Kapenaar Gerhard Joubert het vanjaar die eerste prys en nie minder nie as drie kategoriepryse op die Atterbury Teater se Steinwayklavier losgespeel in die tiende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie waarvan Atterbury Trust die hoofborg is. Ons het met die 19-jarige ster-pianis gesels.

Baie geluk, Gerhard! Drie kategoriepryse EN die groot prys! Het jy gedink jy staan ’n kans om te wen?

Ek het ingeskryf met die doel om meer ervaring op te doen en om die musiek met mense te deel. Natuurlik hoop ’n mens om darem iets te wen, maar die grootste fokus is om die musiek so mooi as moontlik te vertolk.

Het jy al voorheen op ’n Steinway-klavier gespeel? Het jy woorde om te vertel hoekom dié instrument so spesiaal is om op te speel?

Ek is bevoorreg om al ’n paar keer in my lewe op ’n Steinway klavier te gespeel het. Daar is twee hoofredes waarom ek dink die instrument so spesiaal is. Eerstens het dit ’n pragtige klank wat die resultaat is van amper twee eeue se ontwikkeling van hierdie baie spesiale handelsmerk. Daar is soveel ingewikkelde komponente tot ’n klavier dat dit maklik is om iewers ’n fout te maak in die vervaardiging daarvan, maar met Steinways word elke deel van die klavier met die hoogste sorg en kennis geproduseer en elke deel werk saam om die klank wat op die ou einde uitkom te onderskei van meeste ander klaviervervaardigers. Tweedens is die gevoel wat die afdruk van die klawers aan die pianis gee, werklik iets merkwaardig. Daar is tegelyk ’n vasheid en egaligheid in die gevoel van die hamers wat afgedruk word. Dit laat die pianis toe om meer te fokus op die musikale elemente van die stuk wat gespeel word as om te voel dat jy met die klavier moet worstel om iets reg te kry.

Reken jy dit het bygedra tot hoe jy die kompetisie ervaar het? Wat was vir jou die lekkerste deel van die kompetisie (behalwe om te hoor jy het gewen!)

Ja, ’n goeie klavier maak enige pianis se hart bly. Die lekkerste deel van die kompetisie was om die voorreg te hê om die verskillende wêrelde van die musiek wat ek speel met mense te deel.

Ons hoor jou ma is Liza Joubert, die einste Liza van Koos Kombuis se liedjie Lisa se Klavier. Is jou ma die rede dat jy so ’n kranige pianis is? Wat is jou eerste klavierherinnering uit jou kleindae?

My ma se invloed vorm definitief ’n groot deel van my musikale self en ek sou waarskynlik nie klavier gespeel het as dit nie vir haar was nie. Vreemd genoeg is my herinneringe van klavier redelik vaag. Ek onthou egter hoe my eerste klavieronderwyser, Alta du Preez, aan my ’n spesifieke metode van speel verduidelik het. Dit het met die regte gebruik van my gewrigte (wat baie belangrik is) te doen gehad en sy het duikbote as ’n analogie gebruik. Die duikboot-prentjie het duidelik as ’n jong seuntjie ’n groot indruk op my gemaak! Ek onthou ook hoe my ouers (voordat ek begin lesneem het) baie mooi klavier gespeel het en dat dit ’n groot indruk op my gemaak het.

Hoe oud was jy toe jy begin klavierspeel het?

Ek het eers met formele klavierlesse begin toe ek nege was.

Was dit die eerste keer dat jy aan die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie deelneem? Wat van ander musiekkompetisies – skryf jy gereeld in, en het Covid ’n uitwerking op die kompetisierooster gehad?

Ja, dit is my eerste keer. Vanaf 2018 het ek gereeld aan musiek- en klavierkompetisies deelgeneem en Covid het skielik byna twee jaar uit my kompetisierooster gegaps. Gelukkig lyk dit asof daar nou weer baie kompetisies gaan plaasvind.

Watter van jou kompetisiestukke het die hardste werk geverg, en was jy tevrede met hoe dit op die aand uitgekom het?

Ek dink Frédéric Chopin se tweede Ballade in F majeur het die hardste werk geverg omdat ek dit eers kort voor die kompetisie begin leer het. Dit het heel goed gegaan op die aand en ek was bly dat ek vry gevoel het om die stuk op my eie manier te speel en ’n mate van spontaneïteit kon skep. Om heeltemal tevrede met ’n uitvoering te wees is egter vir my ’n skaars gebeurtenis en ek kritiseer myself altyd na die tyd.

Wat was jou totale prysgeld, en wat het jy besluit om daarmee te doen?

My totale prysgeld was R46 750 en ek het besluit om dit vir nou te spaar en hopelik eendag te gebruik om my eie Steinway te koop!

Hoe lyk jou toekomsplanne?

Ek wil graag so veel as moontlik musiek leer en dit met mense deel. Ek wil dus baie konserte speel – solo asook kamermusiek en concertos met orkes. Om klavierlesse te gee is ook vir my baie pret en ek sien uit om eendag jong pianiste op te lei.

Volledige kompetisie-uitslae:

Algehele eerste plek: Gerhard Joubert

Tweede plek: Leo Huan

Derde plek: Heinrich Sutton

Beste uitvoering van ’n barok werk- Leo Huan

Beste uitvoering van ’n klassieke werk – Gerhard Joubert

Beste uitvoering van ’n romantiese werk – Heinrich Sutton

Beste uitvoering van ’n 20/21ste eeuse werk – Gerhard Joubert

Beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse werk – Leo Huan

 

Ouderdomskategoriewenners:

0/12 – Benjamin Du

0/15 – Heinrich Sutton

0/19 – Gerhard Joubert

Kontantpryse is ook toegeken aan Gerhard, Leo en Heinrich se klavieronderwysers, Prof Francois du Toit en Claudine van Breda.