-Afrikaanse musikante se uitsonderlike talent ten toon te stel. Ons wens elke jong musikant alles van die beste toe vir hierdie mylpaal tiende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Ons is baie opgewonde om weereens onvergeetlike uitvoerings van die land se mees gerekende jong pianiste te kan beleef.”

Alle rondtes is oop vir die publiek. Toegang tot die openingseremonie en die aanvanklike 3 rondtes is gratis. Kaartjies vir die finale rondte Vrydag 22 Oktober is beskikbaar by SeatMe (www.seatme.co.za 012 942 5951).

 

Qden Blaauw, die algehele wenner van 2019.

 

Mediakontakpersoon

Zahn Hulme, [email protected], 082 325 9225

Atterbury Trust: Uitvoerende Trustee

atterburytrust.org, Facebook, Instagram en Twitter

 

Vir meer inligting, of om ’n afspraak te maak vir ’n onderhoud, kontak asseblief Mahlatse Bojanyane by 083 453 6668 of e-pos [email protected].