Negentienjarige Kapenaar Isaac van der Merwe het vanjaar die groot prys gewen in die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Die BMus-student aan die Universiteit van Kaapstad het vandeesweek ook sy eerste studiejaar afgehandel, en vertel ons hoe hy sy musiek benader.

Baie geluk met jou prestasie – vier kategoriepryse EN die algehele eerste plek! Was dit jou eerste Atterbury Klavierkompetisie, en hoe lank het jy voorberei?
Baie dankie! Dit was inderdaad my eerste keer, en ek het baie van my repertoire al maande te vore geleer en vooraf hersien, hoewel party stukke vars was. In die weke voor die kompetisie het ek my bes gedoen om daagliks aandag te gee aan elke stuk op my program. Dit het drie, soms meer as vier ure, se daaglikse oefening geverg.

Wat dink jy is die geheim om so ’n kompetisie te wen?
Daar is nie net een faktor nie. Die mees voor-die-hand-liggende vereiste is dalk harde werk en behoorlike voorbereiding, maar daar is ’n klomp ander faktore ook, soos die vermoë om ’n onbekende klavier en akoestiek te kan evalueer en daarby aan te pas. ’n Diepgaande begrip van elke aspek van die musiek help ook, veral die harmonie en die struktuur; en dan speel jou eie prioriteite ook ’n rol – alles wat jy doen moet die uitbeelding van die musiek dien; jy moet verstaan dat jy elke noot persoonlik en betekenisvol moet maak en dat ’n goeie uitvoering noodwendig ’n intens kreatiewe proses moet wees. Dit is vir my die heel belangrikste. Jy moet ook weet hoekom jy daar is en doen wat jy doen – arrogansie kan hoorbaar wees. Vir my is die ideale “hoekom” dat ek my gehoor tot my beste vermoë wil dien.En dan natuurlik is daar ’n mate van geluk, wie anders deelneem en hoe goed hulle voorberei is, en wie die beoordelaars is. Ek was gelukkig dat Gerhard Joubert dit verlede jaar gewen het en dus nie vanjaar kon inskryf nie!

Wat het jy die meeste geniet omtrent die kompetisie en wat was die grootste uitdaging?
Die akoestiek in die Atterbury Teater was beslis vir my die grootste uitdaging – dis baie “droog”, wat die speler uigelewer laat voel, en die illusie skep dat die klank opdroog soos  dit die instrument verlaat. Ek weet dat verlede jaar se wenner, Gerhard Joubert, dit ook disoriënterend gevind het. Dit was ook uitputtend om elke dag vir vier dae in ’n ry ’n rondte te speel. Die hele ervaring was so intens dat ek sedertdien sukkel om by my oefenprogram te hou.

Hoe lank speel jy al klavier, en wat van ander instrumente?
Ek het in 2012 by Beau Soleil begin om perkussie te leer onder Frank Mallows, en het dit vir verskeie jare gedoen. In 2014 het ek onder Tessa de Groote begin met klavier en in 2015 tjello onder Maya Maille, ook by Beau Soleil, en ek het vir ’n paar jaar tjello gespeel in die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes. Ek het in 2021 klavier begin leer onder Albie van Schalkwyk – een van die heel beste goed wat ooit met my gebeur het! Vanjaar het ek by UK begin met ’n B Mus onder François du Toit.

Kom jy uit ’n musikale familie of is jy die uitsondering?
My ouer suster Lily bestudeer die fluit, ook by UK.

Van watter soort musiek hou jy – is dit meestal klassiek of luister jy ook ander style?
Ek luister eintlik nie vreeslik baie musiek nie, maar as ek dit doen, geniet ek vir Rachmaninoff besonder baie.  Ek luister spesifiek nie na opnames van stukke wat ek aan die instudeer is nie, sodat ek my eie begrip van hulle kan vorm. En as ek na ander musiek as klassiek luister, is dit gewoonlik jazz.

Hoeveel was jou totale prysgeld en het jy al besluit wat jy daarmee gaan doen?
In totaal is dit R55 000, en ek gaan byna alles daarvan belê.

En hoe lyk jou toekomsplanne – gaan die klavier ’n groot rol daarin speel?
Ek is nog nie seker nie; dis nog te gou om regtig konkrete planne te kan maak. Volgende jaar gaan ek in optrede spesialiseer en dalk komposisie as ’n ekstra vak neem. Ek sal ook aanhou om in te skryf vir kompetisies want dis ’n uitstekende manier om te groei terwyl jy ervaring opdoen en blootstelling kry.