Die Manna vir die Boerekonsert wat verlede Saterdag by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind het, was ‘n reusesukses wat bykans R2.5 miljoen ingesamel het in noodverligting vir Suid-Afrika se droogtegeteisterde boere. En asof die natuur die projek wou seën, het die reën uitgesak net mooi toe Laurika Rauch inval met die refrein van “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, die laaste liedjie van die konsert. “O stuur ons net ‘n bietjie reën” het nog nooit meer profeties opgeklink nie.

Die konsert was die breinkind van sanger Adam Tas, wat die middag saam met ander Afrikaanse sterre soos Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester, Pieter Koen en Jannie Moolman onder musiekleiding van Matthys Maree en orkes voor sowat 8 000 mense opgetree het. Tas, self ‘n boer, is aangegryp deur die werk van Caring Daisies, wat met behulp van borge wat trokke beskikbaar gestel het in Januarie konvooie voer na plase in die Noordkaap, Noordwes en Vrystaat gestuur het. Hy het hande geneem met Caring Daisies, en sy vriende in die musiekbedryf genader om hul dienste gratis beskikbaar te stel vir ‘n konsert ten bate van droogtehulp. Vandaar het die projek gestoomroller.

Groot borge soos Atterbury, Piet du Toit Wildbedryf, John Deere, Toyota, Pilanesberg Game Breeders, Hinterland Vleishandelaars, Wildswinkel, King Price, Media24, kykNet, RSG en meer het aan boord gekom om die veldtog wiele te gee.

Die volle opbrengs van die konsert sal deur Caring Daisies bestuur word om verligting te bring aan boere. “Behalwe die kaartjieverkope, wat in totaal ongeveer R 1 miljoen ingebring het, het die ruimhartige  donasies van individue en organisasies ons harte so warm laat klop,” sê Anria van Heerden, Uitvoerende hoof van die Caring Daisies. “Adam Tas het byvoorbeeld self ‘n verdere R50 000 geskenk, en Bakkies Botha en vriende R400 000. Pilanesberg Game Breeders het R150 000 geskenk, Piet du Toit Wildbedryf R800 000, en Duffield Game Breeders het laat weet dat hulle eerskomende Saterdag by hul veiling ‘n waardevolle split-swart rooibokram met 25-duim horings gaan opveil en die opbrengs aan Manna vir die Boere skenk. En steeds bied mense bied hulp aan; dit is wonderlik dat daar soveel meelewendheid daar buite is.”

Volgens Van Heerden het die Manna vir die Boere-veldtog uitgekring om verskeie projekte in te sluit, wat in samewerking met AGRI SA gekoördineer word om die droogtehulp effektief aan te wend. Hulle rapporteer alle nuus oor die skenkings en aanwending van die fondse op Caring Daisies se Facebookblad. “So het ons by Koedoeskop ‘n projek waar ons voer wat geskenk word, baal, van waar dit na verskeie areas in die Noordwes versprei word.  Ons het ook ‘n skenking van 600 bale voer van die Glencore-groep ontvang, en van die konsertopbrengs sal aangewend word om voer te versprei na die Vrystaat, Noordwes en Noordkaap,” sê Van Heerden. Die organisasie poog steeds om vir elke vrag wat vervoer word, borgskappe te kry sodat die geld wat ingesamel is vir voeraankope aangewend kan word. Boere wat hulp verlang, word vriendelik genooi om ‘n epos stuur aan [email protected]. EINDE

Kontantskenkings en hulp in die vorm van trokvervoer, voer en meer is steeds welkom, kontak Anria van Heerden by [email protected]. of skenk aan Caring Daisies by Rand Merchant Bank (FNB), Takkode: 222-026, rekeningnommer: 62321551906, Verwysing: Manna