Vanaf 17 tot 21 Oktober is dit weer tyd vir Suid-Afrika se top jong pianiste om hul talent by die Atterbury Teater te kom ten toon stel en mee te ding in die jaarlikse Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.Ons gesels met Marichen Kapp, een van die organiseerders van die kompetisie.

Wat maak Atterbury se Klavierkompetisie so spesiaal?
Daar is heelparty nasionale musiekkompetisies, maar hierdie is die enigste een wat spesifiek op pianiste gerig is. Dit gee dus die jong spelers kans om op gelyke vlak met mekaar mee te ding en in aanmerking te kom vir klavierpryse in meer kategorieë as by enige algemene musiekkompetisie. Die algehele wenner wen ‘n kontantprys van R30 000, maar daar is nog R80 000 in pryse beskikbaar vir al die ander uitblinkers om ook te wen. Dit is dus regtig ‘n wonderlike kompetisie vir klavierliefhebbers.

Hoe werk dit tipies as iemand besluit om in te skryf?
Wel, dis beslis nie ‘n blitsbesluit nie. Die student en musiekonderwyser moet minstens ’n jaar vooruit die besluit neem wanneer ’n kind aan ‘n kompetisie van so ’n kaliber wil deelneem. Dit is hoe lank dit neem vir die onderwyser om die student se repertoire vir die kompetisie vooruit te beplan, en dan die tyd en harde werk wat dit neem om die vyf werke op die vereiste vlak te kry. Regtig, dis ’n hele jaar se werk! Die laaste note van die een jaar se kompetisie is skaars koud…dan begin hulle met volgende jaar se stukke.

Hoe lank bestaan die kompetisie al?
Ons is vanjaar in ons sesde jaar. Ons het in Oktober 2011 begin, die jaar toe Atterbury Teater sy deure oopgemaak het.

Hoeveel inskrywings is daar vanjaar en wie is hierdie jong deelnemers?
Vanjaar het ons 36 deelnemers gekeur uit die aansoeke wat ons ontvang het. Baie van hulle het reeds in van die ander musiekkompetisies presteer, en 19 van hulle het in vorige jare ook aan ons kompetisie deelgeneem – so dit gaan lekker wees om te sien hoe hulle gevorder het. Daar is drie outjies, Colette du Toit, Leo Huan and Louis Nel, wat nog elke jaar sedert ons die kompetisie aanbied, deelgeneem het, so dis reeds hulle sesde keer!  Ons het drie ouderdomskategorieë – 12 jaar en jonger (waaruit verlede jaar se algehele wenner gekom het); 15 jaar en jonger en dan 19 jaar en jonger.

Waar kom vanjaar se deelnemers almal vandaan?
Die meeste van hulle kom uit Gauteng, beide Pretoria en Johannesburg. Dan is daar ook deelnemers van die Vrystaat, Oos-Kaap en Wes-Kaap.
Verlede jaar se wenner, Leo Gevisser, was maar 12, en die jongste wenner nog ooit in die kompetisie se geskiedenis. Is daar vanjaar iemand wat hom dalk kan troef?
Wel, daar is vanjaar iemand selfs jonger as Leo wat deelneem… die sesjarige Lara Meiring! So kom ons kyk!

Wanneer skop die kompetisie af?
Die openingseremonie vind op Maandag, 17 Oktober plaas by die Atterbury Teater, en dit gaan ‘n baie spesiale aand wees.  Eerste op die program is ‘n kort uitvoering deur verlede jaar se wenner, Leo Gevisser. Ons maak ook op die aand die wenners van die Stefaans Grové Nasionale komposisie-wedstryd bekend en die wenner se werk word dan uitgevoer. Al die deelnemers aan vanjaar se kompetisie word dan bekendgestel. Daar is geen toegangsgeld vir die aand nie en dit is oop vir die publiek, so almal is welkom!

Wanneer word die algehele wenner aangewys?
Die kompetisie loop vir ‘n week by die Atterbury Teater, en die publiek kan die aanvangsrondtes gratis bywoon. Die wenner word aangewys by die gala-geleentheid wat Vrydagaand, 21 Oktober plaasvind. Op die laaste aand sal die drie finaliste in elke ouderdomsgroep elk twee werke uitvoer, en nadat die beoordeelaars hul finale besluit geneem het tydens ‘n kort pouse, sal die wenners in al die kategorieë bekendgemaak word. Kaartjies vir die gala-aand is by Computicket te koop.

Die publiek is welkom by die hele week se uitvoerings by die Atterbury Teater, en behalwe vir die finale rondte is toegang gratis. Vir Vrydagaand se gala-aand is kaartjies by Computicket te koop.